Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sieke lê anderhalf uur op toneel van ambulans-ongeluk

’n Pasiënt in ’n ambulans wat in ’n ongeluk was, het sowat anderhalf uur ná die ongeluk steeds op die toneel in Bloemfontein gelê.

Noodpersoneel van ER24 wat gou op die toneel was, is nie toegelaat om die siek man te help nie. Die ongeluk het gebeur terwyl die man in ’n Buthelezi-ambulans van Kroonstad na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein vervoer is.

Die Buthelezi-ambulans waarin ’n pasiënt van Kroonstad af Donderdag meer as ’n uur op ’n ongelukstoneel gewag het voordat hy in ’n ander Buthelezi-ambulans oorgelaai is. Foto: Mlungisi Louw

Die ongeluk tussen die ambulans en ’n vragmotor was in Raymond Mhlabastraat. Personeel van Buthelezi het gesê die pasiënt mag nie deur iemand anders gehelp word voordat toestemming van hul hoofkantoor gekry is nie.

Die man is nie in die ongeluk beseer nie en was die hele tyd in die ambulans.

Cobus Venter, wat reg agter die ambulans gery het toe die ongeluk gebeur, sê die ambulans het nie flikkerende ligte aangehad of ’n sirene nie. Hy het gesê die vragmotorbestuurder het “op die sypaadjie geklim om die ongeluk te probeer vermy”, maar het steeds die ambulans getref.

Venter het gesê volgens hom het die ambulans baie vinnig om die sirkel gery. “Die ongeluk het om 14:21 voor my oë gebeur en om 15:38 was die pasiënt steeds op die ongelukstoneel.

“Dit is onaanvaarbaar dat ’n pasiënt ’n uur en ’n half in ’n Buthelezi-ambulans moet lê en wag.”

Vrese is uitgespreek dat die hospitaal nie die pasiënt sou opneem as ’n ER24-ambulans hom daarheen bring nie, het Venter gesê.

Die toneel van die ongeluk in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Steyn Wepener van Cobra Towing was ook gou op die ongelukstoneel om te hoor of sy maatskappy die ambulanswrak mag wegsleep.

Desmond Mzamane van Dynamic Artistic Solutions van Pretoria en die drywer van die vragmotor, het op die ongelukstoneel gesê die ambulans het vreeslik gejaag.

“As ek nie probeer het om die ongeluk te vermy deur op die sypaadjie te probeer ry nie, sou mense in die ambulans vir seker gesterf het.”

Sy assistent-bestuurder, Peter Mafune, het alles beaam wat Mzamane gesê het.

Buthelezi-ambulansdienste het nie op navrae gereageer nie. By die noodnommer is gesê die administratiewe personeel gaan 16:00 huis toe. Geen woordvoerder of bestuurder was ná ure aan diens om vrae te beantwoord nie.

Meer oor:  Pelonomi-Hospitaal  |  Bloemfontein  |  Kroonstad  |  Ongeluk  |  Ambulans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.