Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Small ‘was nié kaal’ toe hy in seksklub inmekaarsak

James Small (50), oud-Springbokrugbyspeler, het wel Dinsdagaand in The Harem, ’n klub in Bedfordview in Johannesburg wat volwasse vermaak vir mans aanbied, inmekaargesak.

James Small
James Small in Februarie toe hy sy 50ste verjaardag gevier het. Foto: Facebook

Só het Gerome Saffi, mede-eienaar van The Harem, Maandag aan Netwerk24 gesê. Saffi ontken egter dat Small kaal was soos wat Rapport berig het.

Rapport het Sondag berig dat Small “kaal en bewusteloos in die seksklub” gekry is.

Luidens dié berig het ’n vrou Dinsdagaand laat die Life Bedford Gardens-hospitaal in Bedfordview ingestorm en glo gesê dat “daar ’n kliënt van haar klub” in haar motor is.

Dié kliënt was glo Small, en hy is in die hospitaal dood verklaar.

“Ek kan nie toelaat dat mense so van hom (Small) praat nie, veral nie as dit onwaar is nie,” het ’n ontstelde Saffi gesê.

“Ja, hy was ’n kliënt hier, maar dit was sý saak. Dis nie mooi van mense om slegte dinge en onwaarhede van hom te sê nie. Ons moet hom eerder onthou vir al die goeie dinge wat hy gedoen het,” sê Saffi.

Hy sê Small was sowat twee jaar lank ’n gereelde kliënt by The Harem.

Dis nie mooi van mense om slegte dinge en onwaarhede van hom te sê nie.
The Harem in Bedfordview, Johannesburg. Foto: The Harem
Die ingang na The Harem in Bedfordview, Johannesburg.Foto: Verskaf
Dit was Maandag doodstil voor The Harem in Bedfordview, waar die oud-Springbok-held James Small glo in die ure voor sy dood was.Foto: Verskaf

Saffi beskryf The Harem as ’n diskrete “gentlemen’s club”, wat kamers verhuur aan mans wat meisies wil ontmoet. The Harem het wel ook meisies waaruit kliënte kan kies, maar hoofsaaklik bring kliënte hul eie meisies na The Harem, sê Saffi.

Volgens hom het Small gereeld meisies en kliënte by The Harem ontmoet.

“Maar dít kan ek vir jou sê, hy het dit daardie aand beslis nie tot in sy kamer gemaak nie,” sê Saffi.

Small het Dinsdagaand glo pas in Johannesburg aangekom nadat hy in die Kaap by sy ma, Vourn, gekuier het.

Volgens Saffi het Small ’n afspraak gehad met ’n vrou wat hom in The Harem sou kry. Hy het glo in die kroeg vir haar gewag en ’n paar drankies gedrink.

Small het inmekaargesak nog voordat die vrou opgedaag het.

“Kyk, ek weet nie wat gebeur het nie, my personeel sê vir my hy was besig op sy foon en het toe net skielik inmekaargesak,” sê Saffi.

Die personeel het Small probeer help en mond-tot-mond-asemhaling op hom toegepas. Een personeellid het ook glo Small se hemp oopgemaak om hartmassering toe te pas.

“Hulle het gesukkel om hom in die kar te laai – hy is ’n swaar man – en ek vermoed sy broek het dalk so ’n bietjie afgeskuif, maar hy was beslis nie kaal nie,” sê Saffi.

Die Life Bedford Gardens-hospitaal in Bedfordview waar James Small dood verklaar is. Foto: Werner Beukes

Hy sê die personeel het dit goedgedink om Small self te neem na die Life Bedford Gardens-hospitaal, wat ’n minuut en ’n half se ry van The Harem is, eerder as om “’n ewigheid vir ’n ambulans te wag”.

Saffi was nie die aand in sy onderneming nie, maar het van sy personeel verneem dat Small nog ’n polsslag gehad het toe hy na die hospitaal geneem is. Hy is in die hospitaal dood verklaar.

Sy familie, vriende en aanhangers sal Donderdag – op oudpres. Nelson Mandela se verjaardag – in die Wanderers-klub in Johannesburg van hom afskeid neem.

Gavin Houlston, die Small-familie se woordvoerder, sê die publiek is welkom om die roudiens om 14:00 in The Deck in die Wanderers-rugbyklub by te woon.

“Daar sal op een van die onderste rugbyvelde vir die publiek voorsiening gemaak word.”

Triomf: 24 Junie 1995. Joel Stransky, James Small,
Triomf: 24 Junie 1995. Joel Stransky, James Small, Balie Swart, André Joubert, Chris Rossouw en Hannes Strydom met die Wêreldbeker.

Small was deel van 1995 se Springbok-rugbyspan wat die Wêreldbekertoernooi op Ellispark in Johannesburg gewen het.

Houlston wou nie kommentaar lewer oor waar Small dood is nie.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike ondersoek sal na Small se dood gedoen word. “Enige verwikkeling in die ondersoek, wat die uitslag van die lykskouing insluit, sal met sy familie bespreek word,” sê Masondo.

Rapport het berig dat daar glo ’n struweling was tussen private veiligheidswagte in die Life Bedford Gardens-hospitaal en die mense wat Small na die noodeenheid geneem het. Masondo sê hulle dra geen kennis van die beweerde struweling nie. “Niemand het enige klagte by die polisie ingedien nie.”

Small se ma het verlede week gesê haar seun is vermoedelik aan ’n hartaanval dood.

Small het ’n 14-jarige dogter, Ruby, by Christina Storm Nel, met wie hy jare in ’n verhouding was. Hulle het toesig oor Ruby gedeel.

Small het ook ’n negejarige seun, Caleb, uit ’n ander verhouding.

Meer oor:  James Small  |  Seksklub  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.