Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sewejarige red sy oupagrootjie se lewe

Toe sy oupagrootjie van sy bed af val en doodstil daar bly lê, het ’n sewejarige seun van Drie Riviere geweet hy moet dringend hulp kry.

Tiaan van Rooyen (7) het sy oupagrootjie, Corrie van Rooyen, se lewe met ’n selfoonoproep gered. Nou kyk hulle elke dag na mekaar. Foto: Elizabeth Sejake

Tiaan van Rooyen het sy oumagrootjie, Lena, in die kombuis gaan roep, maar dié het gedog hy wil net kom pla en sy het hom verwilder.

Klein Tiaan het hom nie laat onderkry nie. Hy het sy oupagrootjie, Corrie van Rooyen (81), se selfoon gevat en ER24 se beheerkamer gebel.

Iemand in die beheerkamer wat die Van Rooyens toevallig ken, het toe vir Lena (81) gebel. “Wie is Tiaan wat ons gebel het? En waar is Corrie?” wou hulle by haar weet.

Net toe hou die ambulans by die huis stil.

Dit blyk toe later Corrie het ’n ligte beroerte gehad en danksy klein Tiaan se noodroep was hy gou by die hospitaal. Hy is nou weer op die been.

Tiaan bly smiddae ná skool by sy grootjies terwyl sy ouers werk.

Corrie self kan niks van die drama onthou nie. “Ek was daardie dag moeg en uitgeput en ek het aan die slaap geraak. Dit was vir my ’n groot verrassing toe ek in ’n hospitaal wakker word.”

Terwyl oupagrootjie gaan lê het, het oumagrootjie koekies gebak. Tiaan was die middag vreeslik lastig en Lena het later ongeduldig geraak.

“Hy het kort-kort vir my kom vra wanneer is die koekies klaar. Dit het my lekker vies gemaak.”

Toe Tiaan vir Corrie op die grond aantref, is hy kombuis toe om vir Lena te roep. Maar toe hy vir die soveelste keer daar instorm, was die gort gaar.

“Ek sê mos vir jou die koekies is nie klaar nie,” het sy geraas en hom daar uitgeboender. Sy wou niks verder van hom weet nie.

Dis toe dat Tiaan besluit om dan maar self te bel. Benewens ER24 het hy ook sy ouers en ander familielede gebel. Toe sy pa, Corné van Rooyen, nie sy selfoon antwoord nie, het Tiaan hom by die werk op sy landlyn gebel.

Gelukkig het ER24 Lena in die hande gekry. Sy sê sy het haar doodgeskrik toe sy besef wat aangaan.

“Daai seuntjie is ons held,” sê sy.

Tiaan sê hy wil eendag ’n dokter word sodat hy nog mense kan help. “Maar ek wil preek ook,” sê hy.

Deesdae sê die mense nie meer Corrie pas ná skool vir Tiaan op nie. “Ons kyk nou altwee na mekaar,” sê Tiaan.

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  Redding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.