Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sidego help SA anders maak

Donderdag het Conrad Sidego gesterf. Hy was ’n Nuwe Suid-Afrikaner lank voordat Louis Wilsenach, toevallig ook dié week dood, die raakvat-frase “Nuwe Suid-Afrika” gemunt het.

Conrad Sidego in 1981 toe hy aangestel is as redakteur van Rapport-Ekstra.

Brugbouer was Sidego (74) by uitstek; loopbaanverskeidenheid sy ding: onderwyser in Tulbagh, sy tuisdorp waar hy ook ’n korrespondent vir Die Burger was, joernalis by Die Burger-Ekstra, redakteur van Rapport-Ekstra, skakelhoof van die ou AngloAmerican-korporasie, Suid-Afrikaanse ambassadeur in Denemarke, skakelhoof by Naspers en burgemeester van Stellenbosch.

“Die akker van nierassigheid sou in sy tyd altyd braak bly lê het as mense soos Conrad nie agter die ploeg was nie,” sê Johann Maarman, ’n protégé van Sidego toe dié redakteur was van Rapport-Ekstra, meer as drie dekades gelede. Maarman is eindredakteur van Die Burger.

Daardie dae het ek Conrad skrams geken. Later, toe hy Johannesburg toe is om vir Anglo American te werk, het ons mekaar gereeld gesien.

Sy vertellings het my in sy skoene laat stap om ’n idee – en nie meer as dit nie – te kry van hoe dit was aan die ontvangkant van apartheid. Conrad het altyd met ’n uitbundige lagbui weggetrek. Wetende wat kom, het ek maar senuagtig saamgegrinnik. Agterna het die impak my dan getref.

Hy het gelag oor die ironie dat die “kleurlingman” toe die enigste redaksielid was met ’n poel­motor net vir hom.

Toe oorlede adv. Lang David de Villiers, besturende direkteur van die ou Nasionale Pers, hom in 1971 aanstel by Die Burger-Ekstra, die koerant se bylae se vir bruin lesers, het Sidego geskiedenis gemaak as Die Burger se eerste bruin joernalis.

In die Burger-gebou in Keeromstraat oorkant die Kaapse hooggeregshof mog dié nuwe kollega nie die net-vir-wittes toilet gebruik nie. Hy moes vier, vyf blokke afstap na die Kaapse Parade, waar ’n lamlendige toilet was vir “nie-blankes”. Later is die toilet by die kantoor “oopgestel”, maar eers nadat dit omvattend opgeknap is, kompleet met ’n heeltydse skoonmaker, sodat die “standaarde” waaroor die wit kollegas so begaan was, gehandhaaf kon word. Hulle het hom nooit bedank vir die deftige nuwe toilet nie, het hy tussen die lagbuie deur vertel.

En toe daar besware kom dat die “kleurlingman” die redaksie se poelmotors gebruik, het die advokaat stilweg vir Conrad ’n gebruikte karretjie gekoop sodat hy kon uitgaan om nuus in te samel. Hy het gelag oor die ironie dat die “kleurlingman” toe die enigste redaksielid was met ’n poelmotor net vir hom.

In sy Anglo-dae nooi Senwes-landboukoöperasie hom om ’n saamtrek van voorste boere en klante by die destydse Rob Ferreira-oord naby Christiana aan die Vaalrivier toe te spreek. Voor hom sit ’n saal vol Wes-Transvaalse en Vrystaatse boere wat hom aangluur, fris arms gevou om hul stoere borskaste. Hy praat brugbou en wedersydse begrip. Geen ooglid roer nie.

Sidego, die joernalis en Muhammad Ali in 1979.

In vraetyd staan een op. Ek het nou na jou geluister, sê hy. Maar wat jy nie verstaan nie, is die fout lê nie by ons nie; dit lê by “julle mense”.

Conrad bly vir die braai agterna. Soos die Klippies eenkant van die paartie invloei, vloei die argwaan anderkant uit. Waar slaap jy vanaand? vra dieselfde grootbul, nou ewe gul, wat ’n paar uur te vore nog vol “julle mense” was.

