Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Slimstad by Ficksburg beoog, maar departement weet niks
Peter Kola is die man agter die beoogde slimstad by Ficksburg.

’n Vrystaatse entrepreneur sê sy visie om in die Oos-Vrystaat ’n slimstad, die Setsoto Green City, te laat verrys, gaan in die komende dekade ’n werklikheid word.

Peter Kola, mede-eienaar van Peter & Norah Holdings, sê bouwerk aan die Imperani Mall by Ficksburg sal in April begin. Die winkelsentrum sal net een van vier in Afrika wees wat as groen en omgewingsvriendelik beskou kan word.

’n Spoghotel en 109 winkels vorm deel van die beoogde eerste fase van die ontwikkeling.

Die Imperani Mall is egter net die begin van Kola se droom. Hierna word die projek uitgebrei om die slimstad met skole, ’n universiteit en ligte tot medium-nywerhede toe te rus. ’n Temapark en ander toeristeaantreklikhede word ook beoog.

Die koste van die eerste deel van die projek word op R7,8 miljard geraam.

’n Kernkragaanleg, myne en landbouprojekte sal oor die langer termyn ontwikkel word.

Die kernkragaanleg is volgens Kola moontlik omdat ’n uraanmyn by Rosendal beplan word. Hy sê die kernkragaanleg sal die Vrystaat en Lesotho van krag kan voorsien.

Daar sal ook van wind- en sonkrag gebruik gemaak word en die hele ontwikkeling sal omgewingsvriendelik en volhoubaar wees. Hy sê ’n ooreenkoms sal met Eskom aangegaan word.

Volgens Kola is heelparty swaargewigte in die sakewêreld aan boord met sy droomprojek.

’n Sooispitseremonie is reeds einde Februarie vir die beoogde bouprojek gehou wat in April moet begin. Foto: Facebook

Die ouditeursfirma KPMG is betrokke by die finansiële sy van die projek terwyl Microsoft sal help om ’n 5G-netwerk te ontwikkel. Tobaka Investments, ’n argiteksfirma, sal die ontwikkeling van die stad behartig.

Volgens ’n bemarkingsvideo waarin die Setsoto Green City bekend gestel word, is die ontwikkeling in pas met die Verenigde Nasies se 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling. Op nasionale vlak word die slimstad ondersteun deur die nasionale ontwikkelingsplan van die regering en op provinsiale vlak pas dit in by die Vrystaatse regering se plan om armoede in die provinsie uit te wis.

Hoewel Kola sê die meeste papierwerk is reeds afgehandel om met die eerste fase van die ontwikkeling te begin, sê die plaaslike Setsoto-munisipaliteit dat Kola die korrekte kanale moet volg en dat daar nog geen amptelike goedkeuring aan die beoogde ontwikkeling verleen is nie.

’n Sooispitseremonie is wel reeds op 27 Februarie gehou op die terrein waar die winkelsentrum gebou sal word.

Lefa Moletsane, waarnemende munisipale bestuurder, sê die munisipaliteit sal graag ontwikkeling in die gebied ondersteun, maar dat Kola vir amptelike goedkeuring moet wag.

Zolile Lobe, die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) se provinsiale woordvoerder, sê die departement is nie bewus van die beoogde ontwikkeling nie en sal eers moet uitvind waaroor dit gaan voordat hy kommentaar kan lewer.

Meer oor:  Ficksburg  |  Slimstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.