Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Slaggate op Vrystaatse paaie eis nóg ’n lewe

’n Bejaarde vrou van Gauteng wat Sondagaand dood is, was die soveel­ste slagoffer van die slag­gat-besaaide paaie in die Noord-Vry­staat, terwyl ander passasiers in die voertuig ernstig beseer is. 

Brigadier Motantsi Makhele sê die bejaarde Dorothy Tshabalala is Sondag omstreeks 20:00 op die R34 tussen Vrede en Memel dood toe die Toyota Avanza waarin sy ’n passasier was ’n slaggat getref en omgeslaan het.

Twee van die voertuig se bande het gebars toe dit die slaggat tref. Die bestuurder het daarna beheer oor die voertuig verloor, sê Makhele.

Daar was ’n algehele chaos toe hierdie motor Sondagaand op die R34 tussen Memel en Vrede ’n paar slaggate getref en ’n ongeluk gemaak het. ’n Vrou is dood en vyf ander mense is beseer. Foto: Verskaf

“Sewe mense is beseer.”

Die groep mense was van Gauteng na KwaZulu-Natal op pad.

Johan du Toit, ’n vrywillige noodhulpwerker wat op die ongelukstoneel sowat 17 km buite Memel hulp aan die beseerdes verleen­ het, sê een van die passasiers se toestand is kritiek, terwyl ’n agtjarige meisie, wie se bobeen gebreek is, tans in die waakeenheid van ’n private hospitaal in Newcastle­ in KwaZulu-Natal behandel word.

“Dit was ’n algehele chaos toe ek daar aankom. Lang toue motors­ het in albei rigtings op die pad opgehoop terwyl die mo­torwrak in die middel van die pad was en passasiers, onder wie bejaardes­, in die pad gelê het.” 

Die wrak nadat die motor ’n paar slaggate op die R34 tussen Memel en Vrede getref het. Foto: Verskaf
Noodreddingswerkers help Sondagaand op die R34 tussen Memel en Vrede ná ’n ongeluk waarin ’n vrou dood en vyf passasiers beseer is. Foto: Verskaf

Du Toit sê volgens van die beseerdes het die voertuig ’n hele paar slaggate getref en het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor. 

“Die voertuig het die pad verlaat en nadat dit weer terug op die pad gebring is, het dit omgeslaan en gerol. Vyf van die insittendes is uit die voertuig geslinger.”

Du Toit sê hy is woedend omdat die regering niks doen aan die toestand van die paaie wat al hoe meer mense se lewe eis nie.

Hy was ook op die ongelukstoneel waar Waldo Ferreira (25), ’n onderwyser van die Gekombineerde Laer- en Hoërskool Vrede, op 3 Maart met die skoolbus verongeluk het. 

Ferreira, wat pas ’n groep leerlinge afgelaai het, het op die R103 tussen Vrede en Warden gesterf nadat die skoolbus ’n slaggat getref het. 

Waldo Ferreira (25), wat met ’n skoolbus op die pad tussen Warden en Vrede verongeluk het nadat die voertuig slaggate getref het. By hom is sy meisie, Jo-Mari Kritzinger. Foto: Verskaf
Wyle Albert Cawood (26), wat op die pad tussen Hoopstad en Bothaville verongeluk het nadat sy motor slaggate getref het. Foto: Verskaf

Netwerk24 het ook op 25 April berig oor die tragiese dood van Albert Cawood (26), ’n kranige gholfspeler, wat tussen Hoopstad en Bothaville dood is nadat sy motor ’n slaggat getref het. 

Cawood was op pad na sy ouers se plaas nadat hy in Hoopstad aan ’n gholfkompetisie deelgeneem en die prys vir die naaste aan die pen gewen het.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou, sê daar is al met die departement van polisie, paaie en vervoer, asook met Sam Mashinini, die LUR in die departement, gepraat. 

“Ons kry baie klagtes, maar dit is duidelik dat die departement nie oor die nodige mannekrag en geld beskik om alles gelyk reg te maak nie.”

“Te min mense word die hele tyd net van die een krisis na ’n volgende verskuif, en paaie word dus nie behoorlik op een plek herstel nie.”

Mashinini sê hy sal eers besonderhede oor die ongeluk Sondag bekend kan maak wanneer die ongelukverslag voltooi is. 

Hy sê die ondersoek na die ongeluk waarin Tshabalala dood is, word reeds gedoen.

  • Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.
Die plek waar die ongeluk op die R34 tussen Memel en Vrede gebeur het. Foto: Verskaf
Meer oor:  Dorothy Tshabalala  |  Vrystaat  |  Vrede  |  Memel  |  Slaggate  |  Botsings  |  Padongelukke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.