Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skool skep trust vir gestremde leerlinge
’n Skermgreep van die video wat die Hoërskool D.F. Malan vervaardig het om te help geld insamel vir die I’mPossible-trust wat gestig is om fasiliteerders te help finansier vir leerlinge met fisieke gestremdhede sodat hulle by hoofstroomskole kan leer. Die video is gemaak met honderde leerders wat prentjies met hul skoolbaadjies uitbeeld soos dit by die MTBS-atletiekbyeenkoms gedoen word. Foto: YouTube
Herman Theart (15) van die Hoërskool D.F. Malan is die inspirasie vir die skool se I’mPossible-trust wat beoog om geld in te samel om fasiliteerders aan fisiek gestremde leerlinge te verskaf sodat hulle ook hoofstroomskole kan bywoon. Hier is Theart saam met sy pa, MC Theart (links), sy fasiliteerder, Sidney Stoffberg (naasregs), en sy ma, Antonette Theart (heel regs). Foto: Verskaf

Kaapstad.– Dit behoort nie onmoontlik te wees vir leerlinge met fisieke gestremdhede om by hoofstroomskole in te skryf nie, en daarom het ’n Kaapse hoërskool pas ’n trust begin om dit ’n moontlikheid te probeer maak.

Die Hoërskool D.F. Malan het met die inspirasie van een van sy leerlinge besluit om die I’mPossible-trust te skep om geld in te samel vir fasiliteerders wat gestremde leerlinge met hul skoolwerk bystaan.

Herman Theart (15), ’n leerling, het met die bekendstelling van die trust gevra dat mense help geld insamel sodat ander ook ’n fasiliteerder kan kry om die ervaring van ’n hoofstroomskool te kan geniet soos hy doen.

“Met die donasies kan ons fasiliteerders kry om ander ook te help om deel van ’n skoolfamilie te word soos wat met my gebeur het,” het Theart gesê.

Die I’mPossible-trust word aangedryf deur ’n video wat met behulp van honderde leerlinge geskep is en gister ná maande se werk vir die eerste keer aan die skool vertoon is. Teen gisteraand is dit reeds 1 300 keer gekyk.

In die video maak die leerders met hul baadjies die visuele voorstellings (“flashes”) wat gewoonlik op die paviljoene by die MTBS-atletiekbyeenkoms gesien word wanneer skole van die noordelike voorstede om die sangbeker meeding.

Duisende foto’s van die sowat 800 leerlinge is geneem om die video te vervaardig en hulle het deelgeneem sonder om te weet waarvoor die beeldmateriaal gebruik sou word.

Die leerlinge het sedert die begin van die jaar al gewag om te sien hoe die video lyk en dit is uiteindelik as ’n verrassing aan hulle vertoon toe die trust bekend gestel is.

“Ek wil julle vra om ons te help sodat die video wyd versprei kan word en ’n astronomiese getal kere gekyk word,” het Theart gesê. “Dit is van die bittermin kere wat die skool sal sê jy mag op jou selfoon wees, so deel die video soveel as wat jy kan.”

Theart word bygestaan by die skool deur Sidney Stoffberg, wat help met fisieke take wat hy dalk moeilik kan vind, soos om soms vinnig notas neer te skryf.

Die skool daag moontlike borge uit om ’n finansiële bydrae tot die trust te maak vir ’n persentasie van die respons in sosiale media wat dit ontvang.

Meer inligting is by www.dfmalan.com/possible beskikbaar.

Meer oor:  Gestremdes  |  Trust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.