Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Skole sluit, damwal breek ná reën
Die Krugersdriftdam tussen Bloemfontein en Dealesville in die Vrystaat loop oor ná goeie reën in die distrik.
Die pad tussen Winburg en Ventersburg was toe onder die water nadat ’n plaasdam oorgeloop en oor die pad gespoel het. Foto: Christo Prinsloo
Charlene Staunton het dié foto by Maselspoort geneem. Die sluise van die dam is stukkend en kan dus nie die massas water van die Mockesdam wegvoer nie. Die huise in die oord is oorstroom. Foto: Charlene Staunton

Die skade as gevolg van die hoë reënval in die sentrale Vrystaat is aan die toeneem met nóg paaie wat verspoel is, ’n damwal wat gebars het en ’n woonbuurt wat moontlik tot rampgebied verklaar gaan word.

Dit kom nadat die dodetal in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap tot 60 gestyg het.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het Woensdag die woonbuurt Bronville in Welkom besoek om haar van die skade te vergewis nadat talle huise daar oorstroom is en die skole weens die onveilige paaie tot verdere kennisgewing gesluit moes word.

Tiisetso Makhele, haar woordvoerder, sê Ntombela praat met ander departemente en rolspelers om te kyk of Bronville en ander gebiede tot rampgebiede verklaar moet word.

Die pad tussen Bronville en Riebeeckstad is verspoel en reddingswerkers van die Matjhabeng-munisipaliteit het onverpoos gewerk om voertuie uit die watermassa te red.

Volgens die Facebook-groep Welkom Stad is 35 gesinne uit hul huise gered.

Bronville, Mandelapark, Maurpark asook uitbreiding 15, 19 en 23 is deur die vloedwater verswelg.

Tshepo Davids, distriksbestuurder van die burgerlike organisasie Sanco, het Woensdagmiddag gesê die watervlakke is steeds hoog en die inwoners wag dat die munisipaliteit planne met die sluise maak.

Die Krugersdriftdam tussen Bloemfontein en Dealesville in die Vrystaat loop oor ná die reën in die distrik.

’n Noodvergadering is Woensdag in Winburg se polisiekantoor gehou nadat die Marquard-damwal gebars het toe 50 mm reën net Dinsdagaand hier gemeet is.

Pieter Rossouw, ’n inwoner, het gesê al die water loop nou na die Erfenisdam by Winburg. Dit bring verskeie paaie rondom die dorp in gedrang omdat die Vetrivier, waarin die dam uitloop, onder die pad geleë is.

Die Erfenisdam is tussen Winburg en Theunissen geleë en in die Vetrivier gebou.

’n Ongeluk waarin vyf motors betrokke was, het Woensdag tussen Winburg en Ventersburg gebeur nadat ’n plaasdam oorgeloop en die water oor die pad gestroom het. Niemand is ernstig beseer nie. Foto: Christo Prinsloo

“Die ironie is dat Winburg se water alles wegloop omdat die transformator van die grypdam stukkend is.”

Hy het gesê padgebruikers moet versigtig wees op die Marquard/Winburg-pad, die N1 tussen Winburg en Bloemfontein en die Winburg/Brandfort-pad wat moontlik oorstroom kan word as gevolg van die damwal wat gebreek het.

’n Plaasdam tussen Winburg en Ventersburg wat oorloop, het Woensdag gelei tot ’n ongeluk waarin vyf motors betrokke was. Hoewel twee van die motors glo afgeskryf is, is niemand beseer nie.

Christo Prinsloo, eienaar van Cheetah Towing, sê ’n plaasdam langs die N1 het oorstroom en die pad het verspoel.

Die Krugersdriftdam tussen Bloemfontein en Dealesville in die Vrystaat loop oor.
Bronville in Welkom kan dalk tot ’n rampgebied verklaar word nadat vloedwater die huise oorstroom en die paaie onbegaanbaar gemaak het. Foto: Gold FM 104.3

“Die bestuurders het hulle misgis met die diepte van die water en met ’n spoed daarin afgejaag omdat daar geen waarskuwings was nie.

“’n Wit Volvo het in ’n drein onder die pad beland en ’n ander grys motor het op sy dak beland.”

Hy moes reeds sewe voertuie uit die watermassa sleep.

Die Krugersdriftdam buite Bloemfontein loop reeds ’n paar dae oor.

By Bronville in Welkom is voertuie in die vloedwaters meegesleur.Foto: Verskaf
Amanda van Blerk het dié foto van die Caledonrivier op die Reënval in SA-Facebook-groep geplaas. “ ’n Vrystaat-pad links en die Lesotho-pad regs,” skryf sy. Die Caledonrivier buite Wepener in die Vrystaat loop sterk ná die goeie reënval. Foto: Amanda van Blerk/Reënval in SA

Jan Andries Truter van Fauna in Bloemfontein het gesê die gesamentlike reënval vir Fauna vir 2017 was 479 mm, vir 2018 was dit 535 mm. Vir die afgelope vier maande vanjaar is dit tot dusver 656 mm.

Die huise rondom Maselspoort is steeds oorstroom weens die sluise wat stukkend is.

Bronville in Welkom kan dalk tot ’n rampgebied verklaar word nadat vloedwater die huise oorstroom en die paaie onbegaanbaar gemaak het. Foto: Verskaf

Die Sandrivier by Libertas tussen Senekal en Arlington is in vloed, asook die Valsrivier by Kroonstad.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens voorspel vir Donderdag enkele donderbuie in die oostelike dele van die Vrystaat.

Geen reën word vir die Noord-Kaap voorspel nie.

Volgens Snow Report SA is stortreën en donderweer steeds in die Vrystaat, Noordwes, Lesotho, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal ’n moontlikheid.

Meer oor:  Vrystaat  |  Marquard  |  Vloedskade  |  Skole Sluit  |  Reën  |  Damwal Breek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.