Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skoolmaats dra mussies om Zanmari te verwelkom
Zanmari Kriel (8), by wie kanker vyf maande gelede gediagnoseer is, saam met haar juffrou, Rinette Greyling. Foto: Verskaf
’n Seldsame kanker choriokarsinoom is in April vanjaar by Zanmari Kriel (8) gediagnoseer. Haar hare het weens die chemoterapie uitgeval.Foto: Verskaf

Toe Zanmari Kriel (8), ’n gr. 2-leerling van die Laerskool Danie Malan in Pretoria, onlangs ná ’n vyf maande lange afwesigheid weer by skoolhek instap, was sy aangenaam verras om te sien dat al haar skoolmaats mussies dra.

“Sy was effens onkant betrap en aanvanklik skamerig, maar later het sy van oor tot oor geglimlag,” sê haar pa, Francois.

Choriokarsinoom, ’n seldsame kanker wat gewoonlik by volwasse vroue voorkom, is in April vanjaar by haar gediagnoseer.

Sy het ’n noodoperasie ondergaan om die gewas, wat een van haar eierstokkies doodgedruk het, te verwyder.

Daarna is chemoterapie begin wat tot haarverlies gelei het.

“Sy is baie selfbewus omdat haar hare nog nie weer gegroei het nie,” sê Francois.

Toe die skoolhoof, Hettie Smith, hoor dat sy ná soveel maande reg is om terug te keer skool toe, het sy ’n plan beraam om haar welkom te laat voel.

“Ek wou nie hê dat sy op haar eerste dag terug by die skool moes voel sy staan uit met haar mussie nie,” sê Smith, wat ook ’n mussie gedra het.

“Omdat sy deur ’n moeilike tyd is, wou ek nie hê dat sy uitgesonder moet voel nie. Ons is saam met haar bly dat sy terug is.”

Smith erken sy was effens skrikkerig oor wat Zanmari se reaksie sou wees, maar dié dapper meisie het “spesiaal” gevoel.

Dit was ’n groot verrassing vir haar toe sy einde Augustus saam haar pa en ma, Yolandi, by die skoolhek instap en haar skoolmaats en van die onderwysers het mussies op.

“Toe ons instap, het sy rondgekyk en ons kon sien sy weet nie wat aangaan nie. Ons was verbaas – Mamma en Pappa was maar tranerig gewees,” sê Francois.

Sy het die oggend op die saalbyeenkoms ook die geleentheid gehad om oor haar kankerstryd te praat.

“Sy is ’n fantastiese en intelligente kind, met ’n sterk persoonlikheid. Ek dink nie sy was té oorweldig nie,” sê Francois.

Ná die saalbyeenkoms het die leerlinge vir Zanmari van die saal tot by haar klas ’n erewag gevorm.

“Dit was ongelooflik nice. Die skoolhoof en onderwysers is fantasties,” sê Francois.

Tydens haar afwesigheid het Zanmari met haar skoolwerk bygebly.

“Sy het by die huis haar skoolwerk gedoen en haar juffrou, Rinette Greyling, het gereeld in haar eie tyd kom kuier en kyk dat sy byhou met haar werk. Sy het baie middae by haar kom sit en skoolwerk gedoen,” sê Francois.

Zanmari gaan einde Oktober vir ’n opvolgbesoek. Die “tregtertjie” in haar bors, waardeur sy chemoterapie gekry het, sal ook dan in ’n uur lange operasie verwyder word.

Sy sal dieselfde dag ontslaan word.

’n Maand ná Zanmari se diagnose het haar ma ’n beroerte gehad. Francois sê dit gaan ook goed met haar.

“Ek is bly al my girls is by die huis en veilig. Onder die omstandighede gaan dit fantasties met ons almal,” sê hy.

Hanti Otto het vroeër berig dat die o.16-rugbyspan van die Hoërskool Pretoria-Noord ter ondersteuning van Zanmari hul hare afgeskeer het.

Lees ook hier.

Zanmari Kriel saam haar ouers, Francois en Yolandi, vroeër vanjaar in hul huis in Florauna, Pretoria-Noord. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Ondersteuning  |  Kanker  |  Skool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.