Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skok, ongeloof ná rolbal-hoë glo sy vrou, homself skiet

Skok en ongeloof heers nadat ’n vooraanstaande lid van die Suid-Afrikaanse rolbalgemeenskap Sondag vermoedelik eers sy vrou en toe homself om die lewe gebring het in hul huis in Mosselbaai in die Suid-Kaap.

Trevor Davis (67), ’n uitvoerende bestuurslid van Rolbal Suid-Afrika, het vermoedelik eers sy vrou, Elma Davis (52), ’n Protea-rolbalspeler, met ’n haelgeweer geskiet en toe homself.

Trevor en Elma Davis Foto: Facebook

Minder as twee weke gelede het hy nog sy vrou met ’n tandem-hangsweefvlug vir haar verjaardag verras.

Hul lyke is Sondag ná 17:00 in die slaapkamer van hul huis in ’n veiligheidskompleks in Mosselbaai se bo-dorp gekry.

Die polisie is net ná 17:00 na die huis nadat ’n buurman skote uit die huis gehoor en die polisie ontbied het, sê ao. Pieter Koekemoer, ’n polisiewoordvoerder.

“Die deure was gesluit en moes deur die polisie en die brandweer oopgedwing word. ’n Man en vrou is met skietwonde op die vloer in die hoofslaapkamer gevind. Albei is op die toneel dood verklaar. ’n Haelgeweer is ook op die toneel gekry.”

Volgens Koekemoer sal ’n lykskouing gedoen word. ’n Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen. Bykomende klagte mag moontlik tot die dossier gevoeg word, sê hy.

Die motief vir die voorval is onbekend.

Die haelgeweer is gelisensieerd en het aan Trevor behoort.

Elma het nog verlede week aan die All Cape-rolbaltoernooi vir vroue in Port Elizabeth deelgeneem. Die toernooi het Vrydag geëindig. Foto’s van haar saam met rolbalspelers op die strand en by die toernooi verskyn op haar Facebook-blad.

Abrie de Swardt, ’n bekende in Suid-Kaapse sportkringe wat in die Eden-sportraad dien, sê almal is baie geskok oor die voorval.

“Die hele situasie is vir my duister. Hulle was baie lief vir mekaar. Hulle was baie aan die gang en aangename mense.”

Die egpaar het nie kinders gehad nie. Na verneem word, was dit Trevor se tweede huwelik en het die egpaar ’n paar jaar gelede van Bloemfontein af na die Tuinroete verhuis.

Volgens hom sou Elma volgende week as deel van die Suid-Afrikaanse rolbalspan in Engeland deelgeneem het, en was Trevor betrokke by die Internasionale Rolbalfederasie. Elma het verlede jaar ’n silwermedalje op die Statebondspele verower.

“Hulle het vir die sportgemeenskap geweldig baie beteken,” sê hy. “Hy het haar afgerig.”

Luidens inligting op Elma se Facebook-blad het Trevor haar op 2 April met ’n tandem-hangsweefvlug in Wildernis vir haar verjaardag verras.

Volgens Rolbal SA was Trevor ’n voormalige president van die Suidelike Vrystaat-rolbalvereniging en Eden Rolbal. Hy was ’n uitvoerende bestuurslid van Rolbal SA en het Suid-Afrika etlike jare in Wêreldrolbal se wettekomitee verteenwoordig.

Elma het in 2014 haar Protea-kleure verwerf en Suid-Afrika met onderskeiding in die sportsoort verteenwoordig.

Boodskappe van simpatie en medelye het Maandag op Facebook vir die egpaar se familie en vriende ingestroom.

Hulle is beskryf as rolmodelle en “in die fleur van hul lewe”.

Die egpaar het nie kinders gehad nie. Na verneem word, was dit Trevor se tweede huwelik en het die egpaar ’n paar jaar gelede van Bloemfontein af na die Tuinroete verhuis. Geen begrafnisreëlings is nog bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.