Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Slim-ID ‘vat nou net 1 week’

Die vestiging van ’n “wêreldklas”-visumregime, nuwe wetgewing oor immigrasie en die wegdoen met lang rye by die kantore van die departement van binnelandse sake, is vanjaar van die hoogste prioriteite van dié departement.

Njabulo Nzuza, adjunkminister van binnelandse sake, het die media onder die tema “Die bou van ’n (departement van) binnelandse sake van wêreldgehalte” toegespreek, voor die departement se begrotingsdebat Woensdag in die parlement gehou het. Nzuza sê dié tema is gekies omdat dit met die huidige programme, planne en prioriteite verband hou wat geïdentifiseer is om die departement te midde van baie klagtes oor diens te verbeter.

“Ons is daartoe verbind om ons deel te doen om tot ekonomiese groei by te dra deur die instelling van die visum-regime terwyl ons nasionale veiligheid verseker. Ons is ook daartoe verbind om ’n geloofwaardige bevolkingsregister in stand te hou.”

Hy sê daar is vordering in die moderniseringsproses van binnelandse sake, met mylpale soos die verminderde wagtydperk vir dokumente, hoofsaaklik slim-ID-kaarte en ook met gemoderniseerde paspoorte.

“Ons reik nou ’n slim-ID-kaart binne ’n week uit en ’n paspoort binne 14 werkdae. Dit is ’n verbetering op die vorige wagtydperk van ses maande vir ’n ID en vier maande vir ’n paspoort,” sê hy.

“Ons erken egter daar is ernstige struikelblokke ten opsigte van diensgehalte by kantore. Een van ons ministeriële prioriteite is om aan te hou om die stryd teen lang rye te verskerp en om lang wagtye by ons kantore te verminder.”

Hy en dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, sou die werk belig wat die departement doen om die nasionale bevolkingsregister te suiwer deur onder meer hul vroeë geboorteregistrasieproses te versterk.

“Vandat ons ons aansoekproses begin digitaliseer het, het ons oor die 13 miljoen slim-ID-kaarte uitgereik en ons hou aan om streng spertye op te stel om ou ID-boekies te vervang. Ons doen ’n beroep op ons burgers wat aansoek gedoen het vir slim-ID-kaarte om hulle te kom afhaal,” sê Nzuza.

“Om mense na slim-ID-kaarte te laat oorskakel is baie belangrik om ’n nuwe nasionale identifikasiestelsel vir die land te bou wat betroubaar en geloofwaardig is.”

Volgens Nzuza is daar reeds heelwat vooruitgang met die ontwikkeling van ’n outomatiese biometriese identifikasiestelsel, wat in 2018 op die been gebring is.

Oor Suid-Afrika se internasionale migrasiebeleid, sê hy die departement werk reeds aan nuwe wetgewing.

“Van ons prioriteite is die vestiging van ’n Grensbestuursowerheid wat as ’n enkele entiteit sal dien, onder een bevelstruktuur.”

Oor onwettige immigrasie sê hy werk word gedoen om te verseker mense het dokumente en dat hul verblyf doeltreffend gereguleer word om te sorg dat almal in die land veilig voel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.