Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seuntjie geopereer ná kameelperd hom trap
06 September 2018

Die driejarige seuntjie wat Maandag deur ’n kameelperdkoei op ’n luukse wildlandgoed in Limpopo getrap is, moes geopereer word om die drukking op sy brein te verlig.

Finn Williams (3) by sy pa, dr. Sam Williams, en sy ma, dr. Katy Williams. Foto: Verskaf

Finn Williams veg om sy lewe in die Busamed Modderfontein-hospitaal in Johannesburg.

Dr. Katy Williams (35), sy Amerikaanse ma, het veelvuldige ernstige beserings opgedoen en is in ’n bedenklike toestand in dieselfde hospitaal.

Dr. Sam Williams (36), ’n Britse burger, waak sedert Maandagaand by sy vrou en seuntjie in die hospitaal.

Die ma en seuntjie is deur die kameelperd getrap op die Blyde Wildlife Estate, sowat 15 km buite Hoedspruit.

Verskeie wildsoorte loop vrylik rond tussen die huise en ontspanningsgebiede op die landgoed.

Die Williams-egpaar is postdoktorale navorsingsgenote in natuurbewaring. Hulle woon reeds ’n geruime tyd in Suid-Afrika.

Marina Botha, die gesin se prokureur, sê Finn en sy ma het Maandag omstreeks 18:00 sowat 150 m van hul huis op Sam, wat gaan draf het, gewag.

’n Kameelperdkoei en haar twee maande oue kalfie was naby die huis.

Finn Williams (3) by sy ouers, Katy en Sam. Finn en Katy is deur 'n kameelperd buite Hoedspruit getrap. Foto: Verskaf
Een van die kameelperde op die Blyde Wildlife Estate buite Hoedspruit. Foto: Verskaf

“Die gesin het groot respek vir die wildlewe,” sê Botha.

Riaan Cilliers, bestuurder van die Blyde Wildlife Estate, sê die kameelperdkoei se gedrag is waarskynlik beïnvloed omdat sy ’n jong kalf by haar gehad het.

Botha sê Sam het ná sy drafsessie op die kameelperdkoei afgekom wat sy vrou en seun getrap het.

“Hy kon daarin slaag om die kameelperd te verjaag.” Hy het hulp ontbied en die Hoedspruit Medical Rescue-nooddiens is na die toneel.

Dr. Katy Williams en haar man, dr. Sam Williams, by hul seuntjie, Finn (3). Foto: Verskaf

Botha sê dr. Victor Loftie-Eaton, wat lank as trauma-dokter gespesialiseer het en onlangs ’n praktyk in Hoedspruit oopgemaak het, is ook ontbied.

“Dit is net genade dat hy en die nooddienswerkers so wonderlik saamgewerk het om Finn en Katy aan die lewe te hou,” sê Botha.

Katy en Finn is per ambulans na ’n vliegveld buite Hoedspruit gehaas waar daar op ER24 se helikopters gewag is.

Finn is in die eerste noodhelikopter Johannesburg toe geneem en Katy kort daarna in die tweede helikopter.

“Ons is almal baie geskok oor die hartseer voorval,” sê Cilliers. Hy het saam met Sam in sy motor Johannesburg toe gejaag.

Sam sê hy vermoed wat gebeur het, is dat die kameelperdkoei waarskynlik sy vrou en seun as ’n bedreiging vir haar kalf beskou het.

Cilliers sê ’n proses is begin om die kameelperdkoei en haar kalf na ’n ander wildplaas te verskuif. Die diere sal nie van kant gemaak word nie.

Pieter Papsdorf van Hoedspruit Medical Rescue en Loftie-Eaton wil nie self oor die voorval praat nie en het met die gesin ooreengekom dat Botha alle navrae sal hanteer.

Meer oor:  Dr. Sam Williams  |  Dr. Katy Williams  |  Finn Williams  |  Limpopo  |  Kameelperd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.