Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skink ’n dop Oude Meester op óú vriend

Stormloop na Volksblad se R-bylaag, lui die berig op die voorblad van Die Volksblad op Donderdag 1 Junie 1961.

Charles Smith

Die spesiale Republiek-bylae was groot nuus.

Byna 60 jaar later het ons weer ’n spesiale bylae, dié keer om die einde van Volksblad as gedrukte koerant te gedenk.

Ek het Die Volksbladin oupa Frans en ouma Martie se lessenaar in Zeekoegat, Rouxville, se huis gekry waar dit ses eeue bewaar is. Saam met ’n spesiale uitgawe van Donderdag 11 April 1968 toe hul vriend Jim Fouché van Babel, Rouxville, as staatspresident ingehuldig is.

Ek kan ure lank ou koerante lees. Met Republiekwording is daar berig op die voorblad Man dien Poswese in twee Republieke. Dit gaan oor H.H.J. Bierman van Theunissen wat 63 jaar tevore in die Vrystaatse Republiek in die poskantoor begin werk en toe op 75 in die Republiek van Suid-Afrika die pos behartig het.

Ek lees die koerant soos ouma Martie dit sou lees in Zeekoegat se sonkamer, haar bors effens hygend weens asma. Sy sou nie die advertensie op die linkeroortjie vir Porthos-brandewyn teen 12/6 raaksien nie. Maar dalk John Orr’s s’n vir winterjasse vir net R11,95. Maar dis veral die hooffoto wat haar sou opval. Pres. C.R. Swart, ook ’n Vrystater soos oom Jim, kom op die lughawe in Bloemfontein aan om sy vrou, Nellie, in die Nasionale Hospitaal te besoek. Oupa en ouma sou dié aand vir tant Nellie bid, en vir die nuwe Republiek. Ek kan die trots deur hul boere-are voel vloei. Die Volksblad het die nuus gebring.

Tjeers op ’n ou meester en ’n pel in duisende huise oor meer as tien dekades. My hart huil. Maar jy het jou werk knap gedaan, ou vriend.

Só het ons dekades lank die nuus op Zeekoegat en op Mispa gelees. Oor die sluipmoord op dr. Verwoerd (die donkerste dag in Afrikaner-geskiedenis), die sluipmoord op pres. Kennedy, die Grensoorlog en die ineenstorting van die Afrikaner se apartheidsdroom. Langs Oupa en Ouma of pa Hendrik en ma Grietje.

Dis hoe ek by Volksblad begin werk het – die stories het in my bloed kom kruip. Dis waar ek 30 jaar sou werk.

My eerste berig, begin 1990, was oor ’n skoonma wat ’n motor langs die N1 aanskakel waar hy onklaar geraak het en die waaierband haar skoonseun se vingers afsny.

Ek word soggens wakker as die Volksblad op die plaveisel val. Ek sien die koerant dié week by die Wimpy. Van Maandag is hy weg, hoewel jy dit op jou foon sal kan lees. Die tyd stap aan, die Vrystaat kwyn. Drome sterf, nuwes vat pos.

Ek wil ’n Oude Meester klink op Volksblad.

Alleen.

Tjeers op ’n ou meester en ’n pel in duisende huise oor meer as tien dekades. My hart huil. Maar jy het jou werk knap gedaan, ou vriend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.