Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seun verlam ná jaagduiwel hom van fiets stamp

Waarskuwing: Hierdie berig bevat ’n foto wat sensitiewe lesers kan ontstel.

’n Voertuig het ’n seun van Worcester teen ’n hoë snelheid van sy fiets afgestamp, waarna ’n tweede voertuig volgens ’n ooggetuie oor hom gery het.

Zhane Benn (18), ’n gr. 10-leerling aan die Esselenpark Senior Sekondêre Skool, was ná die voorval op 28 Maart vanjaar anderhalf week in ’n koma. Sedertdien is hy van sy middellyf af ondertoe verlam.

Zhane Benn (18) voor die ongeluk. Foto: Verskaf

Sy ma, Chantal Cupido, sê haar kind se drome “is in ’n oogwink verpletter”. Hy was glo van plan om eendag ’n sjef te word.

Zhane is nou van ander mense afhanklik; hy kan niks vir homself doen nie. Hy kan nie sy arms behoorlik lig of iets vashou nie.

Shanitha Pietersen (24), een van sy susters wat help om na hom om te sien, sê Zhane “kan nie eens ’n sin behoorlik voltooi nie”.

Zhane Benn in die hospitaal. Foto: Verskaf

Cupido sê sy en haar man was op 28 Maart by die huis toe Zhane op sy fiets met haar tablet weg is.

“Dit het laat geword en ek het my man gevra om Zhane te vra waar hy is. My man het vir hom ’n boodskap op Facebook Messenger gestuur, maar hy het nie geantwoord nie.”

Toe hy teen middernag nog nie tuis was nie, was sy rasend van kommer. “Ek het nie geweet dat my kind in daardie stadium om sy lewe veg nie.”

Die polisie het omstreeks 02:00 met die tablet by hul huis opgedaag.

Zhane Benn op die aand van die ongeluk. Foto: Verskaf

Cupido se eerste vraag was: “Waar is my kind?”

Die polisie het hulle van die ongeluk vertel en gesê “dit lyk nie goed nie”.

Cupido en haar man is dadelik saam met die polisie na die hospitaal.

“Dit het gevoel asof ek gaan flou word,” sê sy. “Ek het dadelik begin bid en die Here gevra om my kind deur te dra. Die bene in sy hele gesig is gebreek.”

Zhane Benn (18) en sy ma, Chantal Cupido, in hul Wendyhuis. Foto: Nadine Theron/ENuus
Zhane Benn (18) het die gebruik van sy bene verloor en sukkel ook om sy arms te gebruik. Hy is van sy familie afhanklik om alles vir hom te doen. Foto: Nadine Theron/ENuus

Zane is op 26 April uit die hospitaal ontslaan.

Cupido sê die Wendyhuis waarin sy saam met haar man, hul sewe kinders en twee kleinkinders bly, is nie geskik vir Zhane nie.

“Ons het nie eens ’n spoeltoilet nie en as dit reën, sypel die water deur en maak ons vloer nat,” sê sy. “Ek bid met my hele hart dat ons eendag ’n hele baksteenhuis kan bou, veral om behoorlik na Zhane te kan omsien. Ons het die sitkamer nou in sy kamer verander.”

Volgens Pietersen kan sy sien dat Zhane soms gefrustreerd raak, “veral omdat hy ’n baie aktiewe kind was”.

Die familie het nie ’n spoeltoilet nie. Foto: Nadine Theron/ENuus

Cupido is dankbaar dat haar kind lewe. “Ek is net dankbaar dat ek nie langs ’n oop graf hoef te gaan staan het nie.”

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n saak van nalatige en roekelose bestuur.

Luidens berigte het ’n Volkswagen Zhane in Le Seurstraat getref, waarna die bestuurder weggejaag het.

Van Wyk kon nie bevestig dat daar ’n tweede voertuig was nie.

Meer oor:  Seun  |  Fiets  |  Verlam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.