
Jaun-Mare du Toit saam met haar man, A.G., en hul dogters, Elsome (5) en Anja (2). Foto: Gitte Jonas
Daar is groot hartseer oor die skielike dood Woensdagoggend van ’n jong ma van Askham in die Kalahari.
Jaun-Mare du Toit (34), wat as ’n klinieksuster by die Askham-kliniek gewerk het, was volgens haar tante, Lourette Wiehahn, dié oggend nog vrolik en vol lewenslus voordat sy in haar slaapkamer ineengesak het.
Wiehahn sê Du Toit het omstreeks 08:00 voorberei om saam met ander boervroue in die omgewing aan ’n aanlyn oefenprogram deel te neem.
“Hulle het weens die Covid-19-pandemie gereeld tuis aanlyn by die oefenklasse ingeskakel om te kon oefen,” sê Wiehahn.
Sy sê Du Toit het nog lekker vir haar man, A.G., gelag en gesê hy moet maar eerder nie in die kamer wees as sy en haar vriendinne oefen nie.
“Sy het hom gestuur om eerder vir hul dogtertjies, Elsomé (5) en Anja (2), pap te gaan maak. Toe hy minute later by die kamer inloop, het sy op die vloer gelê.”
. . . Dit was nie eens ’n hartaanval nie. Sy was blakend gesond en ons verstaan nie hoekom dit gebeur het nie
Wiehahn sê A.G. het dadelik sy buurman, Neno Knoetze, ontbied en kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op sy vrou begin toepas.
Nadat Knoetze by die plaas opgedaag het, het hulle met Du Toit na die kliniek in Askham gejaag, maar dit was vergeefs.
“Sy was dood. Die lykskouing het getoon dat haar hart net gaan staan het. Dit was nie eens ’n hartaanval nie. Sy was blakend gesond en ons verstaan nie hoekom dit gebeur het nie,” sê Wiehahn.
Wiehahn sê Du Toit se ouers, Bertie en Elsebie Heyns, en A.G. is verpletter.
“Sy was ons engelkind, Jesus se kind,” het ’n gebroke Elsebie Vrydag gesê.
Die nuus het Woensdag skokgolwe deur die Kalahari en Upington gestuur.
“Sy was so gelief onder haar familie, vriende en die gemeenskap. Die gemeenskap is ten gronde oor hul suster Du Toit,” sê Wiehahn.
Honderde boodskappe van medelye het vir Du Toit ingestroom.
In ’n roerende huldeblyk skryf Barri Knoetze, ’n hegte vriend van die Du Toit-egpaar: “Liewe Jaun-Mare. Vandag kom ruk jy ons familie, ons vriendekring, die gemeenskap en sommer die wyer samelewing tot stilstand. Meer as wat Covid-19 kon droom!
“Jy’t my en menige ander in ons spore laat stop. Inteendeel, jy’t my laat omdraai, omdraai om reg te maak, omdraai om voor my eie deur te vee. Omdraai om my lewe ten álle tye gereed te kry. Ons kon altyd reken op jou.”
Hy sê sy het baie vir die gemeenskap gedoen.
“Jy’t gelewe om ons te laat lewe. Jy’t nie onderskeid getref nie, jy’t almal gehelp. Jou pasiënte het geglo in jou soos hulle in Zam-Buk glo. Jy was hul suster Du Toit.”
Wiehahn sê ’n privaat gedenkdiens sal binnekort vir Du Toit gehou word.
Sy word deur haar man, haar dogters, haar ouers, haar suster, Elzanne, en haar broer, Bertie jr., oorleef.