Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Small sterf kaal in klub

Die geliefde en soms omstrede oud-Springbokvleuel James Small is kort voordat hy Dinsdagaand dood verklaar is kaal en bewusteloos in ’n seksklub gekry.

Yster: James Small soos ons hom onthou. Foto: Beal
Yster: James Small soos ons hom onthou. Foto: Beal Simpson

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het aan Rapport bevestig ’n geregtelike doodsondersoek gaan voort om die omstandighede rondom die dood van die 50-jarige rugbyheld te bepaal. Die ondersoek word gedoen om vas te stel of ’n misdaad dalk ter sprake is, sê Masondo.

Gavin Houlston, Small se swaer wat namens die familie praat, sê hulle het bevestiging gekry dat Small aan ’n hartaanval dood is. “ ’n Polisie-ondersoek het ook geen verdagte omstandighede getoon nie.”

Maar Masondo het Saterdag volgehou die polisie-ondersoek gaan voort.

Rapport het die afgelope week ure lank deurgebring saam met iemand wat baie goed vertroud is met die dramatiese middernagtelike gebeure rondom Small se aankoms by die Life Bedford Gardens-hospitaal in Bedfordview.

Verpleegsters moes skarrel om ’n kombers te kry.

Die bron, wat nie geïdentifiseer wil word nie uit vrees vir viktimisasie, het gesê hospitaalpersoneel het die polisie ontbied weens “vreemde omstandighede” by die noodgevalle-eenheid.

’n Bron sê ’n vrou het by die hospitaal ingestorm om te sê daar is ’n “kliënt van haar klub” in die motor. Die vrou het ten aanhore van omstanders gesê die kliënt is te swaar om in ’n rolstoel vervoer te word en die hospitaal moet ’n bed stuur.

Die pasiënt – Small – was kaal en verpleegsters moes skarrel om ’n kombers te kry om hom mee toe te gooi.

Saam met die vrou was ’n man wat homself geïdentifiseer het as ’n “Uber-bestuurder”. “Hy het die vrou weerspreek en gesê hy het Small kaal in die vrou se badkamer by haar huis gekry nadat sy ’n Uber bestel het.”

Uber het Vrydag aan Rapport gesê hulle kon geen verslag vind van ’n rit na die hospitaal in daardie tydraamwerk nie.

Nóg die man nóg die vrou wou die opnamevorms onderteken en het hoorbaar met mekaar gestry. “Die vrou het vir die man opdrag gegee om ene ‘Steven’ te bel.”

James Small en Christina Storm.

Nog ’n man, vermoedelik dié Steven, het by die hospitaal aangekom met Small se selfoon, skootrekenaar, beursie en ’n notaboek.

Dit is hy wat uiteindelik die opnamevorm onderteken het.

Met die polisie se aankoms wou die trio oënskynlik nie hul samewerking gee nie, sê die bron aan Rapport.

“Die twee mans en die vrou het buite gaan rook. Terwyl hulle daar was, het die polisie opgedaag. Toe raak dinge woes.”

Volgens die bron het Steven en die hospitaal se veiligheidswagte haaks geraak en die polisie moes ingryp. “In een stadium het hy (Steven) selfs sy vuurwapen uitgehaal.”

’n “Baie gespanne” atmosfeer het etlike ure geheers en die hospitaal het na bewering selfs vroegoggend sy deure gesluit.

Die polisie het vergeefs probeer om Small se selfoon te ontsluit in ’n poging om die nag se legkaartstukke te laat pas. Hulle kon wel die selfoonkennisgewings lees en ’n polisie­beampte het na bewering gesien R1 000 is uit Small se rekening onttrek ’n halfuur voordat hy ingebring is.

’n Hooggeplaaste in rugbykringe en vriend van Small sê die oud-Bok het daardie aand by die klub The Harem in Bedfordview gekuier.

Die vriend is intiem vertroud met die verloop van gebeure maar wil nie geïdentifiseer word nie omdat hy nie die familie se toestemming het om met die media te praat nie.

Rapport het The Harem genader vir kommentaar. ’n Personeellid het net gesê die eienaar is oorsee.

The Harem se webblad beskryf dit as ’n “volwasse speelplek” wat stylvolle vermaak verskaf aan uitsoekerige kliënte. Die klub se dienste sluit in ontkleedanse, ’n “Lesbian expe­rience” en “BDSM”. Die klub is geleë in ’n voorstedelike huis in Bedford Gardens, net meer as ’n kilometer van die Bedford Gardens-hospitaal.

“James was enkellopend en is ’n volwassene. Hy het niemand verneuk nie,” sê die vriend.

“Die eienares van The Harem het nadat James ineengesak het aan ’n werknemer opdrag gegee om hom met sy kar hospitaal toe te jaag,” sê die ingeligte. Hy sê verder daar was drie kontantonttrekkings van R1 000 elk op daardie aand, maar volgens hom was dit James self wat die onttrekkings gemaak het.

Die vriend sê hoewel die nadoodse ondersoek afgehandel is, is monsters weggestuur vir toksikologie-ontledings.

Small se familie het Saterdagaand in ’n verklaring gesê hulle gaan nie op enige “stories of gerugte” reageer nie.

“Ons het ’n begrafnis om te reël en die lewe van ’n held – ’n man vir wie ons lief was – om te vier.”

* Ook in die lewe was Small nie net as ’n speler óp die veld bekend nie.

’n Tranerige Small het destyds erken dat hy sy eks, die model Christina Storm, tydens hul stormagtige verhouding van vier jaar aangerand het nadat sy met die tydskrif Fair Lady daaroor gepraat het. Die paartjie is later uitmekaar.

Small het in die vroeë 2000’s die nuus gehaal toe hy ná ’n ineenstorting met ’n ambulans na die Somerset-hospitaal in Kaapstad geneem is. Sy familie het berigte ontken dat hy sy eie lewe probeer neem het.

In 2012 het die sokkerspeler Mark Fish se eksvrou, Loui Fish Visser, in haar boek Loui Fish: Walking in My Choos beweer dat Small haar tydens hulle twee jaar lange verhouding een keer met ’n rewolwer in die huis rondgejaag het. Sy beweer sy het Small so hard geslaan dat sy kakebeen deur dokters geheg moes word.

Small het destyds haar bewerings as “pateties en hartseer” afgemaak. Hy het bygevoeg: “Ek het foute gemaak en ek het verantwoordelikheid vir my dade aanvaar en ek is trots om te sê ek het aan die ander kant uitgekom. Ek het om verskoning gevra en aanbeweeg.”

* Small se begrafnis vind Donderdag 18 Julie om 14:00 plaas op ’n plek wat later bekend gemaak sal word. Enigiemand is welkom, het die familie-woordvoerder gesê.

* Lees ook Louis de Villiers se artikel oor James Small.

Meer oor:  James Small  |  Bedfordview  |  The Harem  |  Hartaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.