Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sharnelle, Marna, Kgothatso... 'Land het sy morele kern verloor'

Terwyl ’n ma van naby Rustenburg in Noordwes nog wag op die nuus of dit haar geliefde Kgothatso (7) is wie se lyk op ’n vullisterrein gevind is, het die provinsiale regering sy stem by dié van Kapenaars gevoeg wat Donderdag opgeruk het teen geweld teen vroue en kinders.

Die Noordwes-regering se steun kom ook terwyl regter Ronald Hendricks Donderdag in die hooggeregshof in Mmabatho beslis het die bekentenis en uitwysings oor die Stella-moorde sal wel toegelaat word. ’n Binneverhoor is sedert Maart vanjaar met tussenposes gehou nadat Xander Bylsma (21), wat twee tienermeisies na bewering vermoor het, sy vroeëre bekentenisse oor die moorde wou terugtrek.

Vermoor: Sharnelle HoughFoto: Verskaf
Vermoor: Marna Engelbrecht.Foto: Verskaf

Die verhoor weens die moorde op Sharnelle Hough (17) en Marna Engelbrecht (16) gaan nou in November voort.

Intussen het kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê die polisie wag nog op die uitslag van DNS-toetse op die oorskot van ’n kind om te bepaal of dit Kgothatso Molefe is. Sy het op Woensdag 24 Julie vermis geraak nadat sy van haar skool in Thlabane naby Rustenburg op pad terug huis toe was.

Die lyk van ’n kind is op 2 Augustus op ’n vullishoop sowat 25 km van Thlabane gevind. Kgothatso se ma, Nthabiseng, het vroeër gesê sy is “hartseer, kwaad” en dat haar “hart dit nie gaan hou nie”. Sy hoop steeds haar lewenslustige dogtertjie word lewend gevind.

Gaoage Molapisi, LUR vir openbare werke en paaie in Noordwes, sowel as dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, het Donderdag hul steun aan die Kaapse betoging teen geweld teen vroue en kinders toegesê.

Vermis: Kgothatso Molefe (7)Foto: Verskaf

Pres. Cyril Ramaphosa het die groep betogers Donderdag in Kaapstad toegespreek en talle nuwe maatreëls beloof om dié soort geweld te bekamp. Dit sluit lewenslange tronkstraf vir verkragters, sonder die moontlikheid van parool, in.

“Ons gemeenskap het sy morele kern verloor,” het die LUR Donderdag in ’n mediaverklaring gesê. “Dis hartseer dat vroue mans se slagoffers word, terwyl mans uit vroue gebore is en veronderstel is om hulle te beskerm. Dis ’n afgryslike misdaad teenoor die slagoffers én die mensdom.”

Molapisi sê die land stuur op ’n krisis af indien die “ware oorsake” van sulke gedrag nie ondersoek word nie. “Dis nie alleenlik die regering se taak nie. Daar is diepliggende gemeenskaps- en sielkundige kwessies wat aandag moet kry om die geweld teen vroue en kinders stop te sit.

“Ek vra dus dat almal saam sal soek na redes vir hierdie soort geweld wat voorkom ondanks ons demokrasie van 25 jaar. Akademici en navorsers kan ook help om die onderliggende redes hiervoor te vind. Vroue moenie in verhoudings bly waar hulle mishandel word nie.”

Premier Mokgoro het die onlangse voorvalle in die land waar vroue en meisies verkrag, wreed vermoor en mishandel is, ten sterkste veroordeel. “Ek is diep ontsteld hieroor, want sulke dade word gepleeg deur mans wat vroue moet liefhê en beskerm. Ek is ook ’n pa, oom, huweliksmaat, broer, vriend en oupa. Ons moet na vroue se veiligheid omsien.”

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier.Foto: Susan Cilliers
Gaoage Molapisi, LUR vir openbare werke en paaie in Noordwes. Foto: Verskaf
Meer oor:  Xander Bylsma  |  Noordwes  |  Geslagsgeweld  |  Moord  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.