Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Skop Steve uit of sit dakloos’

Sun International dreig om Afrikaans is Groot (AIG) se Pretoria-megakonsert onder sy dak uit te skop as Steve Hofmeyr nie die trekpas kry nie.

Steve Hofmeyr in Maart vanjaar agter die verhoog kort voordat hy opgetree het in een van die Afrikaans Is Groot-konserte by die Grand Arena in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Die hotel-en-casinogroep sê hy sou al einde November se konsert by die Sun Arena in Menlyn Maine, Pretoria, gekanselleer het indien hy kon.

Computicket se webwerf het gister aangedui al AIG se Pretoria-konserte is reeds uitverkoop, met uitsondering van die spesiale #JouAIG-konsert saam met Solidariteit Helpende Hand.

Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International, het in ’n verklaring aan Rapport gesê hulle het AIG gevra om Hofmeyr se deelname aan die konsert te heroorweeg.

“Sun International is wetlik verbind tot die organiseerders van die AIG-konserte om konserte wat Steve Hofmeyr insluit aan te bied. Die kontrak is ongelukkig reeds maande gelede aangegaan en ons kan dit nie nou kanselleer nie,” skryf hy.

' Vieringe moet nie SA verdeel nie.’

Hy sê hulle ondersteun die reg van alle mense om hul kultuur en geloof te vier, maar dié vieringe moenie Suid-Afrikaners verdeel nie.

Sun International het gesê hulle gaan in die vervolg eers onderhandel voordat hulle instem om weer die arena met 8 500 sitplekke aan AIG te verhuur.

“Nadat ons ons wetlike ooreenkoms (einde November) met AIG nagekom het, sal ons stappe doen om in die toekoms groter toesig te hê oor die kies van kunstenaars vir geleenthede wat in ons venues gehou word.”

Sun International volg in die spore van borge soos MTN en Toyota wat vroeër vanjaar van AIG onttrek het weens Hofmeyr se deelname. In 2015 het Pick n Pay en Land Rover ook van die konsert onttrek toe Hofmeyr getwiet het in sy “boekies was swart mense die argitekte van apartheid”.

Die moontlikheid dat AIG dakloos gelaat kan word, is potensieel ’n groter probleem as suiwer geldelike verliese van borge.

AIG is in 2017 vir die eerste keer na die nuwe Sun Arena verskuif. Dit is een van die grootste onderdakvenues in Gauteng.

Voorheen het AIG die konsert by die Moreletapark-kerk in die ooste van Pretoria gehou. Dié kerk het volgens sy webwerf sitplek vir 7 100 mense, maar uiteraard nie al die tegniese fasiliteite wat AIG by die Sun Arena gebruik om jaarliks ’n extravaganza van vlieënde kunstenaars, gimnaste en optiese illusies aan te bied nie.

Arnold Coleske, organiseerder van AIG, het sedert Donderdag nie op Rapport se vrae gereageer nie. Hofmeyr het ook nie op navrae gereageer nie.

AIG het vorige versoeke van borge om Hofmeyr uit die konsert te laat, geïgnoreer.

Barry Pretorius, regisseur van AIG, het op ’n mediakonferensie gesê: “Hofmeyr gaan nêrens nie.”

Ná die onttrekking van MTN en Toyota as hoofborge het hulle die #JouAIG-projek begin met die beginsel dat lede van die publiek met hul beursies die kunstenaars kan ondersteun as “borge”.

Kaartjies vir dié vertoning op 28 November sou R800 per kop wees.

Buiten dat dié vertoning nog nie uitverkoop is nie, is die kaartjiepryse intussen verlaag na tussen R250 en R650 per kaartjie soos al die ander vertonings.

Ernst Vorster, woordvoerder van Helpende Hand, het by navraag gesê hulle sal in die komende week ’n verklaring hieroor uitreik.suzanne.venter@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.