Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skok-foto’s van kinders wat ‘stoei’

’n Karate- en stoei-afrigter van Bronkhorstspruit verkwansel foto’s van jong kinders in suggestiewe posisies op die internet – na bewering aan mense met ’n fetisj vir kinderseks.

Twee van die foto’s van kinders in suggestiewe posisies op die Fighting Kids-webblad van Neville Randall.

Neville Randall bedryf al sedert 2000 die Fighting Kids-klub in Bronkhorstspruit waar hy kinders in stoei, gemengde gevegskuns, judo, boks en karate “afrig”.

Randall se webblad, www.fightingkids.com, vertel egter ’n ander verhaal. Pleks van die inligting wat ’n mens gewoonlik op so ’n webblad sou verwag – soos biografiese inligting van die instrukteurs, besonderhede oor die verskillende dissiplines wat afgerig word of die ligging van die gimnasium – bevat sy webblad bladsye en bladsye met duisende foto’s van kinders wat met mekaar “stoei”.

Mense kan versamelings van dié foto’s koop teen R1 000 vir laeresolusie-foto’s of R1 500 vir ’n stel met hoër resolusie.

Daar is ook ’n blad met profielfoto’s van 46 kinders waaruit klante kan kies as hulle hul eie stoeitonele wil saamstel. ’n Kode agter elke kind se naam dui aan aan watter soort tonele of gevegsituasies die kind deelneem.

‘As my dogter al haar moves ken, kry sy ’n bonus.’

Xanthé weeg byvoorbeeld 42 kg, sy is 1,49 m lank en “can be used in a torture rack and reverse T-lift hold”.

In die meeste van die honderde foto’s op die blad is jong meisies én seuns betrokke, almal oënskynlik tussen tien en 15 jaar oud.

In sommige foto’s hou die kinders mekaar in meer konvensionele stoeigrepe vas, terwyl ander beslis seksuele ondertone het. In een foto lê ’n seun bo-op ’n meisie met sy kop op haar onderlyf en haar kop tussen sy bene vasgeknyp. In ’n ander maak ’n meisie ’n seun met oopgesperde arms aan ’n traliehek vas terwyl sy hom op ’n ander foto in die maag slaan terwyl hy aan ’n boom vasgemaak is.

Kinderbeskermingsowerhede is egter magteloos om teen die eienaar van die webblad op te tree, omdat daar oënskynlik geen misdaad gepleeg word nie en omdat die foto’s met die ouers se medewete geneem word.

Tydens ’n internetspeurtog het Rapport egter afgekom op ’n Facebookblad wat oënskynlik aan een van Randall se klante behoort.

Twee van Neville Randall se studente by Fighting K
Twee van Neville Randall se studente by Fighting Kids beeld ’n selfverdedigings-greep uit op sy webwerf.

Op die blad van ene Aaron Lautner is daar talle foto’s soortgelyk aan dié op die Fighting Kids-blad. Een daarvan dra ook die Fighting Kids-logo.

Die kommentare van ander gebruikers op dié foto’s is byna altyd suggestief en seksueel van aard.

Op een foto hou een seun ’n ander in ’n Nelsongreep vas terwyl dit lyk asof nóg ’n seun hom in die maag slaan.
“Wonderlike foto,” skryf ene Lee Hub.

Michael Tovar skryf: “1 on 1 that is what I want. Soooo hot.”

’n Ander gebruiker, ene “Still Mike” (wat volgens sy profiel in Jermyn, in die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië woon) sê: “That is a totally hot photo, I’ll love it if these boys would misuse me.”

Randall het die afgelope week op geen van Rapport se vrae oor sy klante gereageer nie.

Neville Randall wat die Fighting Kids-klub in Bron
Neville Randall wat die Fighting Kids-klub in Bronkhorstspruit bedryf. Foto: Deon Raath

’n E-pos waarin die koerant hom konfronteer met die feit dat hy, soos uit sy Facebook-vriende se eie profiele blyk, móét weet dat sy klante ’n seksuele fetisj het, wat kinderseks insluit, het ook onbeantwoord gebly.

Die ouers van kinders wat op die oomblik of vroeër deur Randall afgeneem is, het egter met afgryse gereageer toe Rapport hulle op die inskrywings op sy Facebook-blad wys.

Een ma, wat as kassiere by ’n plaaslike groothandelaar werk (haar naam word weerhou om haar dogter te beskerm) sê haar 12-jarige dogter gaan gereeld na Fighting Kids.

