Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skokkende video’s versprei waar boer man vermoor
Fritz Joubert
Dié foto van Fritz Joubert verskyn op sy Facebook-blad. Foto: Facebook

Video’s wat ’n Oos-Kaapse boer Saterdag geneem het toe hy glo ’n man op sy plaas vermoor het, is op Twitter versprei en het skokgolwe deur die land gestuur.

Fritz “Majeke” Joubert (45), wat later deur ’n polisielid doodgeskiet is, het Anele Hoyana (40) op sy plaas net buite Gonubie vermoor. Dit word glo as ’n haatmoord beskou.

Hoyana se neef, Themba Rumbu, het op Twitter beweer dat ’n “rassistiese wit boer” en “vuurwapenliefhebber” sy neef vermoor het.

Wyle Anele Hoyana se neef het dié foto op Twitter gelaai. Foto: Twitter

In die video verwys Joubert onder meer na homself as ’n “prins en uitverkorene” en na Hoyana as “Satan”.

Ao. Hendrick Fielies Odendaal en konst. Phillip Bam wat op ’n noodoproep van die bure van Geluksdal (die plaas) gereageer het, het Hoyana se lyk in ’n plas bloed aangetref.

Odendaal het Joubert glo uit selfverdediging doodgeskiet toe die boer hom na bewering aangeval het in ’n poging om hom te ontwapen.

Luidens die polisie het Joubert die polisiebeamptes beveel om hul wapens neer te lê toe hulle op sy plaas aankom, en glo gesê: “Niemand gaan vandag die plaas verlaat nie.”

Hoyana Hoyana was glo op Joubert se plaas omdat ’n reinigingsritueel uitgevoer sou word.

In een van Joubert se video’s staan Hoyana op sy knieë in Joubert se huis met sy tweejarige seun in sy hande terwyl Joubert, geklee in ’n Springbok-rugbytrui, dreig om hom te vermoor.

Hoyana troos sy seun deur sy kop en rug te streel. In ’n stadium sit hy die seuntjie se kop op sy skouer om hom gerus te stel.

Joubert verwys na Hoyana as Satan en sê hy gaan hom straf volgens wat God wil hê hy moet vir sy gemeenskap doen.

Joubert verwys ook na homself as “’n prins, die uitverkorene, en die koning van Afrika, wat die krag gekry het”.

“Viva, Amandla, viva! Ek moes dit op my eie doen. Ek gaan begin met jou teen jou kop (sic) vir wat jy doen aan die wit man en die wit boer, en die swart man en die swart boer, en die soldaat.

“Dit is Satan en Satan se kind. Ek gaan hom moor. Ek gaan jou terugstuur na waarvandaan jy gekom het. Dit is hoekom ons land is waar dit is.

“Ek is prins Majeke en hulle het my die krag gegee. Nou gaan ek julle wys. Ek het dit gedoen vir ons kinders en kinders in Suid-Afrika wat beroof is, en die Guptas sit hier agter.

“Viva! Amandla! Hy het my die krag gegee om reg te maak vir ons kinders (sic). Vir die boer en die soldaat,” sê Joubert op die video.

In die foto is Fritz Joubert in tradisionele Xhosa-drag geklee. Foto: Facebook

In ’n tweede video, waarin Hoyana skynbaar reeds dood is, skree Joubert vir Hoyana se vrou: “Kom kyk,” terwyl hy Hoyana (wat op sy rug in ’n plas bloed lê) herhaaldelik met sy pistool slaan.

Joubert is in dié video kaalbolyf. Hy waai sy middelvinger in die lug en skree: “Jou p**s, almal van julle, viva,” terwyl Hoyana se vrou histeries huil en na haar man uitroep.

Op Joubert se Facebook-blad verskyn ook ’n video van die gebeure.

Daar is foto’s van hom omring deur wapens en waar hy handgebare gemaak.

In nog ’n foto is Joubert in tradisionele Xhosa-drag geklee. Hy kniel terwyl iemand hom op sy kop soen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.