Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun kritiek, PE sonder krag ná vlieër kragdraad tref

Groot dele van Port Elizabeth is Woensdagaand sonder krag gelaat nadat ’n vlieër ’n kragdraad getref het.

Die 18-jarige seun wat die vlieër gevlieg het, is in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal opgeneem.

Hy en ’n sewejarige seun het na verneem word Woensdag omstreeks 18:00 ’n vlieër naby kragdrade langs Tweedelaan in Windvogel gevlieg.

Die vlieër het aan een van die kragdrade geraak en die tienerseun geskok, sê kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder.

Dit het ’n kragonderbreking by die Ditchling-substasie veroorsaak wat minstens 16 woonbuurte sonder krag gelaat het.

Die tienerseun het ernstige brandwonde opgedoen en die kind is lig beseer. Albei is op die toneel deur paramedici behandel voordat hulle na ’n hospitaal geneem is.

Janse van Rensburg het Donderdagoggend gesê die tiener se toestand is onveranderd.

Polisievoertuie en ’n ambulans was Woensdagaand op die toneel by Tweedelaan in Windvogel, Port Elizabeth, waar twee seuns geskok is toe hul vlieër aan ’n kragdraad geraak het. Foto: Verskaf

Die kragtoevoer is deur die loop van die aand herstel.

Die Nelson Mandelabaai-metro het al voorheen sy kommer oor die gebruik van vlieërs naby kragdrade uitgespreek.

Amptenare verwyder tot tien vlieërs per dag van kragdrade.

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, sê die situasie is ’n ernstige probleem vir die metro en dit hou ook ’n groot risiko vir kinders in.

Kinders word veral langs die paaie in Port Elizabeth se noordelike voorstede gesien speel met hul tuisgemaakte vlieërs. Foto: Son

In Mei 2020 is vlieërs wat deur kinders gevlieg is die skuld gegee vir verskeie kragonderbrekings wat binne een week in veral die noordelike voorstede voorgekom het.

Die metro het toe gesê kinders speel onder die kragdrade met hul vlieërs en kyk wie se vlieër se stert die grootste vonke kan veroorsaak wanneer dit aan die kragdrade raak.

Mniki sê dié probleem kom al die afgelope drie jaar voor en die metro sal in samewerking met raadslede opnuut hul veldtog verskerp om te waarsku teen die gevare hiervan.

Meer oor:  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Port Elizabeth  |  Tref
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.