“Dis nie soos baklei nie. Dis meer soos acting. Die kinders staan in poses en trek hul gesigte.

“Daar is DVD-sessies ook,” het die vrou Vrydag gesê.

Sy sê die kinders word vooraf gesê wat hulle voor die kamera moet doen.

“As my dogter al haar moves ken, kry sy ’n bonus. Sy het verlede maand R700 verdien.”

Sy sien niks verkeerd daarmee nie.

“Niemand sukkel met haar nie en sy geniet dit. Dis baie geld vir ’n kind, maar sy spend dit lekker.”

Sy weet nie regtig wie die foto’s koop nie.

“Ek dink dis mense oorsee. Hulle gebruik dit om kinders selfverdediging te leer.”

Toe Rapport Saterdag vir haar sê wat die koerant se ondersoek alles blootgelê het, was die vrou geskok.

“Neville sê nog al die tyd vir my dis mense oorsee wat my kind borg. Hy sê ook sy onderneming is geregistreer en heeltemal wettig.
“Die borge is volgens hom mal oor my kind, dis hoekom sy so gereeld bespreek word.

“Vir haar eie veiligheid sal ek haar nou wegvat. Daardie geld is vir ons baie, maar haar veiligheid is belangriker.”

Nog ’n ma, wat haar seun (toe 14) in 2008 ná net drie sessies by Fighting Kids verwyder het, sê sy het gou hond se gedagtes gekry.


“Ná die eerste sessie het hy met R500 by die huis gekom. Die tweede sessie met R700 en toe met R1 500.

“Dis toe dat ek hom uit die klub gehaal het.”

Toe Rapport Saterdag vir haar die seksuele kommentare by die Fighting Kids-foto op Aaron Lautner se Facebook-profiel wys, was sy geskok.

“Ek het gewéét hier is ’n groot skroef los. As dié foto nie seksueel is nie, kan jy my maar Piet noem.”

Sommige inwoners van Bronkhorstspruit het etlike jare al die snuf in die neus oor Fighting Kids.

Theuns Vorster, ’n plaaslike prokureur, het reeds in 2016 alarm gemaak.

“Ek het by kinders gehoor hulle kry geld om afgeneem te word as hulle stoei – en het dadelik gedink dit kan nie reg wees nie.”

Vorster en nog ’n regsgeleerde het ’n konsepverklaring by die plaaslike polisie ingedien wat blykbaar na die polisie se eenheid vir seksuele misdrywe verwys is. Vorster sê hy weet daar is ’n ondersoek begin, want hy het met die ondersoekbeampte gepraat, maar dit het blykbaar later doodgeloop.

Randall hou vol sy fotonemery is onskuldig. “Dit gaan oor selfverdediging. Die kinders illustreer selfverdediging-grepe. Mense koop dit dan en gebruik dit vir opleiding.

“Ons maak ook klein stories. Iemand soek dalk ’n verhaal oor ’n boelie wat sy les leer, dan script hulle dit en die kinders voer dit op,” sê Randall.

“Ek het streng reëls soos hoe lank hulle kan skiet en hulle word ook voorgeskryf watter klere hulle mag dra. Geen kind kan sonder die skriftelike toestemming van ’n ouer deelneem nie.”

Op sy webwerf skryf hy: “Ons kinders verdien sakgeld wanneer hulle in ’n foto-stel of DVD optree. Ons kinders verdien meer geld per uur as die meeste volwassenes. Hulle gebruik hul geld om klere, rekenaars, fietse, of wat hulle ook wil hê, te koop.”

“Ek het al kinders van mense soos ’n landdros en ’n polisielid in my klub gehad. As julle enigiets publiseer wat my in ’n slegte lig stel, gaan ek jou en die koerant dagvaar.”

Hy het nie geantwoord op ’n SMS wat Saterdagmiddag aan hom gestuur is oor die suggestiewe opmerkings oor kinders op foto’s wat hy geneem het nie. ’n Kliniese sielkundige, Louis Awerbuck, sê daar is beslis ’n sadomasochistiese en seksuele tema aan die foto’s.

Hy sê dit is duidelik dat Randall se kliënte mense is met ’n seksuele fetisj waar sadomasochisme, beheer en preadolessente ’n rol speel.

“In my kop is daar geen twyfel dat hierdie ’n tipe van softporn met jong tieners in gebonde situasies is nie.”

Meer oor:  Neville Randall  |  Facebook  |  Seksualiteit  |  Suggestiewe Foto's  |  Internet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.