Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skenk water vir Herbertsdale, vra munisipaliteit

’n Watertekort kom tans in Herbertsdale voor omdat boorgate wat water aan die gebied verskaf nie met die vraag kan tred hou nie.

Die Mosselbaai-munisipaliteit het noodmaatreëls ingestel en gevra dat mense in die groter Mosselbaai water vir huishoudelike gebruik aan die inwoners skenk.

Die bestaande boorgate pomp water na die hoërliggende reservoir in Herbertsdale, maar die vlak neem geleidelik af. Teen die huidige verbruikstempo sal dit na raming teen 26 Februarie heeltemal leeg wees.

Water wat vroeër vir Herbertsdale ingesamel is. Foto: Mosselbaai-munisipaliteit

Luidens ’n verklaring van die munisipaliteit stuur hy sedert 3 Februarie ’n watertenkwa na die onderste reservoirs in Herbertsdale, maar inwoners se verbruik oorskry ook dié beskikbare watervoorraad.

Die munisipaliteit onderhandel met Nestlé vir die gebruik van melktenkwaens om water na Herbertsdale te bring, maar dit is ’n korttermynoplossing en inwoners sal hul verbruik moet verminder.

Water moes in die verlede ook na die gebied aangery word.

Inwoners van die groter Mosselbaai word gevra om water vir huishoudelike gebruik in Herbertsdale te skenk.

Gevulde vyfliter-waterhouers kan by die Mosselbaai-brandweer langs Louis Fourieweg afgegee word. Geseëlde houers se water kan vir drinkwater gebruik word, terwyl ongeseëlde houers se water vir was- en skottelgoed aangewend kan word.

Oor die watersituasie in die groter Mosselbaaigebied sê Nickey le Roux, munisipale woordvoerder, die damvlakke is nie in dié stadium kommerwekkend laag nie.

“Inwoners word gereeld gevra om water baie spaarsamig te gebruik deur onder meer nie swembadwater met kraanwater aan te vul nie, tuine slegs vroegoggend of laataand nat te lei, en nie motors met tuinslange te was of plaveisel met tuinslange skoon te spuit nie.”

Volgens haar kom Mosselbaai se drinkwater oorwegend uit die Wolwedansdam (tans 61,48% vol) en die Klipheuweldam (55,95%). Die ander twee damme is die Ernest Robertsondam (94,99%), ’n voederdam vir die Wolwedansdam, en die Hartebeestkuildam (5,06%) wat oorwegend water aan landbouers in die Hartenbos-distrik verskaf.

Sy sê Mosselbaai kry ook water van talle boorgate en beskik oor ’n seewater-ontsoutingsaanleg, maar water uit die aanleg is egter duur.

Volgens haar moet inwoners besef dat Mosselbaai, soos die res van die land, waterbronne nougeset moet bestuur omdat water skaars is in Suid-Afrika. Die munisipaliteit vra daarom dat inwoners ag slaan op sy versoek vir waterbesparings.

Meer oor:  Munisipaliteit  |  Mosselbaai  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.