Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Shorty: ‘Hoekom nóú so ’n bohaai?’

Die man met die aansteeklike lag is nie nou dik van die lag nie.

“Wat kan ek sê? My hart is seer, man,” sê Alfred Ntombela, oftewel “Shorty” van die Leon Schuster-flieks.

Alfred Ntombela en Leon Schuster. Foto: Cornel van Heerden

“Dié ding met Leon maak my kwaad. Dis nie reg nie,” het Ntombela (48) Donderdag aan Rapport gesê nadat die stromingsdiens Showmax ses van Schuster se flieks tydelik verwyder het uit vrees dat dit as ras-onsensitief gesien sal word. In van dié flieks tree Schuster in grimering op as ’n karakter wat swart of ’n Indiër is.

“Moet hy nou net wit karakters vertolk omdat hy wit is?” sê Ntombela.

“Ek kom al ’n ver pad saam met Leon. Hy is alles vir my. Hy is my pa en inspirasie en het my gehelp om te kom waar ek vandag is. Hy het nooit my kleur raakgesien nie. Net my potensiaal. As dit nie vir hom was nie, sou ek nie so suksesvol gewees het nie. Om my gesig te sien op die groot skerms in fliekteaters, jô,” sê hy.

Ntombela ken en werk al 30 jaar saam met Schuster (69) en sê hy is sy “brother from another mother”.

‘Hy is ’n entertainer, dis al.’

“Ek stem glad nie saam dat sy flieks rassisties is nie en hy is beslis ook nie een nie. Hoekom gebeur die bohaai nou? Sy flieks vermaak mense van alle kleure en kulture al vir jare en laat hulle saam lag. Hy is briljant en almal wil altyd weet wat gaan sy volgende stap wees. Ons het fans van alle rasse en kulture – swart mense, Indiërs, Chinese. Ons het selfs fans in Nigerië.”

Ntombela het Schuster in 1990 ontmoet toe hy 18 was en Schuster ’n kind gesoek het vir ’n rol in Oh Schucks . . .! Here Comes UNTAG.

Ntombela was destyds by Heyns Films ’n akteur in kinderprogramme vir skole. Sy bestuurder het voorgestel dat Schuster hom oorweeg.

Ntombela onthou Schuster was aanvanklik nie oortuig van sy talent nie. “Toe vertel Leon ’n grap en ek begin lag . . . Dit was hilarious. Ek kan nie die grap onthou nie maar jô, jô, jô, ons het lekker gelag en toe sê hy nóú is hy oortuig. Ek is die een na wie hy gesoek het,” sê Ntombela.

Kort daarna het Sweet ’n Short met Ntombela en Schuster verskyn (1991) en sedertdien kuier en werk die twee saam. “Ek het soveel by Leon geleer. Nie net van act nie, maar ook dat jy altyd bereid moet wees om die houe te vat – fisiek en emosioneel.”

Hy stem saam met die woorde black lives matter. “Maar dis belangrik dat ons almal mekaar met respek hanteer. En Leon doen dit nog altyd.

“Ek sien mos hoe hy die movie crews wat uit mense van alle kleure en kulture bestaan, agter die skerms hanteer. Ek het hom nooit rassisties sien optree nie en hy is nie ’n rassis nie. Hy is ’n entertainer, dis al.”

Rapport het vir Richard Boorman, kommunikasiehoof van Showmax, gevra of die Schuster-flieks verwyder is omdat daar klagtes was. Hy wou nie sê nie. “Al wat ek nou kan sê, is dat ons besluit het om die flieks vir eers te verwyder as voorsorgmaatreël en het ander kanale se voorbeeld gevolg wat ook van hul materiaal verwyder het. Ek kan nie sê wanneer ’n finale besluit geneem gaan word nie, maar wel dat ons deur al ons programme se inhoud werk om seker te maak dit kan uitgesaai word,” sê Boorman.

Die flieks wat deur Showmax verwyder is, is Sweet ’n Short, Oh Schucks . . . It’s Schuster! (1989), You Must Be Joking! (1986), You Must Be Joking Too! (1987), Schuks! Pay Back The Money! (2015) en Frank and Fearless (2018). Dié flieks is enkele maande gelede nog entoesiasties deur Showmax en M-Net bemark.

Swart mense wat lag vir Schuster is sélf rassisties, het die komediant Conrad Koch Maandag gesê.

* Lees Waldimar Pelser se artikel hieroor in Rapport Weekliks.

Meer oor:  Leon Schuster  |  Alfred Ntombela  |  Rolprente  |  Showmax
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.