Wel, die wet sê ek mag nie hier in Rob Ferreira slaap nie, so ek sal maar ’n plan moet maak, antwoord Conrad.

Nou maar kom slaap sommer in my bungalow; daar’s ’n leë bed.

Conrad sê vir oomblik het hy die uitnodiging oorweeg. Net om sy nuwe vriend se gesig te sien die volgende oggend as hy wakker word met ’n “kleurling” in die bed langs hom. Maar toe ry hy maar die 120 km Kimberley toe om in Anglo se De Beers Club te gaan oorslaap.

Conrad Sidego

Nooit het hy ’n verwytende vinger in jou gesig gedruk nie. Dit lig gehou. Maar só verseker dat jy nie daardie paar treë wat jy in sy skoene gestap het, sommer vergeet nie.

Een van sy gunstelinge was sy oproep na ’n Kaapse mevrou wat hondjies geadverteer het. Maar sal die hondjie ’n waghond kan wees? vra hy in sy beste standaard-Afrikaans. Meneer, met daardie hond sal geen kleurling naby jou huis kom nie, antwoord sy. Hy ruk van die lag.

Ek het nogal aan dié storie gedink toe ek dié week sien hy word “ ’n persoon van kleur” genoem. Watter kleur? Ek onthou nie dat hy veel getwyfel het dat hy bruin was nie. Maar eers nadat hy Suid-Afrikaner en Afrikaans was. Dis wel my onthou.

Tog, waarsku oud-ambassadeur Franklin Sonn, dit sal ’n fout wees om Sidego net te onthou om sy wellewende humor. Hy het diepsinnig gedink.

“In die UDF-dampkring destyds het ons nie gehou van wat ons gesien het as ’n apartheidskoerant soos Rapport-Ekstra nie. Maar onder sy redakteurskap is ons ’n stem gegee. Mense het gewéét van my onderwysvakbond wat militant anti-apartheid was.”

Johann Maarman onthou dit was wilde jare. Rapport-hoofkoerant het die driekamerparlement gesteun, maar onder Sidego en sy opvolger, oorlede Zelda Jongbloed, het UDF-aktiviste soos Trevor Manuel, Allan Boesak, Farid Esack en Franklin Sonn huishoudelike name geword.

“In Rapport-Ekstra het ons die plek ‘Namibië’ genoem toe die ander Afrikaanse koerante, ook hoofkoerant-Rapport, nog van ‘Suidwes-Afrika’ gepraat het. ‘Namibië’ was mos die terroriste se naam vir die land.”

“Kom ons gebruik Rapport-Ekstra om Suid-Afrika te verander,” het Conrad gereeld vir hulle gesê.

Sidego was ook passievol oor nierassige sport. Die sportfederasie Sacos, wat gevaar het onder die vaandel van “Geen normale sport in ’n abnormale samelewing” nie, het ruim dekking in Rapport-Ekstra gekry.

Anne-Marie Mischke, voormalige adjunk-redakteur van Rapport, sê die hoofkoerant het destyds een politieke koers gehad – steun vir die driekamerparlement – terwyl se Sidego se Rapport-Ekstra ’n ander koers ingeslaan het. Die twee het nie altyd gestrook nie. Tot hul krediet het die destydse hoofredakteurs van Rapport hom laat begaan, sê Mischke.

Sidego het twee jaar gelede breinkanker gekry en laat verlede jaar is ’n tweede gewas in sy brein ontdek. Hy het in Rondebosch, Kaapstad gewoon.

Hy word oorleef deur sy vrou, Amy, en twee seuns, Conrad-Jay (36), wat getroud is en in Pretoria woon, en Jonathan (32), wat by ’n tegnologie-onderneming in Kalifornië in die VSA werk.

Die familie beoog ’n gedenkdiens ná die opheffing van die inperkingsmaatreëls.

* Lees ook Peter Sidego se huldeblyk aan sy broer hier.

Meer oor:  Conrad Sidego  |  Joernalis  |  Burgemeester  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.