Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
VIDEO: Skok-aanmerkings: Vroue-dominees word só geteister

“Met so ’n mooi domineetjie soos jy – die manne is seker bang jy preek vir hulle in die slaapkamer.”

“Nagmaal is maar net beter in ’n man se stem.”

“Ons klankstelsel is nie gerat vir ’n vrouestem nie.”

“Jy moet asseblief met ouer lidmate werk, die jonger vroue is bang jy vry hulle mans af.”

“Dis hoekom ons nie vroue moet aanstel nie, julle kies julle kinders bo die kudde.”

“Die Bybel sê die vrou mag nie onderrig nie. Dis dalk hoekom die Here nog nie vir jou kinders gegee het nie. Jy is ongehoorsaam.”

“Dis nie ’n vrou se plek om oor verkragting te preek nie. Bly liewer stil, dit laat die manne skuldig voel.”

“Darem het ons ook nou iets moois om na te kyk op die kansel.”

“Jou bene is te mooi. Die omies luister nie in die diens nie. Daar sit seker ’n klomp mans in jou erediens.”

Dr. Carin van Schalkwyk, skriba van die Vrystaat-sinode van die NG Kerk. Foto: Facebook/Carin van Schalkwyk

Dít is net van die skokkende aanmerkings wat al teenoor vrouepredikante in die NG Kerk gemaak is.

Dr. Carin van Schalkwyk, skriba van die Vrystaat-sinode, het Dinsdag in Benoni ’n verslag oor seksuele teistering en wanpraktyke in die werkplek ter tafel gelê op die NG Kerk se 17de vergadering van sy Algemene Sinode.

Die aanmerkings, wat deur mans én vroue teenoor vrouepredikante gemaak is, is ook vervat in ’n video wat vir die vergadering gespeel is.

“Dis nou 29 jaar sedert vrouepredikante in die kerk toegelaat is,” het Van Schalkwyk vir die 192 afgevaardigdes gesê.

“As eerstejaar-teologiestudent was dit die grootste geskenk wat ek kon kry. My kerk het erken God het my ook geroep. My kerk het bevestig ek het nie verkeerd gehoor nie.”

Maar die vreugde het een dag geduur, sê Van Scalkwyk. Sy sê die “broers” in haar klas by die kweekskool in Stellenbosch was ’n dag ná die sinode se besluit “baie ontsteld”.

Hulle het volgens Van Schalkwyk gemeen die sinode “het sonde gepleeg teen God en die Heilige Gees” om vroue in die bediening toe te laat.

“Ek het ’n objek geword. Hulle het begin praat oor my, nie met my nie.”

Volgens Van Schalkwyk het die stryd voortgeduur toe die tokkelokke vir werk moes begin aansoek doen. Verskonings soos “dis gevaarlik om alleen te ry” en “wat gebeur as ’n vrou swanger word?” is volgens haar aangevoer as verskonings waarom vroue nie beroep is nie.

“Tydens my eerste moderamenvergadering het ek besef: Ek is die kwotaspeler hier.”

Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris, en Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter, spreek Maandag die seën uit oor ds. Nioma Venter nadat sy as ondervoorsitter van die Algemene Sinode van die NG Kerk verkies is. Foto: Deaan Vivier
Ds. Nioma Venter, nuwe ondervoorsitter van die Algemene Sinode van die NG Kerk. Foto: Deaan Vivier

Van Schalkwyk sê benewens die dankbaarheid en trane nadat ds. Nioma Venter as assessor van die Algemene Sinode se Moderamen (ASM) verkies is, het die kerk nog ’n lang pad om te gaan.

“Die kerk is in die moeilikheid, want die kerk – anders as maatskappye - het geen amptelike beleid oor hierdie saak (seksuele teistering en wanpraktyke in die werkplek) nie.”

Die Algemene Sinode het sy Moderamen opdrag gegee om ’n taakspan vir gendergeregtigheid op die been te bring om aan aanstellings- en arbeidspraktyke, taalgebruik, patriargale teologie, seksuele teistering en die verteenwoordiging van vroue op kerkrade en ander bestuurspanne aandag te gee.

Die Algemene Sinodes het gemeentes ook opnuut versoek om vroue as kerkraadslede na sinodes af te vaardig en vroue in kerkrade en ander bestuursrolle aan te stel. Die NG Kerk het onderneem om met die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in hierdie verband saam te werk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.