Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skrywer kap terug: ‘Ondersoeker was eens aan my kant’

Chris Steyn, wat saam met Mark Minnie die boek Die Seuns van Bird Island geskryf het, sê sy was aanvanklik bly toe sy hoor dat ’n private ondersoeker Minnie se selfdood asook die ander bewerings in die omstrede boek gaan ondersoek.

Chris Steyn Foto: Jaco Marais

Die ondersoeker, Wouter de Swardt, het selfs Steyn en Minnie se werk geloof voordat hy in ’n verslag wat in Februarie gelewer is aan die Menseregtestigting gesê het hy reken Bird Island is ’n versinsel.

In die boek beweer Minnie en Steyn dat genl. Magnus Malan, oudminister van verdediging, John Wiley, oudminister van omgewingsake, Dave Allen, ’n bekende sakeman, en ’n derde kabinetslid straatseuns met lugmaghelikopters na Bird-eiland in Algoabaai gevlieg het, waar hulle seksueel gemolesteer is.

De Swardt was in Augustus verlede jaar op ’n besoek van 11 dae aan Port Elizabeth om mense oor die bewerings te ondervra.

Hy sê: “Sy het haarself bo alle twyfel as ’n leuenaar bewys.”

In sy verslag, wat aan die media gelek het, sê De Swardt die boek moes nooit geskryf gewees het nie en dat dit nie op die waarheid gegrond is nie.

Steyn is genooi om gister 12:00 op die KKNK oor die boek en De Swardt se ondersoek te praat. Dawid van Lill het die gesprek gelei.

Sy het voor haar spreekbeurt aan Rapport gesê De Swardt se bevindings het haar verras, aangesien hy in September verlede jaar vir haar ’n bemoedigende boodskap gestuur het nadat die voormalige polisiekommissaris genl. Johan van der Merwe haar uitgedaag het om ’n poligraaftoets af te lê.

Sy boodskap het gelui: “Jip! Tien uit f##en tien Chris! (handeklap).”

Wouter de Swardt, private ondersoeker. Foto: Facebook

Toe Steyn haarself verdedig teen die joernalis Jacques Pauw se skerp kritiek teen haar boek, het De Swardt nogmaals aan haar geskryf: “Sjoe Chris . . . uitstekende antwoord op Pauw se mening oor die boek. Het verslag gedoen oor ondersoek. Die direksie sal nou besluit of hulle wil voortgaan. My aanbeveling was dat daar wel verdere ondersoek moet wees. Daar is nog heelwat leidrade wat opgevolg moet word”.

Steyn sê egter dat dit nou lyk of De Swardt selfs twyfel of ’n dokter wat volgens die boek ’n lewensreddende operasie op een van die seuns uitgevoer het, hoegenaamd bestaan.

“Nie net beskuldig De Swardt my van bewerings fabriseer nie, maar ook dat ek ’n denkbeeldige man aanhaal.”

Sy sê: “Hy beskuldig my dat ek ’n denkbeeldige man aanhaal.”

Steyn sê sy wou aanvanklik met De Swardt saamwerk, maar dat hy skielik afwysend geword het, ook oor bewerings deur bronne wat hy nooit self ontmoet het nie.

“Intussen het hy (De Swardt) gespog oor sy verbintenis met verskeie regeringsmagte en sy broer, die notorious genl. Blackie (Black Jack) de Swardt, die voormalige hoof van die sekuriteits- tak en een van die stigterslede van ’n spesiale taakmag.”

Die Waarheid-en-Versoeningskommissie het destyds bevind dat dié eenheid wat deur De Swardt gelei is, swart Suid-Afrikaners ontvoer en gemartel het.

Rapport het De Swardt gepols oor Steyn se opmerking dat hy ene “Wil­liam Hart” as ’n “geloofwaardige getuie” beskou, terwyl hy Hart ook ’n “druggie” noem.

Hart was een van die sleutelgetuies in sy verslag.

“Hart” word in die boek onder ’n skuilnaam geïdentifiseer as een van die seuns wat glo deur die mans gemole­steer is.

Minnie skryf in die boek dat Hart, wie se regte naam aan Rapport bekend is, drie mans op ’n foto uitgewys het.

Volgens Gordon Lamastra, oudpolisiekollega van Minnie, kan hy die gebeure goed onthou, veral dat die seun vir Wiley, Allen en Malan uitgewys het.

“Hart” het egter die bewerings teenoor De Swardt ontken.

De Swardt is ook gevra of hy sy broer se destydse betrokkenheid in die polisie aan die Menseregtestigting verklaar het en oor kritiek dat sy verslag ontoereikend is omdat hy versuim het om met verskeie bronne te praat wat onderhoude toegestaan het aan koerante, waaronder Rapport.

De Swardt het gister per e-pos gesê hy gaan nie die vrae beantwoord nie.

Hy sê Steyn het “skreiende onwaarhede die lig laat sien in ’n boek gebaseer op ’n fondament van openbare leuens wat tans wyd en toenemend as lasterlik en skandalig beskou word.

“Ondanks Steyn se beloftes het daar sedert die boek verskyn het nie ’n enkele bewysstuk, getuie of sogenaamde slagoffer te voorskyn gekom om Steyn se leuens goed te maak nie. Daardeur is Steyn se gemene spel van innuendo en valse verklarings ontbloot en het sy haarself bo alle twyfel as ’n leuenaar bewys.

“Chris Steyn se taktiek om nou skielik my en my verslag as ongeloofwaardig te probeer voorstel, is haar herhaalde en mislukte metode om haarself teen die waarheid en moontlike erns­tige regstappe te probeer verdedig, wat nou toenemend teen haar boemerang.

“Hiermee volstaan en herbevestig ek alles wat ek tot dusver oor die onderwerp geskryf en gesê het.”

Meer oor:  Magnus Malan  |  Mark Minnie  |  Chris Steyn  |  Wouter De Swardt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.