Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skok oor Songezo Mjongile se dood, ‘vegter tot bitter einde’

Die dood van Songezo Mjongile, voormalige Wes-Kaapse sekretaris van die ANC, op die jong ouderdom van 47 het mense in die ANC-geledere geskok.

Hoewel Mjongile maande lank ’n stryd teen kanker gevoer het, het hy tot op die einde nog gehoop dat hy by die “vernuwing” van die ANC betrokke sou wees.

Hy was ’n lid van die tussentydse provinsiale komitee in die Wes-Kaap.

Songezo Mjongile Foto:Verskaf

Mjongile, wat liefdevol onder sy partylede bekend gestaan het as “Madiba”, sy stamnaam, is Donderdagaand in sy huis in Morningside, Johannesburg dood.

Kolonkanker is in April vanjaar by hom gediagnoseer en volgens een van sy Facebook-inskrywings het die chemoterapie-behandeling nie gewerk nie.

“Die newe-effekte daarvan het tot nierversaking en ’n ligte hartaanval gelei. Ek het met die genade van God oorleef. Ek het ’n tweede kans op die lewe en bid dat God my die krag sal gee om my kinders en familie groot te maak,” het hy geskryf.

Oor die ANC het Mjongile geskryf: “Ons moet nou soos die Madiba-generasie van rat verander. Die ANC kan nie in ons hande sterf nie. Die toekoms van ons mense hang daarvan af. Daar is niemand wat groter as die ANC is nie. Óf ons red die ANC, óf ons red individue en vergaan. Vir my is die regte vraag: Wat is die missie van ons generasie?

Ek bid dat God my die krag sal gee om my kinders en familie groot te maak

“Ek het ’n tweede kans op die lewe gekry en ek sal help met die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR)-projek. Hoop God kan my wense seën. Ons het benodig ’n Tambo, Mandela, Sisulu. Buite alle faksies. Die lewe is die waardevolste ding wat ons het.”

Die ANC se nasionale leierskap sê in ’n verklaring hy het eers op 29 Augustus verneem dat Songezo kanker het toe hy dit op sosiale media bekend gemaak het.

“Mjongile was ’n vegter tot die bitter einde.”

Pule Mabe, die ANC se nasionale woordvoerder, sê Mjongile was ’n toegewyde ANC-lid, wat tot op die einde ’n bydrae tot die demokratiese prosesse wou lewer.

Volgens Mabe het hy sy politieke loopbaan as aktivis in die studente organisasie, Congress of South African Students (Cosas), begin en is later tot die president verkies.

“Hy het sy lewe van aktivisme voortgesit in die geledere van die ANC-Jeugliga en hom opgewerk totdat hy tot die nasionale uitvoerende komitee en nasionale werkkomitee verkies is.”

Hy is later tot die ANC in die Wes-Kaap se tesourier en later provinsiale sekretaris verkies.

Songezo Mjongile, voormalige Wes-Kaapse sekretaris-generaal (links) en Marius Fransman, voormalige provinsiale ANC-leier, vroeër op 'n nuuskonferensie. Foto: Argief

Partylede het hul hartseer en skok op Facebook uitgespreek en hulde aan hom gebring.

Faiez Jacobs, ANC-LP, wat hom sedert hul hoërskooldae geken het, het gesê hul paaie het oor die afgelope 30 jaar voortdurend gekruis. “Ons was saam op winterskool toe ons op hoërskool was, hy was van Gugs en ek was van Mitchells Plain, en ons het saam op hoërskool op die Kaapse Vlakte nie-rassigheid bevorder. Hy was ’n ware kameraad en sal gemis word.”

Marius Fransman, voormalige ANC-leier in die Wes-Kaap, het gesê hy is diep bedroef deur Mjongile se dood.

Fransman was die provinsiale voorsitter toe Mjongile die sekretaris was.

“Ek was gelukkig om verlede week ’n baie lang gesprek met hom te kon hê, en hy was vol liefde, het gelag, grappies gemaak en indringende vrae oor die politieke landskap gehad. Inderdaad net soos ons hom geken het, vol liefde, lag en kwinkslae!”

Lerumo Kalako, sameroeper van die ANC in die provinsie, het hom bestempel as ’n “moderne kameraad”, wat in die ANC-Jeugliga begin het en deur toewyding uitgestyg het.

“Ons betreur hom innig en betuig ons medelye aan sy familie, vriende en kamerade.”

Mjongile is in 2011 met Humile Bogatsu getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore.

Meer oor:  Anc  |  Cosas  |  Leier  |  Skok  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.