Daar is ’n beduidende verbetering in die toestand van die sakeman van Graaff-Reinet wat vandeesweek by sy werkplek deur ’n slang gepik is.
Hoewel Johan (Gerrie) Germeshuizen (63) steeds in die waakeenheid van ’n hospitaal in Port Elizabeth is, het hy teen Vrydag goeie vordering getoon.

Johan (Gerrie) Germeshuizen Foto: Facebook
Hy is Maandag na ’n hospitaal in Graaff-Reinet gehaas nadat ’n Kaapse kobra hom aan een van sy vingers gepik het. Die slang het in een van die laaie van Germeshuizen se lessenaar gelê en hom gepik toe hy niksvermoedend sy hand daar insteek.
Dinsdag in die vroeë oggendure is Germeshuizen van die Midland-hospitaal in Graaff-Reinet na die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth gebring, voordat hy later die dag na die stad se Life Mercantile-hospitaal oorgeplaas is.
Thelina Geater, Germeshuizen se suster, sê sy sal Saterdag vanuit die Karoo ry om haar broer weer in die hospitaal te besoek. Sy was die afgelope week deurgaans met die hospitaalpersoneel in verbinding, wat Vrydagoggend berig het hulle is tevrede met sy vordering.
“Hoewel dit baie beter met hom gaan, is hy nog nie buite gevaar nie,” het Geater Vrydag gesê.
Germeshuizen gebruik sy oë en handbewegings om met besoekers en die hospitaalpersoneel te kommunikeer.
“Hy kan nog nie veel beweeg nie, maar die hospitaalpersoneel sê hy kan goed aandui wanneer hy gedraai of beweeg wil word.”
Geater sê haar broer sal waarskynlik ook fisioterapie moet ondergaan aangesien hy meestal stil lê en steeds aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel is.
“As ek Saterdag by hom is, sal ek self kan sien hoe dit gaan. Die hele voorval is baie traumaties vir ons en ons is dankbaar vir al die mense wat hom dra deur gebed.”