Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Shamoné begin met spinale rehabilitasie

Shamoné Steynvaart (14), wat verlam is ná die brugtragedie by die Hoërskool Driehoek, is Maandagmiddag na ’n spinale-rehabilitasie-eenheid oorgeplaas waar sy gaan leer hoe om by haar nuwe lewensomstandighede aan te pas.

Charmaine Steynvaart en haar dogter, Shamoné (14), wat ná die brugtragedie verlam is. Foto: Facebook

Walter Lamb, ’n oom van Shamoné, sê dokters kan nog nie sê hoe lank sy in die rehabilitasie-eenheid van die Mediclinic Muelmed in Pretoria sal wees nie.

Sy was sedert die ongeluk op Vrydag 1 Februarie in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria, waar dokters vasgestel het dat sy van haar naeltjie af ondertoe verlam is.

“Nou begin die heelmaak. Mense gaan deel word van haar herstel en haar nuwe lewe.”

Weldoeners het ’n rolstoel vir haar geskenk.

Vier leerlinge is dood en 22 beseer nadat ’n betonblok van ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek in ’n fratsongeluk losgebreek en op leerlinge geval het. Honderde pers en geel ballonne is Maandagmiddag in die lug losgelaat nadat ’n gedenkdiens gehou is.

Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8 leerling wat ernstige beserings opgedoen het, sal Dinsdagmiddag ’n operasie ondergaan waarin ’n trageabuis vir haar ingesit word.

Sy is steeds in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Cheverné het Sondag ’n terugslag gehad ná ’n operasie aan haar maag. Sy moes inderhaas weer aan ’n asemhalingstoestel gekoppel word nadat haar hart Sondag vinnig begin klop het.

Drie gr. 12-meisies wat ernstige beserings opgedoen het, is steeds in hospitale.

Leerlinge in 'n klas in 'n tent by die Hoërskool Driekhoek. Foto: Facebook

Vanessa Slabbert (18) is in ’n ernstige toestand in die Netcare Unie-hospitaal. Sy het beserings aan haar kop, rug, maag en bekken. Haar ma, Lizelle, sê hulle klou daaraan vas dat die dokters sê sy is stabiel.

Clari Botes (18) is in die traumawaakeenheid in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg. Sy kon Maandag al vir kort rukkies regop sit, maar ervaar nog baie pyn.

Milita Weber (17) is in die hoësorgeenheid van die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria. Sy het verskeie beenbreuke en herstel stadig.

’n Matriekseun, Hilmar Engelbrecht (18), is uit die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg ontslaan en ondergaan fisioterapie vir sy beserings.

Leerlinge van die skool ontvang steeds berading ná die skokkende gebeure. Beraders sal nog ’n geruime tyd by die skool beskikbaar wees vir leerlinge wat sukkel om die gebeure te verwerk.

Daar is 28 tente by die skool opgeslaan waar leerlinge onderrig word terwyl ’n gedeelte van die skool steeds as onveilig beskou word.

Chantelle van den Berg (17), ’n gr. 12-leerling aan die Hoërskool Driehoek, Dinsdag in ‘n goeie luim in die Mediclinic Vereeniging waar sy ná die brugtragedie behandel word. Foto: Facebook
Nicole Nel (13), ’n gr. 8-leerling aan die Hoërskool Driehoek en Chantelle van den Berg (17), ’n gr. 12-leerling, het Dinsdag saam gekuier in die koffiewinkel by die Mediclinic Vereeniging waar hulle ná die brugtragedie behandel word.Foto: Facebook

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.