Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Shaleen lag tot die einde

Verlede Sondagmiddag voordat Shaleen Surtie-­Richards dood is, het sy die gastehuisbestuurder by wie sy die laaste weke van haar lewe gebly het, gevra om ’n bietjie in haar kamer te kom kuier.

Die dood van die veteraan-aktrise Shaleen Surtie-Richards het die land in rou gedompel. Foto: Deon Raath

“Sy het gesê haar borsie was nie lekker nie. Dis ’n bietjie tight,” vertel Fadwa Davids.

Davids het baie geheg geraak aan Surtie-Richards (66) nadat dié op 19 Mei by die gastehuis in Edgemead ingetrek het terwyl sy tonele vir Arendsvlei geskiet het.

“Ek het ’n bietjie Vicks in die warm water gegooi soos wat sy my gevra het. Ek het ’n handdoek om haar kop gegooi en toe het sy die Vicks ingeasem en sy was oukei ná daai. Sy het self vir my gevra: ‘Jinne my kind, wil jy nie my voetjies kom druk nie?’

“Ek het toe nog haar voete vir haar gedoen. Toe sê sy vir my: ‘Kom, kom, kom, ons rook gou ’n f****n entjie’. Ek het nog vir haar gesê antie Shaleen moet ophou rook. Toe sê sy f**k you man! Kom ons rook!’”

Jinne my kind, wil jy nie my voetjies kom druk nie?

Davids sê Surtie-Richards moes die volgende oggend vroeg op wees, want sy sou vir haar Covid-19-inenting gaan. Maar toe Davids net ná 08:00 in haar kamer kom, was Surtie-Richards dood.

Davids sê dit is nie waar dat Surtie-Richards weens armoede sonder mediese sorg was nie.

Die aktrise Lizz Meiring het die afgelope week beweer ’n dokter wou Surtie-Richards vroeër in die hospitaal opneem omdat sy siek was. “Sy het eenvoudig nie geld gehad nie. Dis die aaklige waarheid. As sy haar karige tantieme betaal is vir al die heruitsendings van haar ongelooflike hoeveelheid werk, sou sy dit kon doen,” het Meiring getwiet.

As sy geld gehad het, het Meiring by navraag herhaal, “sou sy ’n kans gehad het op sorg”.

Fadwa Davids, bestuurder van die gastehuis waar Surtie-Richards gebly het.

Meiring sê sy grond haar bewering op inligting wat sy gekry het van ’n nabye familievriend van Surtie-Richards, maar sy wou nie sê wie die familievriend is nie. Sy sê Surtie-Richards kon nie behandeling in ’n private hospitaal bekostig vir iemand met “erge diabetes, hartkwale, longprobleme en ’n reeds sensitiewe immuniteitstelsel” nie.

Surtie-Richards was die Woensdag voor haar dood by ’n private kliniek nadat sy siek gevoel het op die stel van die kyk­NET & kie-telenovella Arendsvlei, waarin sy die afgelope tyd die rol van Muriel Foster vertolk het. Sy het gevrees sy het Covid-19 opgedoen. “Toe sy van die hospitaal af terugkeer, was sy oukei,” sê Davids. “Hulle het vir haar medikasie gegee. En die volgende dag toe die uitslae kom, sê sy: ‘Dank die Here ek het nie Covid nie’. Daarna was sy nogal oukei, sy het gelag, sy was snaaks.”

Ri’fat Browers, ’n familievriend van meer as 30 jaar, sê ook die bewering dat Surtie-Richards tuis was omdat sy nie behandeling kon bekostig nie, is nie akkuraat nie. “Sy was nie ongeskik weens die siekte nie. Sy was asmaties, sy het ’n toe bors gehad en dit was dit,” sê Browers.

Trouens, Surtie-Richards het die Sondag voor haar dood nog planne gemaak dat Browers haar die Maandag vir middagete kom haal. Surtie-Richards wou veral weer Browers se oom Reggie sien. Hy het vir haar 55ste verjaardag vir haar ’n Krugerrand-halssnoer gegee wat sy gereeld om haar nek gedra het.

Lees ook:

“Ek het haar gereeld gesien en ons was elke dag in gesprek, [maar] sy het hom (oom Reggie) miskien drie of vier jaar laas gesien. So, sy het gesê: ‘Jirre, wanne’ laas het ek vi’ Reggie gesien?’ En toe sê sy vir my maak ’n plan, sy wil hom sien,” sê Browers.

Davids sê in die tyd dat Surtie-Richards in die gastehuis gebly het, het sy haar leer ken as “ ’n baie, baie prettige en liefdevolle mens. Meer soos ’n moederfiguur”.

Karen Meiring, direkteur: kyk­NET-kanale, het by navraag gesê Surtie-Richards se laaste dag op stel was Donderdag, maar sy het gevra om langer in die Kaap aan te bly en dis toe só gereël.

Sy het tydens haar verblyf in die Kaap mediese toetse ondergaan by ’n private mediese kliniek en sy is bevoeg verklaar om haar werk te voltooi. Die Tribuo-fonds wat behoeftige kunstenaars ondersteun, het daarvoor betaal.

Surtie-Richards word vandag met ’n amptelike provinsiale begrafnis in Kaapstad ter ruste gelê. Die gedenkdiens word om 14:30 regstreeks op die SAUK uitgesaai en dit sal ook op sosiale media gestroom word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.