Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun sterk aan ná spoegkobra hom pik
Jake Taylor in die hospitaal nadat die slang hom gepik het.

’n Twaalfjarige seun wat deur ’n Mosambiekse spoegkobra in die skouerblad gepik is, is volgens sy ma besig om goed aan te sterk en het selfs die dooie slang in ’n bottel bewaar om mee te spog.

Jake Taylor (12) was volgens sy ma Leila besig om saam met vriende by ’n oord in die noorde van KwaZulu-Natal vakansie te hou toe hy Vrydag tussen 04:30 en 05:00 van “pyn in sy skouer” wakker geword het.

Hy het besef die spoegkobra (Naja mossambica) wat as een van die gevaarlikste slange in Afrika beskou word, het hom in sy slaap aangeval.

Jake is gelukkig net een keer gepik en kon die slang uit sy bed skop. Die slang is in sy kamer doodgemaak, waarna sy vriende se familie hom na die hospitaal gehaas het.

“Toe Jake sy oë oopmaak, het hy die slang op sy hand gesien. Sy instink het gelukkig dadelik gewerk en hy kon dit uit sy bed gooi en daarvan af wegkom,” het Leila Maandag gesê.

“Jake se vriende se ouers het dadelik ’n ambulans met ’n slangkenner aan boord ontbied en hulle langs die pad gekry,” sê Leila.

Hy het omstreeks 05:45 by die Ngwelezana-hospitaal in Empangeni aangekom en is daar behandel, hoewel die dokters besluit het om hom nie teengif te gee nie. Hy is die volgende dag ontslaan.

Jake verduur steeds erge pyn en die bytwond word nog behandel. “Jake is op sy skouerblad gepik, maar toe hy tuis kom, kon hy nie eens self by die trappe oploop nie en het geskree van die pyn. Dit lyk gelukkig of dit nou baie beter met hom gaan,” sê Leila.

Die bytwond op Jake Taylor se skouerblad waar ’n Mosambiekse spoegkobra hom gepik het.
Die Mosambiekse spoegkobra wat Jake Taylor gepik het.
’n Mosambiekse spoegkobra soortgelyk aan die een wat Jake Taylor gepik het. Foto: Johan Marais

Leila sê Jake het vermoedelik net ’n baie klein hoeveelheid gif ingekry, so sy hoop dat hy dus vinnig sal kan herstel.

“Hy is ’n groot Bear Grylls- en Survivor-entoesias en het glad nie toegelaat dat die voorval hom afsit nie. Hy het selfs die slang in ’n bottel gehou om daarmee by sy vriende te spog.”

Volgens die slangkenner Johan Marais is die Mosambiekse spoegkobra elke jaar vir tot 7 000 aanvalle in Suider-Afrika verantwoordelik, maar sy byt ly selde tot sterftes.

“Die gepaardgaande nekrose en weefselskade kan egter baie ernstig wees, so dit is vir my nogal vreemd dat daar besluit is om nie teengif toe te dien nie,” sê Marais.

Die gif is sitotoksies en tas weefsel aan.

Volgens hom kan teengif in baie gevalle help om weefselskade te verminder, maar dit neem gewoonlik omtrent ’n week voordat ’n mens regtig sal weet hoe ernstig die skade is.

“Hierdie tipe slange is verreweg verantwoordelik vir die meeste aanvalle in Suid-Afrika en ongelukkig weet ’n mens nooit vooraf na watter kant dinge sal swaai nie,” sê Marais.

“Ongelukkig gebeur dit baie dikwels dat dié slange in mense se beddens inkruip en hulle pik terwyl hulle slaap. Slange val mense nie sommer aan nie, so dit is ’n vreemde tipe gedrag – maar ons vermoed die Mosambiekse spoegkobras kruip in mense se beddens in op soek na kos.”

Volgens Marais hanteer die Empangeni-hospitaal, wat in slangbyte spesialiseer, alleen sowat 400 pasiënte wat deur Mosambiekse spoegkobras gepik is.

Dié tipe slange kom in veral KwaZulu-Natal, maar ook Mpumalanga, Noordwes, Limpopo en gedeeltes van Mosambiek en Swaziland voor. Hulle kan ook in Gauteng in dele van Pretoria-Noord gevind word, maar suid van Johannesburg is dit meestal “rinkhalswêreld,” sê Marais.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.