
’n Wes-Natalse groenslang het ’n drankie gesoek by die Van der Vyvers op Port Edward.
’n Vrou het haar koud geskrik toe sy afkom op ’n slang wat aan die Natalse Suidkus in hul yskas geskuil het.
Volgens Erin van der Vyver van Modderfontein, Johannesburg, wou haar skoonma, Isabel van der Vyver, iets uit die yskas haal in hul huis op Port Edward toe sy die besoeker teëkom.
“My skoonpa plaas gereeld rubberslange uit om die ape in die gebied weg te jaag. My skoonma het aanvanklik gedink dat hy een in die yskas gesit het. Toe die slang egter beweeg, het sy geskrik en besef dat dit nie ’n speelding is nie,” sê Erin.
Die dors slang is, volgens die slangkenner Johan Marais, ’n onskadelike Wes-Natalse groenslang.
“Ons wou nie aan die slang vat nie, maar ons het die yskasdeur oopgelos sodat hy kan uitseil. Hy was so twee liniaallengtes lank,” vertel Erin.
Sy sê haar skoonma het vroeër in die vakansie ’n groenslang in haar slaapkamer gesien.
“Dit was heel waarskynlik dieselfde slang, of sy neef of boetie, maar ons bly nogtans skrikkerig vir hulle en hoop maar hulle vind hul weg weer uit die huis. Dit is beslis die laaste ding waaraan ’n mens dink as jy die yskas oopmaak.”