Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun in hospitaal nadat pofadder hom 2 keer pik
Riaan Deetlefs kort nadat hy deur die slang gepik is. Foto: Verskaf

’n Tweejarige seun is in die hospitaal nadat ’n pofadder hom Saterdagaand op ’n plaas buite Jeffreysbaai in die Oos-Kaap twee keer gepik het.

Hoewel Riaan Deetlefs se lewe tans buite gevaar is, is daar kommer oor of sy regterarm ten volle sal herstel.

“Hulle probeer op die oomblik alles moontlik om te voorkom dat sy regterarmpie geamputeer moet word, en die dokters hou die wond dop,” sê sy pa, Harry Deetlefs.

Die slang het Riaan Saterdagaand vermoedelik op die grasperk voor sy ouerhuis aan sy pinkie en naby sy elmboog gepik.

Hoewel nie Deetlefs of sy vrou, Robyn, gesien het hoe die slang hul seun pik nie, het hy die volgende oggend die dooie slang op die grasperk opgetel waar sy honde, Lea (’n Rhodesiese rifrug) en Baby (’n kruising), met die pofadder afgereken het.

“Ons vermoed Riaan is gebyt toe hy die slang opgetel het.”

Die dooie pofadder wat Harry Deetlefs op hul grasperk aangetref het. Foto: Verskaf

Deetlefs sê hulle het Saterdag net voor skemer op die stoep rondom die vleisbraaivuur gesit toe Lea en Baby verwoed naby sy bakkie onder die motorafdak geblaf het. Hy het ondersoek ingestel, maar niks vreemds opgemerk nie.

“Ek onthou die kinders het daarna op die grasperk met die honde gespeel en ek is badkamer toe. Die volgende oomblik het my vrou daar ingebars met die kind. Sy hand was opgeswel, en ek kon letterlik sien hoe dit verder swel.”

Hulle was nog onseker oor wat die swelsel veroorsaak het, en is na die provinsiale hospitaal in Humansdorp.

Deetlefs sê hy het aanvanklik gedink sy seun het klem in die kaak omdat hy Riaan se vinger skrams met ’n hamer getref het terwyl hy aan ’n draad gewerk en die seuntjie sy hand voor hom ingedruk het.

“Die hamer het ’n paar velletjies aan sy vinger afgehaal. My eerste gedagte was dat daar dalk roes aan was en dit die swelsel veroorsaak het.”

Nadat dit duidelik was dat ’n slang Riaan gepik het, is hy van die hospitaal in Humansdorp na die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth verwys.

Terwyl Riaan en Robyn per ambulans na Port Elizabeth toe geneem is, het Deetlefs teruggekeer plaas toe om ’n paar goedjies vir Riaan in te pak.

Die weermag het hom egter op die N2, net voor Port Elizabeth, voorgekeer en hom ingevolge die regulasies van die staat van inperking toegang tot die stad geweier.

“Hulle wou my nie laat deurgaan nie. Net een ouer mag deurgery het omdat ons nie ’n permit het nie. Dit was bitter moeilik om terug te draai terwyl ek weet my seun se lewe is in gevaar.”

Riaan is in die Livingstone-hospitaal dadelik na die teater geneem. Teengif is toegedien en ’n sny is vanaf sy handpalm tot by sy elmboog gemaak.

Die honde, Lea (’n Rhodesiese rifrug) en Baby (’n kruising), wat die slang doodgebyt het. Foto: Verskaf

Volgens Deetlefs is die diep sny gemaak om dooie weefsel en bloed te verwyder en die bloedsomloop te verseker.

“Hy was in ’n stadium spierwit weens al die bloed wat hy verloor het. Die dokters het gesê hulle weet nie of hy dit gaan maak nie.”

Sondagoggend, net voordat Deetlefs by die polisiekantoor aangemeld het om ’n affidavit te bekom as permit om na Port Elizabeth te reis, het hy afgekom op die dooie pofadder op sy grasperk waar die honde dit doodgebyt het.

Nie een van die honde het ’n bytplek nie.

Deetlefs het dadelik foto’s geneem en aan die hospitaal gestuur sodat die dokters kon weet watter soort slang Riaan gepik het.

Teen Sondagaand is hulle ingelig dat die Livingstone-hospitaal se personeel alles moontlik gedoen het en dat Riaan nou na die Dora Nginza-hospitaal, waar meer gevorderde tegnologie beskikbaar is, oorgeplaas moet word. Daar was egter nie ’n bed beskikbaar nie.

Maandagoggend het Deetlefs ’n gebedsversoek vir krag en Goddelike ingryping gestuur.

“Die oggend het mense van die Kaap tot in Australië en Kanada vir ons gebid. Ek kon die Here se hand werklik sien, want binne twee uur het ’n bed vir ons seun beskikbaar geraak.”

Riaan is laat Maandagoggend na die hospitaal oorgeplaas. Hy sal Dinsdag weer teater toe gaan sodat die oortollige gif verwyder kan word en die weefsel en swelsel ondersoek kan word.

Deetlefs het net lof vir die personeel van albei hospitale.

“As jy net verby die verf wat afskilfer kan kyk, sal jy die wonderlike dokters en personeel raaksien wat die hospitale het. Daar is beslis hoop vir ons staatshospitale.

“Ek is so dankbaar vir elke deur wat vir ons oopgemaak is, alle eer aan die Here wat dit laat gebeur het. Hier is ons, sonder ’n mediese fonds, en Riaan kry die beste behandeling. Ons is dankbaar vir elkeen wat ons tot hier gehelp het.”

Meer oor:  Riaan Deetlefs  |  Pofadder
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.