Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skok en meegevoel ná aanklaer se skietdood in hof
Addelaid Ferreira-Watt
Addelaid Ferreira-Watt se dogter Lindsay Ann Watt het op 12 Augustus 2018 die foto van haar ma op Facebook gedeel met die onderskrif: “Die mooiste siel op die planeet, my mamma! Ek hoop dat ek net helfte die vrou kan wees wat jy is – die beste, mooiste, sorgvuldige, snaaksste en hardste (as sy moet wees) dame wat ek ken. Ek is uitermate geseën.” Foto: Facebook/ Lindsay Ann Watt

Sondagaand, minder as 24 uur voor haar dood, het adv. Addelaid Ferreira-Watt (62) van Pietermaritzburg vir haar vriendin Elsabey Luus gesê dis tyd dat sy haar spreekwoordelike tokse ophang.

“Sy het vir my gesê sy is moeg. Ek was die laaste week so bekommerd oor haar. Ek is flenters oor my maatjie wat weg is,” sê Luus oor haar vriendin wat in die Umzimkhulu-landdroshof in KwaZulu-Natal geskiet is terwyl sy met ’n huisbraaksaak besig was.

Ferreira-Watt, ’n senior staatsaanklaer, is Maandag geskiet toe ’n skoot in die hof met ’n gelaaide haelgeweer, ’n bewysstuk in die saak, afgevuur is. Sy het laat die middag in 'n hospitaal gesterf.

Sy het Sondag nog op haar Facebook-blad geskryf dat sy opgewonde is om die saak af te handel. “Terug na Ixopo en Umzimkhulu om aan te gaan met die plaasmisdaadsaak. Daarna klaar vir die jaar met rondry. Daarna net kantoor en my huis. Ek is 'n regte huishen,” het sy geskryf en al haar vriende 'n "pragtige week" toegewens.

Brig. Jay Naicker, KwaZulu-Natalse polisiewoordvoerder, sê sy is in die linkerheup getref. Sy is net ná 18:00 in die hospitaal dood.

Watt was besig met ’n saak teen vyf mans wat daarvan beskuldig is dat hulle Cheryl Biggs en haar man, Dave, op hul plaas in Ixopo in Maart 2014 aangeval het, berig The Witness.

Volgens Cheryl Biggs het die polisie die geweer Maandagoggend by haar afgehaal om as bewyse gebruik te word. Sy was nie self in die hof nie.

Naicker sê die rede waarom die wapen gelaai was, is nog onseker en dit word ondersoek.

Ferreira-Watt was die ma van Lindsay Ann Watt, wie se pa, Malcolm Watt, dood is toe sy net sewe jaar oud was. Watt wil in die stadium nie kommentaar lewer nie.

Haar ma se dood is vir haar baie erg, sê Johan Schoeman, Ferreira-Watt se lewensmaat van die afgelope ses jaar.

Lindsay Ann Watt en haar ma, Addelaid Ferreira-Watt, was onafskeidbaar. Ferreira-Watt is Maandag in die Ixopo-streekhof in ’n frats-skietongeluk dood. Foto: Facebook/Lindsay Ann Watt

“Maar sy het altyd gesê mense moet heerlike kos eet, goeie wyn drink en musiek luister op haar begrafnis. Hulle moenie treur oor haar dood nie, maar moet liewer haar lewe vier,” sê Schoeman.

Hy voeg by dat sy ’n goeie humorsin gehad het en altyd positief was. “Maar moenie dink haar goeie gesindheid het haar laat terugstaan in die hof nie. Selfs die mees gesoute misdadigers wou nie onder haar ondervraging of kruisondervraging deurloop nie,” sê hy.

Dit was juis tydens ’n hofsaak oor taxi-geweld sewe jaar gelede dat ’n groep misdadigers haar by haar huis ingewag en geslaan het.

“Sy moes hulle nie vervolg het nie, maar sy is gedwing en toe wag hulle haar in. Hulle het haar amper doodgeslaan. Dit was so erg dat die regter haar nie herken het toe sy weer in die hof verskyn nie.”

Volgens Schoeman het Ferreira-Watt al hoe minder strafsake gedoen en veral op appèlsake in die hooggeregshof en konstitusionele hof gefokus.

“Ons land het een van sy mees gesoute en ervare advokate verloor,” sê hy.

Ferreira-Watt se suster, Karin Stander, sê sy is ten gronde.

“My ouers, Joey en Naas Ferreira, is geskei toe sy 13 en ek nege jaar oud was. Sy het van toe af al na my gekyk. Sy het my my hele lewe beskerm en my met haar vlerke omvou. Die feit dat sy nie meer hier is nie, maak my skoon bang,” sê Stander.

Sy sê sy en Ferreira-Watt het Sondagaand nog grappies vir mekaar gestuur en dat dit onwerklik voel dat sy nie net haar suster nie, maar haar beste vriendin verloor het.

Honderde mense het ook kommentaar op Facebook gelewer.

“Ek is so ontsettend jammer om dit te hoor. My innige meegevoel aan Lindsay, haar geliefdes en vriende. Sy was so ’n spesiale mens,” sê Lindy van Niekerk in die kommentaar-afdeling op ’n plasing oor Ferreira-Watt se dood.

Theresa Steyn het op dieselfde plasing kommentaar gelewer en gesê dit is skokkend en tragies. “Ek het nie woorde nie! Ek is so jammer. Ek dink aan jou en aan haar familie. Net die Vader kan mens help om sulke goed te verwerk. Dis bitter moeilik.”

Op die vraag oor hoe dit moontlik is dat die gelaaide wapen nie beveilig is nie, het Gert Nel van die KwaZulu-Natalse nasionale vervolgingsgesag (NVG) gesê ondersoek sal ingestel word.

“Aanvaar asseblief dat dit een van ons kollegas was, dat almal geskok is en dat ons angstig is om die feite van haar tragiese dood vas te stel,” sê Nel.

Meer oor:  Addelaid Ferreira-Watt  |  Skietdood  |  Hof  |  Staatsaanklaer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.