Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sisulu hoor nou damwal al 6 jaar ’n gevaar

Die Nqweba-damwal by Graaff-Reinet is onstabiel en kan selfs breek – wat tot hoë lewensverlies en enorme skade in dié historiese Karoodorp sal lei.

Die Ngweba-damwal digby Graaff-Reinet wat onstabiel is vir vloedwater en dringend gerestoureer moet om te keer dat die wal breek. Die foto is in 2011 genem toe die dam laas oorgeloop het. Foto: Nombasa Dyosi

Dit was die waarskuwing van Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, die afgelope week in die parlement.

Amptenare in dié kaalgestroopte departement weet al ses jaar dat herstelwerk nodig is, maar onder Sisulu se voorganger, Nomvula Mokonyane, het niks ooit gebeur nie.

Sisulu het eers van die gevaar bewus geword ná ’n parlementêre vraag deur Saman­tha Graham-Maré, voormalige DA-stadsraadslid van die Camdeboo-munisipaliteit. Sisulu het opdrag gegee dat ’n onafhanklike professionele kundige dringend aangewys word om die damwal te herstel.

“Damveiligheidsinspekteurs het bevind die damwal van 46 m hoog is onstabiel in vloedtoestande. Dit is tussen 1921 en 1925 gebou toe vloedskattings gegrond is op onvoldoende rekords,” het Sisulu in antwoord op die vraag gesê.

Die dam, wat 46 miljoen kubieke meter water kan dra, is tans heeltemal leeg weens die erge droogte in die Oos-Kaap. Duisende dooie visse lê in die droë dam en verrot, en word dié naweek deur vrywilligers van die omgewing verwyder. Die dorp kry normaalweg sy water uit die dam, maar is nou van weldoeners soos Gift of the Givers afhanklik.

“Ons is bekommerd dat ’n vloed, wat dikwels ná lang droogtes kom, die dorp in gevaar stel,” sê Graham-Maré.

Die dam is in die Sondagsrivier gebou, wat soos ’n hoefyster om Graaff-Reinet loop. Sou die damwal breek, bestaan die gevaar dat die dorp heeltemal sal oorstroom. Daar is twee hoërskole met koshuise asook ’n laerskool reg op die oewer.

Daar is reeds in 2012 besef rehabilitasiewerk aan die damwal is nodig. In 2013 is ’n kosteberaming gedoen wat toon sowat R100 miljoen is nodig.

“Sedertdien het niks gebeur nie. Die droogte is die ideale geleentheid om die werk te doen,” sê Graham-Maré.

Volgens Sisulu het ’n dooie punt in die departement ontstaan nadat studies gedoen is oor die beste manier om die dam reg te maak. “Daar was ’n dispuut oor uiteenlopende gevolgtrekkings van onderskeie kundiges. Een van die verslae het gelui dat die dam tog aan die nodige veiligheidstandaarde voldoen,” sê Sisulu in haar skriftelike antwoord.

“Ek het die departement nou opdrag gegee om geld daarvoor te vind deur ’n hertoedeling van sy begroting.”

Die departement het verlede jaar sy begroting van R14 miljard met R2 miljard oorskry weens enorme wanbesteding en korrupsie.

Meer oor:  Lindiwe Sisulu  |  Graaff-Reinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.