Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seuns lê roerende belofte af teen geslagsgeweld

Ons sal die mans wees na wie vroue hardloop; nie die mans van wie hulle weghardloop nie.

Dié kragtige woorde van ’n kunsonderwyser in Gauteng oor sy skool se interkom het ’n groep seuns so aangegryp dat hulle spontaan na vore gekom het om ook dié belofte af te lê.

Seuns van gr. 8 tot gr. 11 het bymekaargekom om die video te maak. Dit was hul eie idee om dit te verfilm.Foto: YouTube.

Die seuns is leerlinge aan ­Bracken High School in Alberton. ’n Video waar hulle dié belofte van mans aan vroue voordra, het vroeër vandeesmaand op Facebook versprei en hartroerende reaksies ontlok.

Wayne Tewson (34), ontwerp- en kunsonderwyser by dié skool, het die belofte geskryf. Verskeie gruwelmisdade die laaste tyd, soos die Dros-verkragting in Pretoria en die verkragting van en moord op die Ikey-student Uyinene Mrwetyana in ’n poskantoor in Kaapstad, het hom tot optrede aangespoor.

Tewson se ma, Karen, is die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se nasionale koördineerder van Ke Bona Lesedi, die NVG se program om kinders voor te berei op hofgetuienis. Sy is tans betrokke by die Dros-saak.

Tewson sê danksy sy ma het hy bewus geword van al die seer en lyding weens geweld teen vroue en kinders. Hy het self twee seuns, onderskeidelik een en vier jaar oud.

Wayne Tewson

“Ek het met Tony Jordaan, ons hoof, gaan praat en gesê ek wil graag met die skool praat. Hy het die plan dadelik ondersteun,” sê Tewson.

Tewson het toe die belofte oor die interkom voorgelees. Hy het ook gesê as daar seuns is wat ook die belofte wil aflê, kan hulle hom nader.

“Toe begin hulle instroom. Van gr. 8’s tot gr. 11’s. (Die matrieks was besig met eksamen.) Van kultuurkinders tot stoutes – almal deurmekaar. Die seuns het voorgestel ons moet dit verfilm.”

Tewson sê van die seuns het aangebied om die video te redigeer en sy vrou, Taryn, ’n Engels-onderwyser, het betrokke geraak.

“Hulle het drie dae lank geoefen en die belofte uit hul kop geleer.”

Nie al die seuns kon die verfilming bywoon nie omdat dit tydens eksamentyd was. Foto: YouTube

Dit lui onder meer: “Ons sal alle vroue met respek behandel; hulle beskerm asof hulle ons ma’s, vroue en dogters is. Ons sal alle kinders beskerm asof hulle ons broers en susters is. Dit is ons belofte. Kwaad gedy wanneer goeie mans niks doen nie. Ons karakter sal ons skild en swaard wees wat ons gebruik om Afrika te verander.”

Volgens Tewson moet goeie gewoontes van jongs af aangeleer word.

“Ek glo vas dinge word nie verander deur haat en woede nie.”

Tewson sê die skool oorweeg dit om jaarliks alle nuwe gr. 8-seuns die belofte te laat aflê. Daar is ook sprake van ’n belofte vir skoolmeisies en vroue.

Meer oor:  Alberton  |  Video  |  Teen  |  Facebook  |  Seuns  |  Onderwyser  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.