Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Siek Eugene de Kock ‘steeds gevangene’
’n Onlangse foto van ’n siek ­Eugene de Kock. Foto: Anemari Jansen

’n Uitgeteerde Eugene de Kock (68), voormalige Vlakplaas-bevelvoerder wat in 2015 op parool vrygelaat is, word in ’n bedenklike toestand in ’n senuweekliniek in Pretoria behandel.

“Hy het in Desember ’n algehele fisieke en geestelike ineenstorting gehad,” het Anemari Jansen, vertroueling en skrywer van die boek oor De Kock, Assassin for the State, die afgelope week gesê.

“Hy het eers weens ’n longembolisme by die dood omgedraai. Dit was sy liggaam se reaksie nadat hy reeds erg depressief was.”

De Kock word geruime tyd in die kliniek weens depressie en angsneurose behandel. Nou is sy mediesefondsvoordele vir behandeling uitgeput. Sy verdere behandeling in die kliniek sal na raming minstens R113 000 beloop, maar langdurige behandeling selfs meer, sê oudgenl. Johan van der Merwe, voorsitter van die polisie se liefdadigheidstrust. Dié trust werk saam met Jansen om geld in te samel om De Kock te help met sy uitgawes en ’n plek te kry waar hy permanent kan intrek.

De Kock, wat die polisie destyds met ’n skeidingspakket verlaat het, kry geen pensioen nie.

‘Hy is letterlik net laat gaan in ’n wêreld wat hy nie meer ken nie.’

“Hy het geen vaste heenkome nie en dit is deel van sy probleem. Hy word van een veilige huis na die volgende geskuif. Hy het nêrens wat hy sy eie kan noem om sy voete in die samelewing te vind nie,” sê Jansen. “Hy is in sy kop nog nooit werklik uit die tronk vrygelaat nie, want hy is steeds ’n gevangene van sy omstandighede.”

Volgens haar het die verwerping toe De Kock laas jaar in Mei by ’n literêre fees in Franschhoek gevra is om die fees te verlaat, hom diep seergemaak.

“Hy het ’n absolute vrees vir verwerping en afsondering en hy ervaar sedertdien albei in toenemende mate. Hy kan weens gloukoom nie lees nie. Hy sukkel.”

De Kock is in 2015 met streng paroolvoorwaardes vrygelaat nadat hy meer as 20 jaar in C Max, die maksimumsekerheidsafdeling van die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria, opgesluit was. Hy is daarna steeds deur beamptes van vermoedelik staatsveiligheid bewaak en sy adresse is geheim gehou. Hy het sedertdien meer vryheid, maar anders as ander soortgelyke gevangenes het De Kock nooit berading voor sy vrylating gekry nie. “Hy is letterlik net laat gaan in ’n wêreld wat hy nie meer ken nie,” sê Jansen.

De Kock sou tydens sy parool die departement van justisie help met die afhandeling van sekere sake oor vermiste mense voortspruitend uit vergrype wat in sy tyd by Vlakplaas plaasgevind het. Dit het volgens van sy oudkollegas tot heelwat ongemak by van hulle gelei omdat hulle van voor af weer by “dinge van die verlede” bygesleep sou word.

Veral sy oudmakkers wat lank reeds dié era afgesluit en as sakemanne gevestig is, wil niks met De Kock te doen hê nie.

Veral sy oudmakkers wat lank reeds dié era afgesluit en as sakemanne gevestig is, wil niks met De Kock te doen hê nie, het van dié mense op voorwaarde van anonimiteit gesê.

Van der Merwe sê baie mense het letsels oorgehou van “dié onstuimige tydperk”.

Volgens Van der Merwe is een van die moontlikhede wat oorweeg word om De Kock in ’n aftreeoord met versorging te vestig.

“As so ’n plek aangekoop word, kan dit dalk deur die liefdadigheidstrust bestuur word. By Eu­gene se afsterwe bly dit die eiendom van die trust,” sê Jansen.

“Maar ek kyk ook na ander opsies soos skarefinansiering. As 1 500 mense elkeen R1 000 bydra sal ons ’n plekkie vir hom kan koop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.