Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Slag van treinbotsing was ‘soos aardbewing’
Die ongelukstoneel by die Horizon-treinstasie in Roodepoort. Een man is dood en vier ander beseer. Foto: Werner Beukes

’n Botsing Woensdagaand tussen twee treine naby die Horizon-treinstasie in Roodepoort, waarin een man dood en vier mense beseer is, het glo soos ’n aardbewing gevoel.

Die botsing was omstreeks 21:53 tussen ’n Shosholoza-Meyl Premier-trein en ’n stilstaande Transnet-goederetrein.

Die Shosholoza-Meyl het Dinsdag met 36 passasiers en 14 personeellede uit Kaapstad vertrek. Vyf van die passasiers het op die Kimberley-stasie afgeklim voordat die trein sy rit na Johannesburg voortgesit het.

“ ’n Man is in die ongeluk dood en ’n vrou, wat ure lank ná die ongeluk in een van die waens vasgekeer was, is in ’n kritieke toestand per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal vervoer. Vier ander passasiers is met ambulanse na die Krugersdorp-hospitaal geneem,” het Nana Zenani, woordvoerder van Prasa, gesê.

Jody Pillay (38) van Lewisstraat oorkant die stasie het gesê die slag het soos ’n aardbewing gevoel wat etlike sekondes aanhou.

“Dit was omtrent 22:00 toe ek meteens ’n geweldige slag gehoor het en net daarna het ek sirenes gehoor. Ek het verskrik by my huis uitgehardloop om te gaan kyk wat aangaan,” het Pillay gesê.

“Ek het onmiddellik die wrakstukke van twee treine gesien en iewers het ’n vrou om hulp geskree. Ek dink daar was mense wat in een van die treinwaens vasgekeer was. Noodwerkers was vinnig op die toneel en het hulle bevry.”

Die ongeluk het Woensdag omstreeks 21:53 tussen ’n Shosholoza-Meyl Premier-trein en ’n Transnet-goederetrein gebeur. Dit blyk dat die goederetrein stilgestaan het. Albei treine het glo magtiging gehad om op die spoorlyn te wees. Foto: Werner Beukes

Volgens Pillay, wat al ’n dekade daar woon, is dit die eerste keer dat ’n ongeluk naby hierdie stasie gebeur het.

“Toe ek Woensdag omtrent 17:00 by die huis aangekom het, het ek die goederetrein op die treinspoor gesien staan. Hoekom het niemand in die beheerkamer die drywer van die passasierstrein oor die goederetrein gewaarsku nie?” het Pillay gevra.

Volgens Clive Naidoo (43), ’n inwoner van Heatherstraat aan die bokant van Lewisstraat, het hy “ ’n groot slag gehoor en toe net hierdie doodse stilte”.

“Die treine maak maar altyd ’n geraas en ’n mens raak mettertyd daaraan gewoond. Die geraas wat ek gisteraand gehoor het, as ek nou weer terugdink, was anders. Ek het nie by my huis uitgegaan om te gaan kyk wat gebeur het nie en eers vanoggend oor die radio van die ongeluk gehoor,” het hy gesê.

Die 18-jarige Melusa Mhlanga, ’n gereelde pendelaar tussen Randfontein en Horizon, het gesê hy is bekommerd oor die impak van die ongeluk op pendelaars.

“Ek het nie ander vervoer nie en as die treine nie loop nie, moet ek met ’n taxi by my werk kom, en dit kos natuurlik ’n klomp geld.”

Mhlanga was een van ’n groep omstanders wat Donderdag by die treinstasie toegekyk het hoe forensiese ondersoekers op die ongelukstoneel werk om die oorsaak van die ongeluk vas te stel.

Personeel van die Passasierspooragentskap (Prasa) was Donderdag op die ongelukstoneel om die oorsaak van die ongeluk vas te stel. Foto: Werner Beukes

Zenani het gesê Metrorail se treindienste by Horizon, Randfontein, Homelake, Robinson, Milside, Wesrand, Krugersdorp, Luipaardsvlei, Witpoortjie, Princess en Roodepoort is intussen opgeskort.

“Pendelaars word aangeraai om alternatiewe vervoerreëlings te tref. Intussen word pogings aangewend om te verseker dat die dienste so gou as moontlik hervat kan word.”

Die DA het Donderdag in reaksie op die ongeluk ’n beroep gedoen op Prasa om strenger maatreëls in te stel om sulke ongelukke te voorkom.

“Prasa het die afgelope paar maande telkens deurgeloop. Die voorvalle sluit treinongelukke, kabeldiefstal, vandalisme en brandstigting van treine en infrastruktuur in,” het Fred Nel, die party se woordvoerder vir vervoer, gesê.

“Die treinongeluk beklemtoon maar net weer die noodsaaklikheid van ’n veilige, betroubare en bekostigbare openbare vervoerstelsel vir pendelaars.”

Sonja Carstens, woordvoerder van die United National Transport Union (Untu), het gesê die unie trek die bevoegdheid van die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) as die waghond vir veiligheid op die spoorweë in twyfel.

“Die RSR is ’n magtelose instelling wat nie behoorlik na die veiligheid van die pendelaars omsien nie. Die ongeluk Woensdagaand dui net weer op die algemene agteruitgang van die treindienste en die algehele onvermoë om iets daaraan te doen.

“Die rede vir die ongeluk is bes moontlik ’n gebrek aan kommunikasie tussen die beheerkamer en die treindrywer.

“Untu doen ’n beroep op Fikile Mbalula, minister van vervoer, om die direksie van die RSR so gou as moontlik te ontbind,” het sy gesê.

Madelein Williams, RSR-woordvoerder, het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die sentrale beheerkamer albei treine gemagtig het om die spesifieke spoorlyn te gebruik. Die treine word in dié gedeelte handmatig bedryf.

“Die RSR sal binne die volgende 48 uur sy voorlopige bevindings oor die treinongeluk bekend maak.”

Die passasierstrein agter met een van die treinwaens van die goederetrein in die voorgrond. Foto: Werner Beukes
Noodwerkers en Prasa-ondersoekers Donderdag op die ongelukstoneel in Roodepoort. Foto: Werner Beukes
Voor is die wrakstukke van die goederetrein en agter is die ontspoorde passasierstrein. Foto: Werner Beukes
Een van die treinwaens van die passasierstrein wat in die ongeluk ontspoor het. Foto: Werner Beukes

Meer oor:  Transnet  |  Treinbotsing  |  Roodepoort  |  Shosholoza-Meyl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.