Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seuns vrees rugby ná pa se dood

Twee seuntjies het ’n vrees vir rugby ontwikkel nadat hul pa op die veld beseer en later in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria dood is.

Marie en Jokkie van Vuuren by Marie se seuns, Damian (links) en Daniel. Foto: Deon Raath

Toe Zac de Lange (33) so stil op die rugbyveld lê, het sy jongste seuntjie, Damian, uitgeroep: “Pappa is dood!”

Damian (7) en sy boetie, Daniel (10), is steeds getraumatiseer oor hul pa se dood in September 2015.

Hul ma, Marie van Vuuren (34), eis R1,9 miljoen van die Gautengse gesondheidsdepartement omdat De Lange nie meer sy gesin kan onderhou nie.

Die Pretoriase hooggeregshof het nou bevind die departement is 100% aanspreeklik vir Van Vuuren en haar kinders se skade.

Dit omdat die Steve Biko-hospitaal nalatig was toe hulle De Lange nie gehelp het om behoorlik asem te haal ná die besering aan sy rugstring nie. Hy het longontsteking opgedoen, wat sy reeds swak asemhaling verder ondermyn het.

Volgens ’n regsmediese verslag is hy dood weens ’n suurstoftekort. Hy het al hoe swakker asemgehaal en kon nie meer hoes nie. “Tog is daar niks hieraan gedoen nie.”

Van Vuuren is ná De Lange se dood met sy beste vriend, Jokkie van Vuuren, getroud.

Haar prokureur, Jean-Paul Rudd van die regsfirma Adams & Adams, sê omdat Van Vuuren weer getroud is, sal haar eie eis vir die verlies aan onderhoud kleiner wees as voorheen.

Maar sy is meer bekommerd oor haar kinders se emosionele welstand.

Sy het aan Rapport gesê sy kan nie foto’s van haar vorige man in die huis uitstal nie, want dit maak die seuntjies baie hartseer. De Lange was ’n verkoopsman van elektroniese toerusting. “Hy was goed daarin, want hy was ’n charmer,” sê sy.

Voor sy dood het hy ’n nuwe werk begin as sweiser.

“Maar rugby was sy lewe,” sê Van Vuuren. Hy het altyd as vleuel gewone rugby vir ’n klub gespeel, maar was lus om die Vrydagaand van 18 September 2015 ’n plaasvervanger te wees in ’n Australiese voetbalwedstryd. (Aussie rules). Sy gesin was op die paviljoen.

De Lange was net tien minute op die veld vir die Silverbacks-rugbyligaklub toe ’n speler van die Predators se knie hom teen die slaap tref.

Van Vuuren sê De Lange het op sy gesig gelê. Sy het Damian op haar heup getel en op die veld gehardloop.

“Hy was bewusteloos en dan weer by. In and out. Wanneer hy by was, het hy geroggel. Hy was naar, maar daar het niks uitgekom nie,” sê Van Vuuren.

“Hy het ook baie koud gekry en die gras was nat. Zac het ongelooflik baie pyn gehad.”

In die hospitaal het die personeel aan haar gesê: “Sy nek is af.” Sy sê ’n dokter het gesê: “Hy sal nie doodgaan nie. Moenie worry nie. Hy is in goeie hande.” Drie dae later is hy dood.

Van Vuuren sê die mat was onder haar voete uitgepluk. “Ek is deur hel ná sy dood. Ek moes na twee kinders kyk en ek het nie ’n werk gehad nie.”

Nou wil sy hê haar seuns moet ’n beter lewe hê met die geld wat die departement uiteindelik vir hulle sal moet uitbetaal.

Van Vuuren sê wanneer ’n rugbyspeler seerkry, sal Damian vra: “Is daai ou ook dood? Is daai ou se nek ook gebreek?”

Uit rugbygeledere is daar destyds geld geskenk vir De Lange se roudiens en verassing. Sy en Jokkie, wat hom van laerskooldae af geken het, het daarna aan mekaar geheg geraak.

Meer oor:  Skadevergoeding  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.