Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skud 1 kg af – of jy verloor vlerkies!

Die jare 70, toe lugwaardinne soos modelle moes lyk en loop, is ’n nostalgiese reis ver, skryf Suzanne Venter

Elza Bester (73) soos sy vandag lyk. Sy hou ’n foto van haar en haar kollegas vas toe hulle in 1971 gekwalifiseer het as lugwaardinne. Foto: André Bester

Mej. Elza de Jager (27) was in amper elke opsig die perfekte SAL-lugwaardin: Sy kon mengeldrankies maak, loop soos ’n model, Brasilië op die wêreldkaart vind én passasiers in Italiaans groet.

Sy was ook, soos wat in 1972 vereis is, enkellopend: Die huwelik het ’n lugwaardin se vlerkies summier geknip. Maar daar was ’n probleem: Mej. De Jager was 1,1 kg te swaar.

Die brief waarin die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) haar gewaarsku het om óf dié kilogram te verloor óf haar werk, is die afgelope tyd tot groot vermaak van vele op sosiale media gedeel.

Elza, nou 73, wil haar doodlag oor die SAL se destydse ultimatum en het Rapport op ’n nostalgiese reis geneem na Rio, New York, rolprentsterre – en ’n wisselkoers van 72 Suid-Afrikaanse sent vir ’n Amerikaanse dollar en R1,80 vir ’n Britse pond . . .

Die brief van Augustus 1972 lui: “Geagte mejuffrou, u is op 27 Julie 1972 geweeg by welke geleentheid u 61,20 kilogram geweeg het, wat 1,10 kilogram oor die toelaatbare maksimum in u geval is. U word dus tot 25 Augustus 1972 tyd gegun om die saak reg te stel.”

As jy trou, moes jy bedank.

Elza was van 1971 ’n lugwaardin vir die SAL tot 1973, toe sy moes uittree omdat sy haar droomman, Wennie Bester (nou 74), ontmoet het. “As jy trou, moes jy bedank. Daar is gevoel dat dit sleg sal wees vir ’n vrou en ma om so baie van die huis af weg te wees. As vergunning het jy dan ’n dubbele uitbetaling van jou pensioen gekry wat toe ’n goeie hupstoot was.

“Jy kon ook net tot op die ouderdom van 35 ’n lugwaardin wees en moes dan ‘aftree’ of kantoorwerk gaan doen,” vertel Elza, destyds van Pretoria, wat deesdae by hul seun in Parow bly.

“Gewig was eintlik nooit ’n issue nie tot in die vroeë 1970’s. ’n Minister het toe in die parlement gesê hy sien party lugwaardinne raak lekker rond en toe is daar wetgewing ingestel sodat jy ’n spesifieke gewig volgens jou lengte moet wees. Ons is elke twee maande geweeg.

Die brief waarin Elza Bester in 1972 aangespreek is omdat sy 1,1 kg meer as die maksimum toelaatbare gewig vir haar lengte as lugwaardin geweeg het.

“Ek was ’n raps oor 5 voet (1,61 m) en moes tussen 52 kg en 60 kg weeg. Ons was nooit vreeslik bekommerd oor die gewig nie. Dit was deel van jou kontrak wat jy vir twee jaar moes teken.

“As jy bietjie opgetel het, het jy net minder geëet en dit vinnig afgeskud. ’n Mens se metabolisme werk mos nog goed as jy jonk is.”

Sy het altyd daarvan gedroom om lugwaardin te word, veral nadat die SAL sy eerste Boeing 747- jumbo’s in 1971 in gebruik geneem het. Daar was ’n groot werwingsveldtog en Elza het aansoek gedoen. “Die onderhoud was streng. Ons tweetaligheid is getoets en ons moes ook ’n algemenekennis-toets doen en daar was ’n wêreldkaart waarop jy moes wys waar sekere lande is. Elkeen moes ook ’n toespraak van twee minute hou. Ek moes praat oor of dit moontlik is om gevangenes te rehabiliteer. Dit was die langste twee minute in my lewe.”

Die spotprent in Rapport op 13 Junie 1971 deur Len Lindeque nadat ’n minister in die parlement glo gesê het lugwaardinne raak te rond.

Aansoekers moes aan spesifieke fisieke vereistes voldoen: Hulle moes langer wees as 5 voet 2 duim (1,57 m), maar korter as 5 voet 8 duim (1,73 m).

Sy het deur die eerste ronde gevlieg en met opleiding begin, waar die slaagsyfer vir toetse in vakke soos spyseniering en lugvaartmedisyne 80% was. “Mense het gereeld rump of lamstjops en groente gekry. In eersteklas was dit lamsrol wat die lugwaardinne moes opkerf.”

Ook hul vaardighede as gasvroue moes geslyp word – en as ’n passasier sou kraam, moes jy kon help.

“Dankie tog dit het nooit met my gebeur nie! Ek wil ’n bietjie spog – ek het die beste in die klas in die noodhulpkursus gevaar en 97% gekry,” sê Elza.

Hulle is ook geleer oor higiëne, grimering, hoe om te loop (“soos ’n model”), en jy moes Frans, Italiaans of Portugees aanleer. “Jy kon nie self kies nie. Ek het Italiaans geleer. Net die basiese woorde.”

Daarna het jy jou uniform gekry en ’n binnelandse vlug gedoen saam met ’n gekwalifiseerde lugwaardin. Eers daarna was jy ’n lugwaardin. Al die kajuitbemanningslede het net ’n halwe vlerkie gekry terwyl vlieëniers ’n vol vlerkie gekry het. Dit was die wonderlikste belewenis. Ek het die eerste vyf maande binnelandse vlugte gedoen en daarna internasionale vlugte. Ek was in omtrent al die lande in Europa. Ons het gereeld in Portugal oorgebly en dan Switserland, Oostenryk, Rome, Parys en Brussel toe gevlieg.

Elza in 1971.

“Daar was ’n klomp verskillende vlugte en die een Rio de Janeiro toe was altyd baie lekker. Van daar is ons dan New York toe. In daardie tyd kon ons nie oor Afrika vlieg nie weens sanksies en het altyd in Luanda gestop om daar te oornag terwyl ander bemanningslede by ons oorgeneem het.”

En dan was daar Roger Moore . . .

“Dit was nog voordat hy die rol van James Bond vertolk het. Hy het al ons lugwaardinne se knieë lam gemaak, maar sy vrou was vreeslik jaloers en ons kon nie eens ’n foto saam met hom neem nie.”

In daardie jare is op vlugte gerook en kon jy ’n boks met tien pakkies sigarette vir R2 koop. Dis dan 200 sigarette en ons lugwaardinne het dit saam gekoop en dan oorsee uitgedeel as fooitjie omdat sigarette oorsee so duur was.

“Ek en my man het vir ons wittebrood Rome toe gegaan, in Europa getoer en toe weer van Londen af teruggevlieg Suid-Afrika toe. Ons vlugte soontoe en terug was R475 per persoon.”

As Elza vandag terugkyk – 44 jaar en twee babas later en ses kilogram swaarder – is sy seker van een ding: Dit was een van die beste tye in haar lewe, ondanks daai SAL-brief!

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Seksisme  |  Sal  |  Gewig  |  Oorgewig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.