Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skok oor Weermag 746 diere wil doodskiet

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is van plan om 746 stuks wild op sy weermagbasisse in Suid-Afrika teen ’n geraamde koste van R50 miljoen te laat “uitdun”.

Dít terwyl die SANW in ernstige finansiële nood is en erken het soldate kan weens ’n tekort aan geld nie die land se grense behoorlik bewaak nie.

Kameelperde in die Masai Mara-natuurreservaat in Kenia Foto: HARSHIL GUDHA

Intussen het ’n koalisie van nie-regeringsorganisasies (NRO’s) met ’n petisieveldtog begin om te keer dat dié “onskuldige diere” waaronder kameelperde, “wat besig is om stadig oral in Afrika uit te sterf”, swartwitpense en waterbokke doodgemaak word. Meer as 1 200 mense het teen 14:00 Vrydag die versoekskrif onderteken en ’n beroep op die SANW gedoen om dit te oorweeg om die diere op wildplase te laat hervestig.

Brig. Mafi Mgobozi, woordvoerder van die weermag, het gesê die weermag kan dit nie bekostig om die diere te laat hervestig nie, omdat dit geld sal kos.

Hy het gesê die wild sal van die militêre basisse “verwyder word” omdat die drakrag van die gebied waar hulle aangehou word, oorskry is.

Simphiwe Dlamini, hoof die weermag se kommunikasie-eenheid, het aan die radioprogram Spektrum gesê die wild sal “beslis nie uitgedun en dus doodgeskiet word nie.”

Dít terwyl die tenderdokument duidelike vereistes aan die “diensverskaffer” (die persoon aan wie die tender toegeken is) stel wat die diere gaan skiet.

Die diensverskaffer moet uiteensit hoe hy die dier se geslag gaan identifiseer en sy gewig gaan bepaal voordat hy die sneller trek.

Kameelperde in die Krugerwildtuin afgeneem.Foto: VINCENT VAN ZALINGE

Die diensverskaffer moet ook uiteensit hoe hy gaan optree as die dier nie doodgeskiet is nie, maar net gewond is. Hy moet ook uiteensit hoe die karkasse geweeg, vervoer en geberg gaan word voordat hy (die diensverskaffer) die vleis van die hand gaan sit.

Maj. Kusela Kutshwa, woordvoerder van die weermag, het gesê die SANW gaan geen geld uit dié proses kry nie.

Die wild is tans op die militêre en opleidingsbasisse Hoedspruit, Naboomspruit, Sterkrivier en Roodewal, by die Makhado-lugmagbasis en die Drakensig-woongebied.

Die NRO’s is veral woedend oor die 25 swartwitpense, die 30 waterbokke, die 12 kameelperde en 100 basterhartbeeste wat as deel van die uitdunning doodgeskiet sal word.

Die NRO Save Our Rhino (SOR) het gesê “daar is ’n slang in die gras”.

“Waarom word die diere nie aan opkomende wildboere geskenk nie?

SOR het verwys na Edna Molewa, minister van omgewingsake, se verklaring verlede jaar toe sy beklemtoon het voorheen benadeelde boere moet “’n groter aandeel” kry in die wildbedryf deurdat wild aan hulle geskenk word.

Die tender het op 14 Augustus gesluit en is geldig vir die volgende 60 dae.

Kutshwa het gesê almal se tenderdokumente sal nou bestudeer word voordat die tender toegeken word. Sy het benadruk die SANW gaan geen geld uit die uitdunningsprojek verdien nie.

Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewing en toerisme (Ledet), wat die uitdunningspermitte moet uitreik, het gesê hul amptenare sal later reageer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.