Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Slagting op SA se paaie: 38 dood in 4 dae

Die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) en die Automobiel Assosiasie (AA) het hul kommer uitgespreek oor die jongste slagting op Suid-Afrika se paaie.

Minstens 39 padgebruikers is die afgelope vier dae in ongelukke dood.

“Die syfers spreek eintlik vanself,” sê Layton Beard, die AA-woordvoerder. “Motoriste moet onthou dit is ’n verantwoordelikheid om te bestuur en jy bestuur eintlik ook vir die ander mense op die pad.”

Die taxi-ongeluk in KwaZulu-Natal wat die lewe van 19 kerkgangers geëis het.

In KwaZulu-Natal is 19 mense Sondag in ’n taxi-ongeluk dood. Padongelukke in Mpumalanga en Gauteng het die lewe van nog drie mense geëis.

Die RTMC sê amptelike statistieke wys die sterftesyfer op Suid-Afrikaanse paaie het in 2016 van 13 500 in die 2015-boekjaar tot 14 071 gestyg. Die statistieke vir 2017 is nog nie bekend gemaak nie.

Die totale koste van padongelukke op Suid-Afrika se paaie het in 2015 ’n geskatte R14,95 miljard, of 3,4% van die bruto binnelandse produk, gekos.

“Die 2016-statistieke toon dat 5 400 van 2016 se slagoffers, of nagenoeg 40% van alle sterftes, voetgangers is,” sê Beard.

’n Kopskuif nodig

Beard sê daar is met verskeie bewusmakingsveldtogte begin sodat voetgangers meer sigbaar moet wees.

“Dit is baie duidelik dat meer gedoen moet word. Die regering en wetstoepassersagentskappe het natuurlik ’n belangrike rol om te speel, maar terselfdertyd is motoriste duidelik nie besig om hul deel te doen nie,” sê Beard.

“Die konstante styging in padsterftes wys daar is êrens ’n gaping maar ten spyte hiervan kry mens steeds bestuurders wat op hul selfone praat of navigasietoestelle gebruik, maskara opsit, roekeloos bestuur en mense op blinde hoogtes probeer verbysteek.

“Daar moet ’n kopskuif onder padgebruikers plaasvind en meer klem gelê word om spesifieke groepe mense insluitende ouers, kinders, taxibestuurders en gebruikers van openbare vervoer oor padveiligheid op te voed.”

Suid-Afrika se padnetwerk. Foto: RTMC

Dronkbestuurders en kamma-dokters vasgevat

J.P. Smith, Wes-Kaapse burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê ses taxibestuurders is die naweek in padblokkades weens dronkbestuur aangekeer.

Die naweek is 86 ander Wes-Kaapse bestuurders vir dronkbestuur aangekeer. Hiervan is 31 in twee padblokkades in Wynberg en Claremont, en 36 in ’n padblokkade in Khayelitsha aangekeer.

In Parow is ’n dronkbestuurder in hegtenis geneem nadat hy met ’n voertuig van die Kaapstad-metro se wetstoepassingsafdeling gebots het.

Die RTMC se nasionale teenkorrupsie-eenheid het intussen in samewerking met ander agentskappe vier mense wat vervalste sertifikate vir padwaardigheid uitgereik het, gearresteer.

Die kamma-dokters het volgens Simon Zwane, RTMC-woordvoerder soveel as R8 000 per dag uit die skema verdien, wat van ’n perseel in Ekurhuleni bedryf is.

Families in rou

Die RTMC het ’n ondersoekspan na KwaZulu-Natal gestuur, waar 19 kerkgangers Maandag in ’n taxi-ongeluk dood is. Die bestuurder van die minibustaxi het gevlug.

“Ons is altyd besorg oor padveiligheid. Ons beskou sulke voorvalle in ’n ernstige lig en sal die oorsaak deeglik ondersoek,” sê Zwane.

In Gauteng is een persoon dood en drie ernstig beseer toe hul voertuig Maandagaand op die R501 buite Carletonville gerol het. Twee van die drie beseerdes is kinders.

Zandile Mandlazi, woordvoerder vir die departement van gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, sê twee mense is Maandagoggend dood en nog twee ernstig beseer toe hul voertuig op die R536 omgeslaan het.

Die oorledenes is twee van 14 mense wat sedert Vrydag in ses afsonderlike ongelukke op die provinsie se paaie dood is.

Zelmarie van Biljon (links) is ernstig beseer in die ongeluk waarin haar suster, Marizelle, van Louis Trichardt in Limpopo dood is. Foto: Verskaf

In Limpopo het Marizelle van Biljon (6) Sondag saam met haar ma, Franzelle van Biljon (33), en ouma en oupa, Elsa en Dawie Sadie, op die N1 verongeluk. Nog drie mense is in dié botsing reg van voor dood.

“Die ongeluksyfer is hoër in sekere provinsies as ander, maar daar is duidelik ’n nasionale probleem wat dringend na gekyk moet word,” sê Beard.

Meer oor:  Automobiel Assosiasie  |  Rtmc  |  Sa  |  Slagting  |  Paaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.