Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skade weens protes oor dienslewering verdubbel in 1 jaar

Die waarde van versekeringseise weens eiendom wat gedurende protesoptrede beskadig word, het die afgelope jaar meer as verdubbel – van R800 miljoen tot R1,7 miljard.

Woedende inwoners van Mount Pleasant en Haw- ston, Wes-Kaap, in 2018. Foto: Jaco Marais

So sê Cedric Masondo, bestuurshoof van Sasria, ’n staatsbeheerde versekeraar wat korttermyndekking bied teen skade weens burgerlike oproer, openbare onrus, stakings, betogings en terreur.

Dié versekering word gefinansier uit ’n klein premie wat ingesluit is by ander versekeraars se polisse.

Masondo sê die aantal eise by Sasria het die afgelope vyf jaar met sowat 20% toegeneem, maar die waarde het in die afgelope 12 maande meer as verdubbel.

Diensleweringsbetogings het dramaties toegeneem. Municipal IQ, wat boek hou van munisipale protesoptrede, het vroeër bekend gemaak dat 237 protesoptredes in 2018 aangeteken is teenoor 173 die vorige jaar.

Dit neem nou langer om eise te finaliseer.

Vroeër vandeesmaand het dié datadiens bekend gemaak dat die aantal protesoptredes in die eerste kwartaal van 2019 ’n rekordvlak van 67 bereik het.

Volgens Kevin Allan, besturende direkteur van Municipal IQ, is dit waarskynlik omdat betogers politici se aandag in die aanloop na die verkiesing in Mei op hul griewe wil vestig.

Rapport het verlede week berig dat 1 300 vragmotors die afgelope jaar beskadig is weens misdaad en protesoptrede. Die skade is op sowat R1 miljard geraam.

Die afgelope week is ses vragmotors en ’n Eskom-bakkie by Hendrina in Mpumalanga aan die brand gesteek deur werkers van steenkoolmyne wat nie betaal is nie.

Volgens Masondo is 90% van die eise wat by Sasria ingedien word van ondernemings en net 10% van individue vir skade aan persoonlike eiendom.

Vir eienaars van sakeondernemings is die spoedige afhandeling van eise noodsaaklik, veral as dit gaan oor iets soos ’n vragmotor waarsonder ’n vervoermaatskappy nie sy werk kan verrig nie.

Sasria probeer om eise binne 30 dae af te handel en as al die vereiste dokumente ingedien is, kan dit sou gou as binne vyf dae gebeur, sê Masondo. Vir groter eise stel Sasria assessors aan om die geldigheid en waarde van die eise na te gaan, sê hy. Die uitbetaling kom binne drie dae nadat die eis goedgekeur is, sê hy.

Natasha Kawulesar, hoof van kliëntediens by Outsurance, sê die versekeraar help sy kliënte met Sasria-eise deur die eis by Sasria te registreer en al die inligting oor die insident en die omvang van die kliënt se skade bymekaar te kry.

Sy sê die toename in Sasria-eise het tot gevolg dat dit langer neem as vantevore om eise te finaliseer.

Henk Kaizer, wie se huis in April 2017 in gewelddadige opstande in Coligny in Noordwes aan die brand gesteek en verwoes is, sê dit het ses maande en baie bloedsweet gekos voor sy Sasria-eis afgehandel is.

“Ons het net met die klere aan ons lywe weggekom,” sê hy. Sy drie kinders het nie skoolklere, handboeke of rekenaars gehad nie.

Kaizer se versekeraar, Santam, het hom ’n voorskot van R250 000 gegee om van te lewe.

Sasria het later verskillende betalings gemaak, waaronder R1,3 miljoen vir sy huisinhoud.

Dit was ’n stryd om die versekeraar te laat verstaan dat sy unieke, handgemaakte meubels van soliede hout meer werd is as gekoopte meubels, en nie minder nie, al het hy dit self gemaak, vertel Kaizer.

Masondo sê Sasria is tans nog goed gekapitaliseer, maar dit kan in die toekoms nodig word om premies te verhoog om te verseker dat daar voorsiening gemaak word vir toekomstige eise.

Meer oor:  Sasria  |  Versekering  |  Protes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.