Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Slagoffer van brugtragedie het geen gevoel in voet

’n Matriekleerling van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark wat ernstig beseer is toe ’n loopbrug verlede maand by die skool ineengestort het, het geen gevoel in haar linkervoet nie.

Cheverné Duvenhage by haar pa, Elardus Duvenhage. Foto: Facebook

Vanessa Slabbert (18) is al langer as ’n maand in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Haar ma, Lizelle Slabbert, sê Vanessa het nie gevoel in haar linkervoet of -tone nie. ’n Neurochirurg sal haar Dinsdag ondersoek.

Slabbert sê daar word vermoed dat senuwees in die voet beseer is toe van die betonstukke van die loopbrug op haar dogter geval het.

Vanessa moes Saterdag ook ’n operasie aan haar gebreekte bekkenbeen ondergaan en sy het ’n ernstige maagwond opgedoen.

"Ons bly positief en weet dat ons pop heeltemal gesond sal word," sê Slabbert.

Vanessa het oor die loopbrug, wat twee van die skoolgeboue verbind, geloop toe dit ingeval het.

Die departement van onderwys in Gauteng se verslag oor die oorsaak van die ineenstorting van die brug is nog nie voltooi nie.

Chantelle van den Bergh by Demi-Leigh Nel-Peters, Mej. Heelal 2017. Foto: Facebook

Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, word ook steeds in dieselfde hospitaal as Vanessa behandel.

Sy het die naweek ook ’n operasie aan haar gebreekte bekken gekry.

Cheverné begin nou eers weer praat. Sy was vir lank aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel.

"Sy gesels kort en klein woordjies en dan word sy moeg, maar dit gaan baie goed met haar," sê haar ma, Nicola Senekal.

Shamoné Steynvaart (13) is verlam ná die brugtragedie by die Hoërskool Driehoek. Foto: Facebook

Shamoné Steynvaart (13), ’n gr. 8-leerling, was die naweek vir die eerste keer sedert die brugtragedie op Vrydag 1 Februarie vir ’n dag by haar ouerhuis in Vanderbijlpark.

Sy is Sondag weer terug na die Mediclinic Muelmed in Pretoria se spinale-rehabilitasie-eenheid. Shamoné is van haar naeltjie af verlam en moet nou in ’n rolstoel oor die weg kom.

Haar ma, Charmaine Steynvaart, sê haar kind "werk baie hard" in die rehabilitasiesentrum.

"As alles goed gaan, kan sy dalk in Mei huis toe kom."

Jacques Fourie (13) by Demi-Leigh Nel-Peters, Mej Heelal 2017. Foto: Facebook

Clari Botes (18), ’n gr. 12-leerling, sterk ook in ’n rehabilitasiesentrum aan nadat haar regterheup ernstig beseer is.

Intussen is van die 22 leerlinge wat beseer is, Saterdag verras met ’n besoek van Demi-Leigh Nel-Peters, Mej Heelal 2017 en Mej. Suid-Afrika van dieselfde jaar.

Sy het die leerlinge, waarvan sommige steeds by die huis met gebreekte bene, arms en rugbeserings aansterk, moed ingepraat.

Roydon Olckers (17), Marli Currie (14) en Jandré Steyn (13) is in die brugtragedie dood. Magnus Nagel (16) is twee dae later aan sy beserings in ’n hospitaal in Alberton dood.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.