Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Sexy’ foto’s vir lees-veldtog laat Twitter rooi sien
Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys. Foto: Twitter/ @ElijahMhlanga

Foto’s van skraps geklede mense is onvanpas in ’n veldtog om mense aan te moedig om te lees, meen Twitter-gebruikers.

Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het om verskoning gevra nadat hy die naweek op sosiale media berispe is oor die foto’s wat hy vir die departement se Read to Lead-veldtog gebruik het.

Mhlanga het sosialemediagebruikers aangemoedig om meer te lees, maar die foto’s wat hy gebruik het, het sommige Twitter-gebruikers warm onder die kraag gehad.

Hy het foto’s van mense wat skraps geklee is op Twitter gedeel en gebruikers aangemoedig om alles waarmee hulle besig is te los sodat hulle kan lees.

Twitter-gebruikers het hom oor die vingers getik en gesê hulle is geskok dat hy sulke foto’s gebruik om lees te bevorder. Sommige wou ook weet of foto’s van skraps geklede vroue wat hulle as sekssimbole uitbeeld, gepas is in Vrouemaand. Ander wou weet hoekom hy nie bloot foto’s van kinders in ’n klaskamer gebruik het nie.

Mhlanga sê in ’n verklaring hy het Saterdag ’n reeks twiets gestuur om die departement se Read to Lead-veldtog te bevorder. Hy wou jong volwassenes en leerlinge aanmoedig om te lees, maar hy besef hy het “sensitiewe kykers” ontstel.

“Ek besef een van die foto’s kon dalk sensitiewe kykers ontstel het. Dit was nie my bedoeling nie. Ek vra om verskoning aan diegene wat ek teleurgestel het en diegene wat in die gesig gevat voel,” sê Mhlanga.

Hy sê hy het dieselfde foto’s vantevore gebruik om die veldtog te bevorder en toe was daar nie ontevredenheid daaroor nie.

“Inteendeel, dit het ’n diskoers oor lees begin.”

Hy sê hedendaagse gehore wat die media verorber, is gewoonlik baie oop oor seks en seksualiteit. In dié konteks het hy die grense getoets deur ’n narratief voor te stel dat lees beskou kan word as iets wat vir pret en plesier gedoen word.

“In jou gemaksone, waar ook al jy mag wees, staan dit jou vry om ’n boek op te tel en te lees. Dit is wat ons aanmoedig. Jy kan dit alleen of met jou lewensmaat doen, solank die nasie net lees.”

Twitter-gebruikers het Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, oor die vingers getik oor foto’s soos dié. Foto: Twitter/ @ElijahMhlanga
Elijah Mhlanga, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het Twitter-gebruikers aangemoedig om alles te los en ’n bietjie te lees. Foto: Twitter/ @ElijahMhlanga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.