Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Skielik is daar net vlamme’ by braai

’n Jong man en ’n tiener van die Wes-Rand het ernstige brandwonde opgedoen ná ’n fratsongeluk om die vleisbraaivuur toe ’n bottel oktaan-aanjaer ontplof het.

Marius Mathee (29) en Jaco Badenhorst (14) het die afgelope vyf maande gereeld saam gebraai.

Die 14-jarige Jaco Badenhorst, ’n leerling van die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp, en Marius Mathee (29), ’n mynwerker van die Wes-Rand, lê albei in die hospitaal ná die ongeluk verlede Saterdag. 45% van Jaco se liggaamsoppervlak is verbrand en 49% van Marius s’n.

Jaco is tans in die Leratong-hospitaal in Krugersdorp, en Marius word in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg versorg. Albei se toestand is stabiel, hoewel Marius sedert die ongeluk nog in ’n koma is.

' Ek het my stom geskrik.'

Kyla Steyn sê Marius (haar verloofde) en Jaco (haar boetie) was besig om vleis te braai toe ’n bottel oktaan-aanjaer – ’n middel wat motorsportgeesdriftiges gebruik om die oktaanverhouding van petrol te verhoog – ontplof het.

Kyla sê hulle het vyf maande gelede in ’n nuwe huis in Witpoortjie, in die weste van Johannesburg, ingetrek. Die huis het ’n ingeboude braaiplek met ’n swembad en ’n kroeg.

Mathee se hande het heeltemal verbrand en van Saterdag af was hy nog glad nie wakker nie.

“Ons het omtrent elke naweek daar gebraai. Dit is ’n heerlike kuierplek,” vertel sy.

Sy sê tussen die braaiplek en die kroeg het ’n 5 liter-houer met oktaan-aanjaer gestaan. Sy sê sy vermoed ’n vorige huurder het dit gebruik om sy vleisbraaivuur vinniger aan die brand te kry. Sy sê hulle het dit nooit gebruik nie en het eintlik nie geweet wat om daarmee te doen nie – en het dit daarom ook nie weggegooi nie.

Sy vermoed van die dampe uit die houer het ontplof toe Marius die vuur aansteek.

Jaco Badenhorst – 45% van sy lyf is verbrand.

Sy sê sy het pas hul baba in die bed gesit en het toe saam met ’n vriendin koffie gemaak.

“Net toe ons met ons koffie by die skuifdeur uitstap, blaas die vlamme die hele plek vol,” sê sy.

“Ek het my stom geskrik. Ek kon nie eens beweeg toe ek sien wat gebeur het nie.”

Kyla Steyn hardloop nou tussen twee hospitale rond. Foto: Jaco Nel

Sy sê die ander vriende het onmiddellik vir Jaco en Marius in die swembad gegooi om die vlamme aan hul lywe te blus.

Haar suster het sekondes voor die ontploffing nog op ’n bank naby die bottel lê en slaap. “Sy het letterlik net opgestaan om ’n koeldrank te gaan skink, toe brand die hele bank.”

Sy sê om haar broer en verloofde se beserings te sien, is verskriklik.

Marius Mathee – 49% van sy lyf is verbrand.

“Ek kan nie meer na albei op een dag gaan nie. Dit is vir my net te erg. Een dag voel ek emosioneel, daarna beter en die volgende dag so depressief ek wil nie eens uit die huis gaan nie. Ek is regtig erg geskok.”

Kyla ontvang op die oomblik hulp van die Hero Burn Foundation wat geld insamel vir slagoffers van erge brandongelukke.

Annerie du Plooy, uitvoerende hoof van Hero Burn, sê die ongeluk het juis gebeur in die nasionale brandbewustheidsmaand wat gehou word om mense te waarsku teen die gevare van vuur.

Meer oor:  Marius Mathee  |  Kyla Steyn  |  Jaco Badenhorst  |  Brand  |  Vuur  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.