Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Shaleen was ‘gelief, maar is deur stelsel in steek gelaat’

Shaleen was gelief onder mense, maar is deur die stelsel in die steek gelaat.

Op die roudiens Sondagmiddag van Shaleen Surtie-Richards (66) in Durbanville, Kaapstad, het haar jare lange vriend Rifát Browers dié sterk boodskap gelewer.

Shaleen Surtie-Richards is met ’n spesiale provinsiale staatsbegrafnis gegroet. Foto: Jaco Marais

Browers het spesifiek na Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, verwys wat teenwoordig was en ’n beroep op hom gedoen dat die langlewendheid van mense in die kuns- en vermaakwêreld verseker word.

Ook Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, het in haar boodskap gesê dit is hartseer dat Surtie-Richards se dood die stryd van Suid-Afrikaanse kunstenaars in hul later jare blootlê.

De Lille, wie se boodskap voorgelees is, het gesê Surtie-Richards se dood moet ’n wekroep wees dat kunstenaars en hul regte beskerm en gerespekteer moet word.

“Daar moet na hulle gekyk word,” het De Lille gesê.

Surtie-Richards se roudiens is in Memorial Park in Durbanville gehou, en die ikoniese aktrise het weer in voorkamers op televisieskerms verskyn met die diens wat landwyd uitgesaai is.

Eerw. Lionel Surtie, Surtie-Richards se broer, het die diens gelei.

Hy het gesê sy suster het “in die skadu’s van Tafelberg kom rus”.

Surtie het gesê die boodskap wat hy namens Surtie-Richards wil lewer, is dat mense nie bang moet wees vir die lewe nie.

Shaleen Surtie-Richards se kis is in die landsvlag gedrapeer met haar roudiens in die kapel van Memorial Park in Durbanville. Foto: Jaco Marais

“Vrees is die oudste en sterkste menslike emosie en dit verlam ’n mens. Dit maak jou siek en verlam vandag die krag wat jy môre nodig het om die onheil aan te durf.”

Surtie het gesê die swaarste las is vrees vir dinge wat uiteindelik nooit gebeur nie.

“Wanneer vrees aan die deur klop, stuur vir geloof om die deur oop te maak en jy sal vind daar is niemand nie,” het Surtie gesê.

In sy boodskap het Mthethwa gesê Surtie-Richards was op verskeie maniere ’n verteller van stories. Sy was die beste storieverteller deur al die karakters wat sy uitgeleef het. “Sy het ons meer geleer van onsself, van dit wat ons ware Suid-Afrikaners en ware mense maak. Niemand sal twyfel in die rol wat Shaleen gespeel het om mense te verenig nie.”

Die program waarmee daar van Shaleen Surtie-Richards afskeid geneem is. Foto: Jaco Marais
Wit kerse met foto’s van Shaleen Surtie-Richards en rooi blomme op die diens. Foto: Jaco Marais

Hy het gesê Surtie-Richards het mense geleer om trots te wees op wie jy is en van waar jy kom.

“Shaleen, jy het gesterf sonder om te groet, maar jy leef voort in ons geheue,” was Mthethwa se afskeidswoorde.

Michelle Surtie de Bruyn, Surtie-Richards se niggie, het namens die familie ’n huldeblyk gelewer en gesê sy moes op haar tannie se 60ste verjaardag ’n toespraak lewer. Daar was bekendes op die geleentheid.

’n Finale groet aan Nenna, Shaleen Surtie-Richards se karakter in ‘Egoli: Plek van goud’. Foto: Jaco Marais

Surtie-Richards het haar eenkant toe geroep en gesê: “Jy is ’n Surtie, jy is jou pa se kind. Moenie vir jou worry oor die mense nie. Ons is die mense. Jy lig jou ken op en jy praat.”

Surtie-Richards se kis is as deel van die amptelike seremonie in ’n landsvlag gedrapeer gedurende die diens nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n spesiale provinsiale staatsbegrafnis goedgekeur het.

Die kapel was met wit en rooi blomme versier en een van die rose wat uitgestaan het, was ’n roos wat na haar genoem is.

Kerse is deur Estée Lauder geskenk sodat mense ook kon onthou hoe lief Surtie-Richards vir parfuum was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.