Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sewejariges sterf nadat ambulans hulle tref

Twee ouerpare van Sonderwater by Bloemfontein is in rou gedompel ná die dood van hul sewejarige dogtertjies.

’n Ambulans van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein het die kinders raakgery.

Die twee oumas en boetie van wyle Mphoe Mareka (7). Hulle is Alice Mareka en Ernestina Mokoma en die boetie is Kamohelo Mareka. Foto: Marietjie Gericke

Sebongile Thomas (7) en Mphoe Mareka (7) was verlede Woensdagmiddag van die skool af op pad huis toe toe die ambulans hulle getref het.

Andries Mokhali (34), Sebongile se pa, sê twee ambulanse, ’n reaksievoertuig van die Pelonomi-hospitaal en die polisie het mense wat in ’n motorongeluk op die Dewetsdorppad beseer is, gaan haal. Hulle het verby die kinders gery toe die ongeluk gebeur.

Die kinders is ná die ongeluk met een van die ambulanse na die Pelonomi-hospitaal gebring, waar hulle gesterf het.

Hul lykies is nou in die staatslykhuis van dié hospitaal.

Mokhali sê die ongeluk het Woensdag omstreeks 16:15 op Highway, sowat ’n kilometer verby die Pelonomi-hospitaal van Bloemfontein se kant af en nie te ver van hul huise af nie, gebeur.

“Die polisie het net gekom en ons die saaknommer gegee en gesê die ambulans het ons kinders op Highway raakgery,” sê hy.

“Die lykhuis wag nou vir ons om verdere opdragte te gee oor wat met die lykies moet gebeur. Maar ons het nie eens geld om die kinders te begrawe nie,” sê Mokhali.

Mokhali sê sy vrou, Maria Thomas, was juis Maandag by die lykhuis om te hoor wat hulle nou te doen staan.

Mokhali sê die kinders het nog geleef toe hulle na die hospitaal gebring is.

“Ons hoor dit was ’n vrou wat die ambulans bestuur het en dat sy van Dewetsdorp se kant af na die Pelonomi-hospitaal gekom het. Sy het glo nie die sirene van die ambulans aangehad nie.

“Ons hoor sy sê sy het net 60 km per uur gery, maar die ander mense sê dit moes vinniger gewees het, anders sou die kinders nie doodgegaan het nie.”

Mokhali sê hy en sy vrou het nou net een kind, Pohelo Thomas (5), oor.

Andries Mokhali (34) by die plakkershut waarin hy en sy gesin bly met sy oorlede dogtertjie, Sebongile Thomas (7), se foto van toe sy nog ’n baba was. Foto: Marietjie Gericke

Hulle weet nog nie wanneer hulle Sebongile gaan begrawe nie.

By ’n ander plakkershut nie ver daarvandaan nie is twee oumas ook bitter hartseer. “Ons was albei Mphoe se oumas. Haar ma is Makamohele Mareka en haar pa is Mohau Mokoma,” sê Alice Mareka en Ernestina Mokoma.

Net haar boetie, Kamohelo Mokoma (3), is nou oor.

“Sy was ’n wonderlike, flukse kind,” sê hulle.

Albei meisies was gr. 2-leerlinge aan die Mabeoane-skool, sê die oumas.

* Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê dr. David Motau, hoof van die departement, het sy skok oor die voorval uitgespreek.

“Hy het gevra ’n volledige ondersoek moet na die gebeure ingestel word en dat die nodige korrektiewe tugstappe gedoen sal word.

“Berading sal vir die families aangebied word. Daar sal oor verdere bystand besluit word sodra ten volle met die families oor die saak gepraat is,” sê Mvambi.

* Brig. Motantsi Makhele van die Vrystaatse polisiediens het die ongeluk bevestig.

Hy sê ’n saak van roekelose en nalatige bestuur is aanvanklik teen die bestuurder ondersoek, maar nadat die kinders Vrydag dood is, is die saak na strafbare manslag verander.

“ ’n Waarskuwende verklaring is van die bestuurder van die ambulans afgeneem. Sy word nie aangehou nie. Die lêer met al die dokumente word nou na die departement van openbare vervolging gestuur vir ’n beslissing of sy vervolg moet word,” sê Makhele.

Andries Mokhali (34) wys die Highway-pad waar sy dogtertjie, Sebongile Thomas (7), saam met haar skoolmaatjie, Mphoe Mareka, deur ’n ambulans raakgery is. Foto: Marietjie Gericke
Meer oor:  Bloemfontein  |  Raakgery  |  Dood  |  Ambulans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.