Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Skuif van M.T. Steyn-beeld ‘bloudruk vir Cyril-plan’

Die verskuiwing van die M.T. Steyn-beeld van die Universiteit van die Vrystaat (UV) na die Oorlogsmuseum in Bloemfontein is ’n bloudruk van hoe beelde in die toekoms verskuif kan word.

Tokkie Pretorius, direkteur, sê die museum sal die model beskikbaar stel wanneer beelde “uit ons lelike verlede” ingevolge pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging verskuif word.

Pretorius sê dié model is dat ’n beeld in ’n deursigtige proses en met waardigheid verskuif word en dat al die regsimplikasies nagekom word om “openbare histerie” te verhoed. Dit sluit in dat die koste, versekering en hoe dit verskuif word deur ’n ooreenkoms bepaal word en dat ’n argitek daarop afteken.

“Dis ’n resep vir chaos as jy dit sonder ’n formele werkswyse, en die tegniese proses wat in ’n ooreenkoms vervat is, wil doen.”

Die beeld van genl. Christiaan de Wet, ’n Vrystaatse held in die Anglo-Boereoorlog, voor die Vierde Raadsaal in Bloemfontein, wat die Vrystaatse wetgewer huisves, kan een van die beelde wees wat as omstrede gelys word in die proses wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is. Die Oorlogsmuseum in die stad het egter aangedui dat hy wel in die beeld belang stel. Foto: Charles Smith

Hoewel die proses hoe die regering die beelde wil verskuif nie aangekondig is nie (dit kan ’n eensydige besluit wees om alle beelde na ’n temapark te skuif), sal die Oorlogsmuseum beslis in die beelde van ABO-perde in Port-Elizabeth, genl. Koos de la Rey in Lichtenburg, genl. Louis Botha voor die Uniegebou in Pretoria, genl. Christiaan de Wet voor die Vierde Raadsaal in Bloemfontein en pres. Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria belang stel.

“Sou die beelde na die Oorlogsmuseum verskuif word, sal dit herinterpreteer word om nasiebou, sosiale kohesie en nasie-heling te bevorder.”

Pretorius sê die museum gaan egter beslis nie ’n stortingsterrein vir beelde word wat nie elders welkom is nie.

Die Steyn-beeld wat suksesvol heropgerig is, is ’n goeie voorbeeld omdat die hele proses gevolg is, van die onderhandelings met alle partye tot die appèl na die Vrystaatse provinsiale erfenishulpbronowerheid en verder na die LUR vir sport, kuns en kultuur en dan uiteindelik met die permit vir die verskuiwing wat toegeken is.

Die omstrede beeld van die Kubaanse diktator Fidel Castro in Bloemfontein voor die regeringsgebou wat sy naam dra, gee baie mense aanstoot, maar die ANC sê niemand sal aan die beeld raak nie. Hy is ’n internasionale held op wie se stryd teen armoede en onderdrukking die ANC se stryd teen apartheid geskoei is en die beeld is hier om te bly. Foto: Mlungisi Louw

Oor watter beelde alles geteiken gaan word, is daar nie sekerheid nie. Veral Afrikaners, wie se beelde geteiken word, voel weer die beeld van die Kubaanse diktator Fidel Castro, wat deur Ace Magashule in sy tyd as premier voor ’n regeringsgebou in Bloemfontein opgerig is wat na hom genoem is, gee aanstoot en behoort ook verwyder te word.

Thabo Meeko, woordvoerder van die ANC in die Vrystaat, sê Ramaphosa se verklaring moet eers deeglik ontleed word voordat beelde geteiken word, want die geskiedkundige konteks daarvan is belangrik. Die geskiedenis kan nie weggewens word nie. Die Castro-beeld is egter hier om te bly.

“Fidel Castro was ’n internasionale held in die stryd teen verdrukking. Die ANC se stryd teen apartheid is op sy stryd vir die armes en die onderdruktes geskoei. Dié beeld kan nooit omstrede wees nie. Nooit nie.”

Die omstrede beeld van die Kubaanse diktator Fidel Castro in Bloemfontein voor die regeringsgebou wat sy naam dra. Foto: Mlungisi Louw

Op ’n stelling dat die beeld vir Vrystaters ’n simbool geword het van korrupsie onder die ANC en juis die onderdrukking van die mense wat die ANC sê hy bevry het, het hy verontwaardig geantwoord.

“Nee, nee, nee. As iemand vingers na oudpres. Mandela wys weens korrupsie, beteken dit dat sy beeld (op Naval Hill) ook omstrede is? Nee, natuurlik nie. Die ANC se stryd was ’n internasionale stryd. Dit is hoekom ons met Kuba identifiseer, asook met die Palestyne en met die mense van Suid-Sahara wat deur Marokko onderdruk word.”

Meer oor:  M.T. Steyn  |  Cyril Ramaphosa  |  Bloemfontein  |  Standbeelde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.