Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Siya, bring die beker huis toe! vra sy alma mater
Leerlinge van die Emsengeni Primary School in Zwide in Port Elizabeth, wys die klaskamer en ’n stoel waarop Siya Kolisi, Springbokrugbykaptein, gedurende sy laerskoolloopbaan hier gesit het. Die onderwyseresse Amanda Mabote (links) en Namhla Madolwana (regs), was reeds onderwyseresse aan die skool toe die jong Siya hier ’n leerling was. Foto: Lulama Zenzile

Indien die Springbokke die naweek die Wêreldbeker lig, is ’n alma mater van die Springbok-kaptein hoopvol dat hy dié beker letterlik huis toe sal bring.

Dit is die droom van die skoolhoof en onderwysers van die Emsengeni Primary School in Zwide in Port Elizabeth.

Siya Kolisi was in dié skool voordat sy rugbytalent daartoe gelei het dat Grey High School in die stad hom opgeraap het.

Foto’s van die Springbokkaptein pryk in die laerskool se portaal en die naam Siya Kolisi sorg vir ’n glimlag op onderwysers en leerlinge se gesigte.

“Hy besoek die skool minstens een keer ’n jaar, gewoonlik tussen Julie en Augustus,” sê Luyanda Nyoka, die skoolhoof.

Foto’s van Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke, is in die Emsengeni Primary School se voorportaal te sien. Foto: Lulama Zenzile

Selfs kort voor die Springbokke met hul voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi begin het, het Kolisi in Augustus ’n tydjie afgeknyp om die skool te besoek.

“Hy was hier voor die toernooi en ons as skool het ons seën aan hom en die span toegewens,” sê Nyoka.

Schalk Burger, voormalige Springbokspeler, deel handtekeninge uit by Grey High School in Port Elizabeth, terwyl Siya Kolisi, toe ’n leerling van die skool, langs hom staan. Foto: Facebook , #ImStaying
Siya Kolisi lei die Springbokke Saterdag in die Wêreldbekereindstryd. Foto: Argief

Onderwysers wat hier klasgegee het in die tyd toe die klein Siya hier was, sê hulle onthou beslis sy rugbytalent.

“Hy was amper elke dag op die veld besig met rugbyoefeninge saam met die afrigter. Dis hoekom Grey (High School) hom raakgesien het, hy het altyd geoefen,” sê Namhla Madolwana, ’n onderwyseres. Sy sê klein Siya was nie ’n baie stout seuntjie nie, maar altyd besig met stoutigheid, soos die meeste jong seuns. “Hy was baie aktief, altyd besig.”

Nóg ’n onderwyseres, Amanda Mabote, sê dit is ’n blye geleentheid wanneer Kolisi die skool besoek.

“Hy bring altyd iets vir die skool of die leerlinge. Hy het voorheen vir hulle rugby-sweetpakke en sporttoerusting gebring.

“Hy onthou ons ou onderwysers nog en die beste van als, hy onthou nog die skoollied. Met sy laaste besoek het hy dit saam met die kinders gesing,” het Mabote gesê.

Nyoka beaam Kolisi het ’n “groot hart” vir die skool.

“Hy het gesorg dat die leerlinge iPads vir onderrigdoeleindes kry (deur iSchool Africa, vir wie hy ’n ambassadeur is), hy het al 100 paar skoolskoene gebring en skooltasse. Hy inspireer die leerlinge. Vir hulle is Siya ’n held.

“Ek hoop wanneer hulle wen, bring hy die beker om vir ons te kom wys. Ons is baie trots om te kan sê hy is een van ons leerlinge wat vandag ’n reënboognasie-span lei.”

Siya Kolisi met die bal in die hand terwyl hy ’n leerling aan Grey High School in Port Elizabeth was. Foto: Argief

Ook Grey High School in Port Elizabeth bars van trots.

“Ek praat namens die Old Greys, wat uiters trots is dat ’n oud-Grey-leerling ons nasionale rugbyspan in die Wêreldbekereindstryd lei,” het Simon Sonderup, die skool se mediadirekteur, gesê.

Intussen doen ’n foto op sosiale media die ronde van ’n jong Kolisi in sy Grey-skooluniform langs Schalk Burger, voormalige Springbok-rugbyspeler. Volgens Sonderup is dié foto in 2006 of 2007 geneem toe Kolisi in gr. 8 of gr. 9 was.

Burger het handtekeninge uitgedeel terwyl die Springbokke die skool besoek het.

Intussen staan Raymond, Kolisi se pa, se huis in Zwide leeg terwyl hy na Japan onderweg is om die eindstryd Saterdag te kyk.

Rachel, Kolisi se vrou, het ook op Instagram aangekondig dat haar “pa’s” op pad is.

Die Springbokke sal Saterdag teen Engeland in Jokohama in die Wêreldbekereindstryd te staan kom.

Volgens ’n inwoner van die straat waar Raymond woon, staan die hele gemeenskap bankvas agter Kolisi en die Springbokke.

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.