Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Seuntjie nog bewusteloos nadat kameelperd hom trap

Die seuntjie wat verlede week saam met sy ma deur ’n kameelperdkoei getrap is, het nog nie sy bewussyn herwin nie.

Finn Williams (3), ’n kameelperdkoei het hom getrap.

Finn Williams (3) is steeds in ’n bedenklike, maar bestendige toestand in die Busamed Modderfontein-hospitaal in Johannesburg. Hy het verlede Maandagaand ’n breinoperasie ondergaan om die drukking op sy brein te verlig.

Sy ma, dr. Katy Williams (35), wat ook ernstige veelvuldige beserings opgedoen het, het haar bewussyn herwin.

Dr. Sam Williams (36), haar man, sê dit was vir hom “wonderlik toe Katy wakker geword het”.

Sy kan egter nog nie praat nie en haar familie kommunikeer met haar deur gebaretaal. “Ek hoop Finn word ook gou wakker sodat ons as ’n gesin herenig kan word,” sê Sam.

Marina Botha, die familie se woordvoerder, sê Katy se pa, Jack Standish, en haar broer, David, het uit Amerika in Suid-Afrika aangekom om die gesin te ondersteun.

“Daar is niks erger vir ’n ouer as om so ver van familie te wees in so ’n tyd nie. Dit is van die ergste nagmerries wat enige ouer kan tref,” het Standish gesê.

Volgens hom kon hy in sy dogter se oë sien sy is bly om hom, haar broer en Sam te sien, maar hy kon ook in haar oë sien sy is bekommerd oor Finn. “Ek weet dit gaan ’n lang herstelpad vir hulle wees en ek sal hier wees vir elke tree.”

Standish sê hy is beïndruk met die mediese behandeling wat Katy en Finn in die hospitaal kry.

’n Kameelperdkoei het hulle verlede Maandagmiddag op die Blyde Wildlife Estate naby Hoedspruit getrap. Wild loop vryelik in die luukse landgoed tussen die huise rond.

Dit is van die ergste nagmerries wat enige ouer kan tref.
Dr. Katy Williams en haar seuntjie, Finn (3).

Die kameelperdkoei het ’n twee maande oue kalf.

Riaan Cilliers, bestuurder van die Blyde Wildlife Estate, sê die feit dat die koei ’n jong kalf by haar gehad het, het waarskynlik aanleiding gegee tot die voorval.

Die landgoed gaan die koei en haar kalf na ’n ander wildplaas in die omgewing verskuif.

Die Williams-egpaar is navorsingsgenote in natuurbewaring. Hulle woon reeds geruime tyd in Suid-Afrika. Sam is ’n Britse burger en Katy is ’n Amerikaner.

“Hulle is só lief vir die natuur en wy hul lewe daaraan. Wat gebeur het, is ’n absolute tragedie,” sê Botha.

’n Wildbewaarder wat nie genoem wil word nie, sê ’n kameelperd sal in so ’n geval met die voorpote trap en met die agterpote skop. “Hul pote is so groot soos ’n vel A4-papier en die krag waarmee hulle trap en skop is geweldig.”

Meer oor:  Katy Williams  |  Finn Williams  |  Ongeluk  |  Kameelperd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.